In-diepte

Esidimeni: Nuwe tugverhore kom

Tugverhore teen die staatsamptenare wat by die Life Esidimeni-tragedie betrek is, gaan heringestel word.

David Makhura, Gautengse premier, het Woensdag voor die Life Esidimeni-bemiddelingsverhoor gesê hy is ontevrede met die uitkoms van die tugverhore van nege amptenare wat betrokke was by die verskuiwings van psigiatriese pasiënte uit Life Esidimeni-klinieke na nieregeringsorganisasies (NRO's).

Oudregter Dikgang Moseneke, voorsitter van die verhoor, het twee weke gelede vir Hanna Jacobus, adjunkdirekteur van geestesgesondheid, gepeper oor die straf vir haar rol in die tragedie.

David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Denzil Maregele
David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Denzil Maregele

In Jacobus se tugverhoor wat op 2 Junie 2017 plaasgevind het, is beslis dat sy 'n finale waarskuwing moet kry.

"Dit is om lig daarvan af te kom. Jy het skuld beken en al wat jy gekry het is 'n finale geskrewe waarskuwing asof jy laat opgedaag het vir werk," het Moseneke toe gesê.

Makhura sê dit is 'n tikkie op die pols, terwyl dit 'n klap in die gesig moes gewees het.

"Die uitkoms van die tugverhore is onaanvaarbaar. Ons gaan die tugverhore weer instel."

Moseneke sê die amptenare is aangeraai om skuld te beken en daar was nie getuienis aangebied in die tugverhoor nie.

"Dit was 'n geskrewe waarskuwing vir 143 sterftes," sê Moseneke.

Makhura meen tugverhore in die openbare dienste is 'n klugspul. Die prosesse sloer en wanneer jy daar uitkom, is jy nie skuldig bevind nie en kan jy weer werk.

"Ten spyte van die pyn, gebeur niks nie," sê Moseneke.

Dr. Gwen Ramokgopa, Gautengse LUR vir gesondheid, sê die amptenare se straf dra nie dieselfde gewig as dit waarvoor hulle gepleit het nie.

"Die straf word hersien," sê sy.

Sy sê amptenare soos dr. Barney Selebano, gewese departementshoof, en dr. Makgabo Manamela, gewese direkteur van geestesgesondheid, is reeds by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) en by die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleegkundiges aangekla.

Die verhoor duur voort.

Reneilwe Dhludhlu

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM