
Oudregter Dikgang Moseneke, wat die Life Esidimeni-bemiddelingsverhoor gelei het, gaan sy betaling vir sy werk met die verhoor skenk aan regstudente om "jong toegewyde vroue en mans te leer van die Grondwet en om hulle te oorreed om in die beroep te bly waar hulle die kwesbares teen die magtiges kan verdedig."
Moseneke het dit Maandag bekend gemaak toe hy sy waarnemings oor die verhoor gelees het.
"Ek is toepaslik aangemoedig om my arbitrasiegeld aan verkose regsfakulteite te skenk," het hy gesê.
Dit is nog onseker hoeveel hy sal skenk en aan watter regsfakulteite.
Moseneke het in sy bevinding gesê elke familie van 'n psigiatriese pasiënt wat in die Life Esidimeni-tragedie dood is, asook elke oorlewende pasiënt en hul familie, moet R1,2 miljoen van die staat kry as vergoeding.
Hy het gesê die staat moet dit binne die volgende drie maande as 'n enkelbedrag betaal.
Daarvan is R20 000 vir die begrafniskoste, R180 000 vir die emosionele skok en sielkundige trauma en R1 miljoen omdat hul regte luidens die Grondwet van hulle ontneem is.
Hy het gesê die R1,2 miljoen moet voor 19 Junie uitbetaal word.
Minstens 144 psigiatriese pasiënte is dood nadat hulle in 2016 uit Life Esidimeni-klinieke na nieregeringsorganisasies (NRO's) en staatshospitale verskuif is.
Dit sal 'n enorme onreg wees as hier nie vervolgings kom nie.
Die bemiddelingsverhoor, wat by die Emoyeni- konferensiesentrum gehou is, het in 2017 begin en is Maandag afgehandel. Dit het die Gautengse regering bykans R47 miljoen gekos.
Familielede van die pasiënte, staatsamptenare, klinici, kundiges en eienaars van nieregeringsorganisasies (NRO's) het sedert Oktober in die verhoor getuienis gelewer.
Regspanne wat die families verteenwoordig van die psigiatriese pasiënte wat in die tragedie dood is, sowel as dié van die pasiënte wat oorleef het, het hul slotbetoë vroeg in Februarie voorgelê.
Moseneke het in sy uitspraak gesê die saak "kan nie het hier gelos word nie".
"Dit sal 'n enorme onreg wees as hier nie vervolgings kom nie," het Moseneke gesê.
Hy het bygevoeg dat die sorg van mense met psigiatriese siektes in die hele land hersien moet word. Daar is herhaaldelik verwys na "onmenslike behandeling" en dit eindig nie by dié saak nie.
Moseneke het na van die NGO's se geriewe verwys as "valstrikke van die dood en plekke van marteling".
Hy het gesê die staat het die Grondwet oortree deur sy gebrek aan behoorlike versorging van die psigiatriese pasiënte.

















