



Die Gupta-familie het beslis aandele gehad in die Indiese lugdiens wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) glo sover wou kry om sy vlugroete tussen Johannesburg en Mumbai te staak.
Dit was sodat Jet Airways alleenreg op die roete kon kry omdat net een lugdiens dit winsgewend kan bedryf.
Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, het vroeër vanjaar opslae gemaak toe sy beweer het die Guptas het haar in 2010 die pos van Barbara Hogan, destyds minister van openbare ondernemings, aangebied in ruil daarvoor dat sy haar invloed as voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gebruik om die SAL sover te kry om die roete na Mumbai te staak sodat Jet Airways voordeel daaruit kan trek.
Dit blyk dat die Gupta-familie waarskynlik finansiële bande met Jet Airways gehad het toe hulle Mentor die kabinetspos aangebied het.
Ajay Kumar Gupta, die familie se patriarg, asook ander Guptas se name verskyn op 'n lys van Jet Airways se beleggers wat in 2012 dividende moes ontvang, maar dit klaarblyklik nie opgeëis het nie. Dit is onduidelik of al dié Guptas, 'n taamlik gewilde Indiese van, bande met die omstrede Suid-Afrikaanse Gupta-familie het.
Nazeem Howa, woordvoerder van die Guptas se sakebelange en uitvoerende hoof van Oakbay Investments en hul mediamaatskappye, het nie op navrae oor Jet Airways gereageer nie. Hy was op reis en verskeie pogings om hom te kontak was vergeefs.
'n Airbus A330-200 van Jet Airways met Gupta-trougaste het in 2013 op die Waterkloof-lugmagbasis geland.
Die strekking van die Gupta-familie en Jet Airways se sakebande was tot dusver onbekend.
Naresh Goyal, uitvoerende hoof van Jet Airways, het in 2010 glo herhaalde pogings aangewend om met Hogan te vergader voordat sy as minister van openbare ondernemings afgedank is.
Hogan het glo bly weier en is in Oktober 2010 deur Malusi Gigaba, nou minister van binnelandse sake, vervang.
Daarna was dit 'n ope geheim dat daar op die SAL se vergaderings vanuit Gigaba se kantoor druk op die lugdiens se bestuur geplaas is om die roete na Mumbai te laat vaar.
Drie onafhanklike bronne met kennis van dié vergaderings is dit eens dat Goyal en Jet Airways noue bande met die Guptas het. Dié bronne kan nie geïdentifiseer word nie omdat hulle voormalige en huidige SAL-hooggeplaastes is.
Goyal het normale handelsgesprekke met die SAL gevoer. Volgens een van die bronne was Gigaba "direk betrokke" by talle van die gesprekke wat oor die Mumbai-roete gegaan het.
"Dit is nie normaal dat daar van ministeriële vlak af 'n rol (op sulke vergaderings) gespeel word nie," sê 'n bron. "Daar sal nooit van 'n senior politieke vlak af 'n rol wees nie. Dit was inmenging."
Nog twee bronne het gesê daar is "noue bande" tussen Goyal en die Guptas.
Die SAL se bestuur het glo geweier om onder die druk te swig en het die Mumbai-roete nie laat vaar nie. Die roete is wel verlede jaar laat vaar omdat dit nie winsgewend genoeg was nie. Jet Airways het sy roete intussen ook gestaak.
Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, het ontken dat die SAL se bestuur onder druk "uit enige oord" was om die Mumbai-roete te laat vaar. Hy het gesê as enigeeen wel onder druk was, het dit nooit vorendag gekom in die bedryfsbesluite wat oor die Mumbai-roete geneem is nie.
"Die besluit om die roete te staak, was uitsluitlik gegrond op handelsoorwegings omdat dit teen 'n verlies bedryf is."
Mayihlome Tshwete, Gigaba se woordvoerder, het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.
Jet Airways het ook nie op skriftelike navrae gereageer nie.




















