
Die openbare verhore oor die Vrede-suiwelprojek het Donderdag begin met Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), wat talle lede van die gemeenskap gevra het "wat hulle verloor het".
Die verhoor word gehou in die Mhlabunzima-gedenksaal in Thembelihle, in Vrede in die Vrystaat, om inligting by gemeenskapslede te kry wat veronderstel was om voordeel uit dié projek te trek.
Die ondersoek spruit onder meer uit beweringe dat die Guptas deur middel van hul maatskappy Estina meer as R300 miljoen ontvang het, pleks daarvan dat arm swart boere bemagtig is. Ace Magashule, destyds premier van die Vrystaat, en Mosebenzi Zwane, destyds LUR vir landbou, word ook by beweringe van ongerymdhede rondom dié projek betrek, wat in 2013 begin het.
"Die ondersoek sal fokus op wat gebeur het, hoe julle as begunstigdes gekies is, wat vir julle belowe is en wat julle verloor het," het Mkhwebane gesê.
Makhosini Dlamini het in Zoeloe vertel hoe Zwane op 'n vergadering in dié einste saal vir hom en ander kleinboere oortuig het om suiwelboere te word.
Volgens hom het Zwane vir hom gesê om sy 27 koeie te verkoop omdat die provinsie vir hom koeie sal gee. Zwane het nie die belofte gestand gedoen nie, het Dlamini gesê.
*Meer volg later.










