In Diepte

Die sakeplan? Steel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto:
Foto:

Zondo se tweede verslag: Voor die Guptas se koms was Denel 'n baie winsgewende onderneming, skryf Antoinette Slabbert.

1. Kies jou teiken

Vanaf 2011 was Denel op 'n groeipad. Teen 2015 was Denel 'n goed bestuurde, winsgewende en groeiende staatsonderneming met R1,9 miljard kontant in die bank, R35 miljard se bestellings en vyf agtereenvolgende skoon oudits.

2. Toets die water; wys jou krag

Die Guptaman Salim Essa maak kontak met Riaz Saloojee, uitvoerende hoof van Denel, kort ná sy aanstelling in Januarie 2012. By 'n vergadering by die Gupta-woning in Saxonwold, Johannesburg, ontmoet hy Tony en Atul Gupta en Malusi Gigaba, toe minister van openbare ondernemings en sy uiteindelike baas, en by 'n latere geleentheid vir Duduzane Zuma en iemand wat voorgestel is as Ace Magashule se seun. Die enigste doel was om die omvang van die Guptas se invloed vir Saloojee op die hart te druk.

3. Vind 'n voertuig

Saloojee bied weerstand en sê die Gupta-bende moet deur die regte kanale werk om met Denel sake te doen. Hy stel Essa voor aan Zwelakhi Ntshepe, Denel se hoof van sake-ontwikkeling deur wie die Gupta-groep bewus raak van VR Laser, 'n Suid-Afrikaanse verskaffer wat laser gebruik om staalkomponente te vervaardig. Laat in 2013 koop hulle die meerderheidsaandeelhouers uit en neem beheer oor in Januarie 2014.

4. Vee alle weerstand uit die pad...

In Mei 2014 word Lynne Brown minister van openbare ondernemings in Gigaba se plek. In Julie 2015 vervang sy die hele Denel-direksie met uitsondering van Johannes Motseki, wat toe reeds bande met die Guptas het. Die nuwe direksie is onervare en kort kritieke vaardighede, maar is die Guptas goedgesind. Die nuwe raadsvoorsitter, Dan Mantsha, is vroeër as prokureur van die rol geskrap weens ongerymdhede met sy trustrekening, maar later toegelaat.

Brown wys self Khumbudzo Ntshavheni aan as voorsitter van die oudit- en risikokomitee. Sy is tans pres. Cyril Ramaphosa se minister van kommunikasie en digitale tegnologie.

Die nuwe raad skors vroeg-vroeg vir Saloojee asook Denel se finansiële hoof en maatskappysekretaris. Die redes is versin. Daar is nooit 'n tugverhoor nie en die direksie betaal hulle maande later altesaam R10 miljoen om te loop. Ntshavheni het hierin 'n sleutelrol gespeel.

5. Kry jou lakeie in sleutelposte

Zwelakhi Ntshepe, wat Essa aan VR Laser voorgestel het, word deur die direksie gekies om waar te neem as Denel se uitvoerende hoof, al is hy onervare en redelik junior. Hy keur onwettige transaksies goed wat VR Laser bevoordeel.

Onder Mantsha se leiding staak die direksie die proses om 'n strategiese ekwiteitsvennoot te kry vir Denel Vehicle Systems (DVS), 'n filiaal wat Denel kort tevore verkry het. Dié vennoot sou R450 miljoen bygedra het van die R855 miljoen koopprys. Die direksie, departement van openbare ondernemings, nasionale tesourie en mededingingsowerhede het toe reeds die groen lig daarvoor gegee. Nadat Mantsha die transaksie kelder, laat dit Denel met die hele mandjie patats met die potensiaal om hom finansieel te breek.

6. Melk die koei . . .

In Mei 2015 teken Denel Land Systems (DLS) sonder enige mededingende tenderproses 'n kontrak wat VR Laser, nou onder Gupta-beheer, vir tien jaar die alleenreg gee om alle vervaardigde staalprodukte te verskaf ten spyte van die feit dat dié produkte intern in die Denel-groep verkry kon word. Kort daarna volg 'n soortgelyke kontrak met Denel Vehicle Systems (DVS), wat nou 15% meer betaal vir produkte wat hulle voorheen self vervaardig het. Dit vernietig prakties DVS se lewensvatbaarheid.

7. . . . tot die laaste druppel

Teen Oktober 2015 het VR Laser byna al Denel se binnelandse aankope na hulself gekanaliseer en was dit tyd om ook toegang te kry tot Denel se buitelandse besteding. Dis gedoen deur die stigting van Denel Asia, 'n gesamentlike onderneming tussen Denel en VR Laser. Beide die departemente van openbare ondernemings en finansies moes daartoe instem, iets wat die nuwe minister van finansies, Des van Rooyen, doen 'n dag ná sy omstrede aanstelling, ten spyte van sy amptenare se teenstand.

8. Die pers maak alarm

Teen dié tyd begin onthulllings in die Mail & Guardian en ander media dit vir die Guptas moeilik maak en hul planne met Denel Asië - wat in elk geval nooit kommersieel sin gemaak het nie - loop uit op niks.

9. Wat oorbly

Vandag is Denel, eens 'n internasionaal gerekende wapenvervaardiger, op sy knieë. Werknemers word nie betaal nie en likwidasie dreig. Die JSE het Woensdag verhandeling in Denel se skuldbriewe op die beurs opgeskort omdat sy finansiële resultate vir 2021 uitstaande is. Twyfel bestaan of Denel hoegenaamd as 'n lopende saak kan voortbestaan.

10. Wie moet boet

Zondo beveel aan:

*Ondersoek die hele 2015-direksie weens die skorsing van Saloojee en sy twee kollegas strafregtelik en laat hulle tot misdadige direkteurs verklaar.

*Die regspraktykeraad moet ondersoek of Mantsha geskik is om as prokureur te werk;

* Maak 'n wet wat die kwaadwillige misbruik van openbare mag soos deur Lynne Brown 'n misdaad maak met strawwe van R200 miljoen boete, of 20 jaar tronkstraf of albei.

*Ondersoek drie kontrakte wat aan VR Laser toegeken is, vir wetsoortredings.

Zondo se tweede verslag: By Transnet is so ywerig gesteel dat die spooragentskap miljarde meer vir treine betaal as wat die tender vereis, skryf Dawie Boonzaaier.

1. Verwyder die struikelblokke

Oudpres. Jacob Zuma dring in Junie 2009 by Barbara Hogan, destydse minister van openbare ondernemings, aan dat Siyabonga Gama, hoof van Transnet se vragspoorafdeling, as uitvoerende hoof van Transnet aangestel word. Hogan weier, want die Transnet-raad het verskeie ander aanbevelings gemaak. In Junie 2010 word Gama by Transnet afgedank nadat hy onregmatig afgeteken het op 'n kontrak van R18 miljoen. Zuma dank Hogan in Oktober 2010 af. Hy vervang haar met Malusi Gigaba.

2. Ontplooi jou lakeie

Brian Molefe word in Februarie 2011 as uitvoerende hoof van Transnet aangestel. Gama word onmiddellik heraangestel as hoof van die vragspoorafdeling. 'n Maand later word Anoj Singh as waarnemende finansiële hoof van Transnet aangewys.

3. Toets die water

Transnet koop in Junie 2011 95 lokomotiewe by China South Rail (CSR) teen R2,7 miljard. Molefe verseker dat CSR voorgetrek word tydens die tenderproses deur vooraf "onbehoorlik" met hulle te kommunikeer en SEB-vereistes te omseil. Die Gupta-frontmaatskappy, Regiments Asia van Salim Essa, maak sy eerste verskyning en tree vooraf as tussenganger tussen Transnet en CSR op. Regiments Asia het uiteindelik $16,7 miljoen uit die kontrak verdien.

4. Implementeer jou nuwe ‘sakeplan'

Transnet kondig in Desember 2011 'n nuwe markstrategie, ontwerp deur Molefe en Singh, aan waardeur die entiteit R300 miljard in sy verskeie afdelings wil belê voordat daar 'n werklike vraag daarna was. Die rede volgens Molefe en Singh: Die vraag na Transnet se dienste sou binne drie jaar 'n hoogtepunt bereik - Transnet moet dus die "aankope van lokomotiewe versnel" sodat die entiteit "operasioneel doeltreffend" kon wees.

5. Roep die Gupta-stormtroepe

Iqbal Sharma, 'n meeloper van die Gupta-familie, word in April 2012 as voorsitter van Transnet se verkrygings- en verkopekomitee aangewys.

6. Plunder dat dit klap

In Maart 2013 kondig Transnet die aankoop van 100 lokomotiewe by CSR aan teen R3,3 miljard. Soortgelyke lokomotiewe is voorheen teen goedkoper pryse gelewer deur ander maatskappye, maar Molefe speel 'n sleutelrol om dié tender aan te pas sodat dit aan CSR móét toegeken word. Transnet-direkteure voeg boonop 'n ekstra R740 miljoen by die koopprys sonder die Transnet-raad se goedkeuring. CSR het ook R925 miljoen uit die kontrak aan 'n Gupta-frontmaatskappy, JJ Trading FZE, betaal.

In Maart 2014 koop Transnet 1064 lokomotiewe aan teen R54 miljard by General Electric, Bombardier Transportation, CSR en China North Rail (CNR).

CSR en sy sustermaatskappy, CNR, kry weer voorkeurbehandeling tydens die tenderproses. Die koopprys van R54 miljard is boonop R15,9 miljard meer as waarvoor dié maatskappye dit oorspronklik wou voor verkoop het. Die Transnet-raad het hierdie "aansienlike toename" goedgekeur nadat Singh en Molefe tydens voorleggings gelieg het oor eskalasiekoste. Singh en Molefe se voorleggings is voorberei deur Regiments Asia - wat eindelik R189 miljoen van Transnet ontvang het vir hul "konsultasies". Regiments Asia was nie die enigste Gupta-frontmaatskappy wat by hierdie kontrak baat gevind het nie - R5,9 miljard is deur CSR en CNR aan Gupta-frontmaatskappye vir hierdie kontrak betaal.

7. Brei jou ‘sakeplan' uit

Molefe verlaat Transnet in April 2015 om by Eskom oor te neem as uitvoerende hoof. Singh sluit in Augustus by hom aan as Eskom se hoof- finansiële beampte. Gama neem oor as Transnet se uitvoerende hoof.

8. Die keerpunt

Die tesourie, onder leiding van Nhlanhla Nene en Mcebisi Jonas, wil nie val vir die Gupta-ryk se uitbreiding na ander staatsdepartemente nie. Nene het onder meer befondsing geweier vir 'n nuwe presidensiële straler teen R4 miljard, asook R1000miljard vir 'n omstrede kernkragooreenkoms met Rusland. Zuma verwyder Nene in Desember 2015, en vervang hom uit die bloute met Van Rooyen, 'n akoliet. Van Rooyen dien net vier dae as minister van finansies - markte reageer buitensporig sleg op sy aanstelling.

Zuma het geen ander keuse as om Pravin Gordhan, een van sy groot teenstanders, as minister van finansies aan te stel nie. In Mei 2016 begin die tesourie met 'n ondersoek na verskeie Gupta-frontmaatskappye, waaronder Regiments Asia, om uit te vind hoekom die maatskappy betalings so groot as R800 miljoen tussen April 2014 en Mei 2015 by Transnet gekry het.

9. GuptaLeaks klink staatskapers se doppie

Die "GuptaLeaks", 'n hardeskyf vol inkriminerende e-posse wat deur fluitjieblasers uitgelek is, illustreer in detail die Gupta-familie se houvas op Zuma en sy kabinet. Dit bevat spesifiek inkriminerende e-posse oor die koop van die 1 064 lokomotiewe in Maart 2014.

Adv. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se State of Capture-verslag wys boonop vir Molefe en Singh as vriende van die Guptas uit, en beskuldig hulle daarvan dat hulle die familie voortrek met die uitdeel van staatskontrakte by Transnet en Eskom. Zuma se posisie as president word onuithoudbaar en teen Februarie 2018 bedank hy as president nadat hy die vorige maand 'n kommissie van ondersoek teen staatskaping, teen sy wil, moes aankondig.

10. Die aanbevelings

In die tweede verslag van die kommissie teen staatskaping word aanbeveel dat wetstoepassingsowerhede moet ondersoek of Molefe, Singh en Gama vir bedrog vervolg kan word oor die aankoop van die 1 064 lokomotiewe in Maart 2014. Transnet-kontrakte ter waarde van R41,2 miljard is eindelik onregmatig toegeken tussen 2011 en 2016 - 72,21% van die totale uitbetalings van kontrakte wat deur staatskaping besmet word. In die verslag word ook aanbeveel dat Zuma se opdrag dat Gama heraangestel moes word, verder ondersoek moet word.

Antoinette Slabbert en Dawie Boonzaaier