
Die DA het die parlement gevra om die verslae van die staatsdienskommissie (SDK) te ondersoek waarin kommer uitgespreek is oor politieke inmenging deur die uitvoerende gesag by die kantoor van die hoofregsadviseur (HRA) en die kantoor van die staatsprokureur.
Die SDK beveel in die verslae onder meer aan dat die moontlikheid oorweeg word om 'n onafhanklike kantoor van die hoofregsadviseur te stig soortgelyk aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG).
Die verslae is die afgelope week bekend gestel.
Die verslae lui dat daar in net twee boekjare R917 miljoen opgedok is vir die regskoste van 13 staatsdepartemente.
Dit terwyl die regering boonop sewe uit elke tien hofsake verloor.
Die verslae het die doeltreffendheid van die HRA, wat regsadvies aan die regering verskaf, sowel as die kantoor van die staatsprokureur, wat die regering in howe verteenwoordig, ondersoek.
Dit nadat die twee instellings vroeër onder skoot gekom het, veral vanuit die geledere van regters, wat die bevoegdheid van die personeel in die kantoor van die staatsprokureur bevraagteken het.
Verder word die gehalte van die regsadvies van die HRA ook bevraagteken. Die studie het getoon dat 26 uit die 1 232 wette wat sedert 1994 ná advies van die HRA verorden is, deur howe as ongeldig of ongrondwetlik verklaar is.
Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie, het Vrydag gesê die DA sal vra dat die verslae deur die parlement ondersoek word om te verseker die aanbevelings word in werking gestel.
Volgens haar word belastingbetalers se geld te maklik vir hofgedinge gebruik.
"Die parlement kan nie toelaat dat hierdie kwelsugtige litigasie op die belastingbetaler se koste voortgesit word nie."
Die verslag lui verder dat die HRA sy onpartydigheid en professionalisme moet handhaaf om te verseker dat, as hy sy werk doen, daar "geen onnodige druk is om te sê wat die uitvoerende gesag wil hoor nie" gegewe vorige hofervarings wat die regering in die verleentheid gestel het.
Oor politieke inmenging lui die verslag dat die HRA ontslae moet raak van die persepsie dat hy 'n begunstigde van die uitvoerende gesag is.
Die onafhanklikheid van die HRA sal dit in staat stel om onafhanklik as 'n sentrale orgaan vir alle staatsdepartemente te werk.
Die verslag lui verskeie HRA-werknemers en staatsdepartemente het tydens die SDK se studie ook die behoefte aangedui dat meer mense met regskwalifikasies aangestel moet word weens die verhoogde vraag na die HRA se dienste, wat ook deelname in parlementêre portefeuljekomitees insluit.




















