Die verhoor van 'n voormalige finansiële makelaar van Bloemfontein is Maandag in sy afwesigheid in die streekhof in die stad tot aanstaande jaar uitgestel.
Jaco Cloete, wat nou in Melkbosstrand in die Wes-Kaap woon, se verhoor was vir dié week op die hofrol. Dit is uitgestel en is nou geskeduleer vir 11 tot 14 Februarie 2025.
Streeklanddros Colin Nekosie het die verhoor uitgestel omdat Cloete se vrou, wat bedlêend is, 'n rugoperasie moet ondergaan en hy na haar en die res van hul gesin moet omsien. 'n Lasbrief vir sy inhegtenisneming word tot dan oorgehou.
Cloete staan tereg op 880 aanklagte waarby meer as R39 miljoen glo betrokke is.
Hy staan tereg op 148 aanklagte van bedrog weens beleggings met 'n beloofde hoë opbrengs wat hy glo van 2005 tot 2009 aanvaar het en waarin van die beleggers die meeste van of al hul geld verloor het.
Cloete word ook aangekla van geldwassery, die oortreding van die Bankwet, die oortreding van die Wet op Beheer van Kollektiewe Beleggingskemas en artikels in die Wet op Finansiële Instellings oor die beskerming van trustgeld.
Die klaers is van Bloemfontein, Upington, Heilbron, Lichtenburg, Pretoria, Polokwane en Delmas.
Die nasionale direkteur van openbare vervolgings het toestemming gegee dat die aanklagte in die streekhof in Bloemfontein gesentraliseer mag word.
Cloete staan ook tereg op aanklag van die vervalsing van 'n testament en bedrog met 'n ander testament.
Vic de Bruyn kla aan. Johan Kramer van Kramer Weihmann-prokureurs tree namens Cloete op.



















