'n Beloning van R100 000 is uitgeloof vir enigiemand wat die voortvlugtende Ajay Gupta kan opspoor en in hegtenis neem.
Die private ondersoeker Paul O'Sullivan van Forensics for Justice het die beloning uitgeloof nadat dit bekend geword het dat dié Gupta-broer op die vlug geslaan het nadat die Valke op die omstrede gesin toegeslaan het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, kommunikasiehoof van die Valke, spesialisondersoekers van die polisie, het bevestig 'n reuse-soektog het begin na Ajay Gupta, wat hulle probeer ontvlug oor die ondersoek na die omstrede Vrede-suiwelprojek.
Hy sê dit is "bespiegeling" dat daar ook na Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, gesoek word, soos wat verskeie koerante Donderdag landwyd berig het.

Mulaudzi ontken ook dat Atul Gupta vroeër vandeesweek probeer het om met sy private vliegtuig van die Lanseria-lughawe by Johannesburg te vlug. Die vlieënier het toe glo geweier om met hom te vlieg omdat hy geweet het dat die Valke op die spoor van die Guptas is. Só is deur 'n Engelstalige koerant berig.
Daar is berig dat die Valke ernstig na Duduzane Zuma soek nadat hulle hom nie Woensdag in die hande kon kry nie toe hulle vroegoggend op sy Saxonwold-herehuis in Johannesburg toegeslaan het.
Die Valke het verskeie Gupta-eiendomme in Johannesburg Woensdag deursoek en verskeie mense het Donderdag in die streekhof in Bloemfontein op onder meer aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery verskyn.
Onder die agt beskuldigdes wat verskyn het, is Varun Gupta (32), 'n direkteur van Oakbay en 'n neef van die Gupta-broers. Hy is ook van Saxonwold in Johannesburg.
Boaan die lys van die agt verskyn die naam van Mbana Peter Thabethe, Vrystaatse hoof van die departement van landbou, wat glo vroeër vandeesweek by sy huis in Bloemfontein in hegtenis geneem is.

















