
Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het 'n aansoek in die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om 'n kontrak van meer as R3,5 miljard vir die omstrede Afro4000-lokomotiewe ter syde te stel.
Luidens 'n verklaring deur Prasa is dít die begin van 'n formele regsproses deur sy direksie om die bevindinge van die ouditeur-generaal (OG) vir die 2014-'15-boekjaar en die openbare beskermer in haar Derailed-verslag te hanteer.
Die tender is in 2013 aan die plaaslike maatskappy Swifambo Rail Leasing toegeken, wat die 70 lokomotiewe by die Spaanse firma Vossloh España bestel het.
Rapport het vroeër vanjaar onthul die Afro4000-lokomotiewe is te hoog vir Suid-Afrika se spoorlyne.
Victor Dlamini, Prasa-woordvoerder, sê in die verklaring die agentskap het in sy aansoek gevra dat enige dispuut in 'n oop hof eerder as in private arbitrasie aangehoor moet word. Prasa wil hê die publiek moet gerusgestel word dat die "betreurenswaardige optrede" wat in die aansoek geïdentifiseer is, in die openbaar uitgelig word en dat "gepaste sanksies" opgelê word aan diegene wat hulself met belastinggeld wou verryk.
Luidens die agentskap sal hy verseker dat sy program van vloothernuwing en die modernisering van spoorvervoer in Suid-Afrika in ooreenstemming met die wet versnel word.
Prasa het in dieselfde hof 'n dagvaarding ingedien teen Daniel Mtimkulu, sy voormalige hoofingenieur, wat hom as 'n doktor voorgedoen het voordat Beeld sy vals kwalifikasies onthul het.
Ingevolge die dagvaarding wil Prasa vergoeding, bonusse en reisuitgawes wat bykans R20 miljoen beloop, by hom terugeis.
"Ons het 'n besluit om te maak - tussen om terug te staan in die gesig van bewerings van ongehinderde bedrog, korrupsie en onreëlmatighede wat deur die OG en die openbare beskermer uitgelig is - en om die maatskappy skoon te maak op 'n manier wat 'n duidelike boodskap stuur . . . dat die plundery van die openbare beursie nie geduld sal word nie," lui die verklaring.




















