Die hof se bevinding dat die nalatigheid van 'n voormalige Gautengse LUR vir gesondheid in Gauteng en die voormalige direkteur van die Gautengse gesondheidsdepartement tot die dood van nege psigiatriese pasiënte by Life Esidimeni gelei het (12.07), weerspieël ons howe se strewe na die ewewigtige toepassing van reg en geregtigheid.
Die skandalige optrede van senior politici en amptenare in die betrokke departement, gaan nie ongesiens verby nie.
Psigiatriese pasiënte het nie die vermoë om altyd objektief en rasioneel oor hul eie toekoms te besluit nie en word dus geklassifiseer as staatspasiënte. Die staat neem dié funksie oor en sulke pasiënte word meestal in die staat se psigiatriese geriewe versorg.
Hierdie pasiënte behoort te alle tye met die nodige empatie, respek en bekwame mediese sorg behandel te word.
Om hulle af te maak as "tweedehandse" burgers van die land, is 'n menseregvergryp. Dis 'n skande en onreg wat te alle tye verhoed moet en behoort te word.


















