OB se Gupta-verslag kom dié week

Die land behoort voor Vrydag te weet of lede van die Gupta-familie in landsake ingemeng het deur ANC-lede ­kabinetsposte aan te bied.

Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), het gister gesê sy sal die volledige verslag - wat al in politieke kringe bestempel is as haar vernaamste - binne dae bekendstel, voordat sy Vrydag haar pos neerlê.

Indien sy bevind die Guptas het wel ingemeng, wag daar 'n verdere kritieke periode vir pres. Jacob Zuma met sy teenstanders wat toenemend vra dat hy bedank of afgedank word.

"Dit gaan beslis meer druk op Zuma plaas," het Ebrahim Fakir, politieke ontleder, gister gesê.

Madonsela het gister in Brits gesê die terugvoering oor beweerde staatskaping gaan 'n finale verslag wees.

"Ons weet mense sê ons stel die voorlopige verslag op. Ons het ná die bekendmaking van die Nkandla-verslag gesê ons gaan nie meer voor­lopige verslae bekendmaak nie."

Sy sê aan Rapport die verslag word "soos ons hier praat" op verskillende plekke en in dele geskryf - klaarblyklik om te voorkom dat dit uitlek soos in die verlede al gebeur het.

Die afgelope twee weke is kennis­gewings aan almal gestuur oor wie sy bevindings maak.

"Dit is soortgelyk aan 'n tussentydse verslag waarin die ontvangers daarvan verwittig word dat hulle betrek word. Hulle kon terugkom om hulle teen die bewerings te verweer."

The Citizen het Woensdag berig ­Madonsela het met een van die Gupta-broers, Ajay, en sy regsverteenwoor­diger vergader. Donderdag het sy 'n vier uur lange ontmoeting met Zuma gehad.

Sy het gesê dié byeenkoms was "hoflik", maar sy het nie veel antwoorde van hom gekry nie.

Madonsela het ná die vergadering in 'n verklaring gesê Zuma se regsverteenwoordiger het geargumenteer die ondersoek moet oorgelaat word aan Madonsela se opvolger, adv. Busisiwe Mkhwebane, wat Saterdag by haar oorneem. Hy het aangevoer Madon­sela het nie genoeg tyd om die ondersoek te voltooi nie.

Madonsela het haar ondersoek in Maart begin nadat sy deur die Katolieke Dominikaanse Orde versoek is om ondersoek in te stel of die Guptas aan adj.min. Mcebisi Jonas en die ANC-veteraan Vytjie Mentor kabinetsposte aangebied het. Die orde wou ook weet of die Guptas geweet het van die aanstelling van Des van Rooyen as minister van finansies in Desember verlede jaar, sowel as die twee senior adviseurs wat bande met die Guptas het.

Die Gupta-familie het volgehou Mentor en Jonas lieg.

Jacob Rooi

SPELETJIES VANDAG

CTA