Andries Enslin se vet wins

Past. Andries Enslin
Past. Andries Enslin

Past. Andries Enslin het binne 12 dae 'n wins van R5 miljoen uit die pastorie van die Alberton Lewensentrum gemaak.

Enslin, 'n stigterslid van die Lewensentrum, ontken enige ongerymdhede.

Hy het die huis in die Meyersdal Eco Estate op 15 Mei 2012 vir net meer as R4,5 miljoen van die kerk gekoop, wys oordragdokumente.

Net 12 dae later het hy dit vir R9,6 miljoen aan 'n derde party verkoop. Dit is 'n wins van 109% in minder as twee weke.

'n Gemeentelid het Beeld ingelig oor die transaksie.

Luidens oordragdokumente en die Lewensentrum se oprigtingsakte wat by die registrateur van maatskappye ingedien is:

  • was Enslin ten tyde van die oordrag die enigste direkteur van die Lewensentrum, 'n niewinsgewende maatskappy;
  • moet daar altyd minstens twee direkteure aan die stuur van die maatskappy wees;
  • het Enslin Ewald Coetzee, 'n lid van die Lewensentrum-dagbestuur, volmag gegee om die pastorie aan Enslin in sy persoonlike hoedanigheid te verkoop. Enslin het dus die verkoop van die kerk se huis aan homself gefasiliteer;
  • het Enslin uiteindelik R5 miljoen meer uit die transaksie gekry as wat hy aan die kerk betaal het; en
  • is direkteure verplig om te alle tye in belang van die kerk en sy lidmate op te tree.

In Januarie 2015 het Enslin in 'n onderhoud met Beeld gesê hy is elke maand gespanne oor waar die geld vandaan sal kom om salarisse te betaal en hoe die gemeente projekte wat "die koninkryk verkondig", gaan finansier.

Vrae aan die dagbestuur

*Wie was die direkteur of direkteure van die Alberton Lewensentrum ten tyde van die transaksie?

*Watter bestuurslede van die gemeente het die transaksie goedgekeur? *Wie is die direkteur of direkteure wat Ewald Coetzee gemagtig het om die eiendom te verkoop? *Is die gemeente ingelig of is toestemming van die gemeente gevra om die eiendom aan Enslin te verkoop?

Die dagbestuur sê die transaksie was ten volle wettig en deursigtig, maar was nie bereid om notules of dokumente te wys van enige vergadering waarop die Lewensentrum se direkteure of dagbestuur so 'n transaksie bespreek het nie.

Coetzee, 'n dagbestuurslid wat in November 2015 as direkteur aangestel is, sê Beeld se navraag oor dié transaksie "vervul ons met skok".

Gerhard Hattingh, 'n lid van die dagbestuur en sedert November 2015 'n direkteur, ontken dat enige geld van die gemeente vir die koop of bedryf van die eiendom gebruik is.

Die pastorie was sedert Februarie 2011 in die mark, sê twee onafhanklike bronne. Die huis was in daardie stadium nog in die Alberton Lewensentrum se naam geregistreer.

Volgens die kopers is hulle onder die indruk gebring dat die huis aan Enslin en sy vrou, Vikki, behoort.

Hoewel Enslin as werknemer van die Lewensentrum 'n salaris kan verdien, mag hy luidens die oprigtingsakte geen vergoeding of toelaes vir direkteursdienste ontvang nie.

Hul antwoord

Ewald Coetzee het namens die dagbestuur gesê die transaksie is deur die dagbestuur van die Alberton Lewensentrum gehanteer en is "regmatig deur die kerkbestuur gedoen".

"Die transaksie was volledig binne die wet en deursigtig van begin tot einde. Alle tersaaklike belasting is verklaar en betaal," het hy in e-pos gesê. Beeld kan bevestig dat alle belasting betaal is. By verdere navraag oor die transaksie het Hattingh gistermiddag ontken dat die gemeente vir Enslin se huis betaal het."Geen geld van enige aard van die gemeente is ooit aangewend vir die koop of bedryf van die eiendom nie."Die aankoop van die huis is gefinansier deur 'n bydrae van past. Andries Enslin persoonlik, sowel as 'n verband."Die bewering dat die winste na die kerk toe moes gaan, is dus onwaar."Hattingh sê dat "daar net een direkteur" by die maatskappy aangestel is, het "geen invloed op die besluite van die dagbestuur gehad nie. Besluite is te alle tye geneem deur die hele dagbestuur".Dit bly wel strydig met die bepalings van die oprigtingsakte, wat geen uitvoerende magte aan die dagbestuur gee nie en vereis dat 'n minimum van twee direkteure aangestel moet word.Hattingh weier om die notules te verskaf waar besluite oor die transaksies aangeteken kan staan."Ons is nie van voorneme om enige dokumentasie te oorhandig nie," sê Hattingh.

  • Netwerk24 het Enslin telkemale genader om kommentaar en homook uitgenooi om ons te ontmoet. Coetzee en Hattingh het op Netwerk24 se navrae gereageer, namens die dagbestuur, waarvan Enslin deel is.
Charlea Sieberhagen en Pauli Van Wyk

SPELETJIES VANDAG

CTA