
'n Vergadering is Donderdag in 'n stampvol saal op die kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT) gehou waar lede van die bestuur ure lank onderhandel het oor wat presies studente se eise is.
Die vergadering volg nadat gewelddadige betogings gelei het tot die opskorting van klasse vir die res van die week.
Voordat die vergadering kon begin, het studente daarop aangedring dat die bestuur die borgtogvoorwaardes van die 12 studente wat verlede week in hegtenis geneem is, laat verander sodat hulle die vergadering kan bywoon.
"Dié is nie 'n vergadering vir alle studente as van ons leiers in die tronk sit nie. Ons gaan nie voort alvorens hulle nie hier is nie," het 'n student gesê.
Ná meer as twee uur van onderhandel met studenteleiers is ooreengekom dat die KSUT-bestuur se regsverteenwoordigers 'n aansoek by die hooggeregshof sal indien om die studente se borgtogvoorwaardes aan te pas.
Van die hoofbesprekingspunte is:
* Gratis, gedekoloniseerde hoër onderwys;
* Die afdanking/bedanking van dr. Prins Nevhutalu, rektor;
* Inkontraktering van werkers;
* 'n Kommissie vir rekonsiliasie en transformasie in plaas van 'n tugverhoor vir die studente wat in hegtenis is;
* Dat die viktimisering van studente en personeel deur private veiligheidsbeamptes moet ophou; en
* Dat klasse vir die res van die jaar opgeskort word totdat 'n oplossing vir gratis onderrig gekry is.
Betogers beplan ook om volgende week na die parlement op te ruk waar die mediumtermynbegrotingsraamwerk bekend gemaak gaan word.
"As die bestuur hom daartoe verbind om die eis om gratis onderrig te ondersteun, moet hy Woensdag aan die voortou van die optog wees en in solidariteit met ons staan," het 'n student met 'n EFF-T-hemp aan gesê.

















