Die ondersoek na die misbruik van belastinggeld by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) kos belastingbetalers glo al R80miljoen en daar is nog hoegenaamd geen einde in sig nie.
Werksmans Attorneys is in Augustus verlede jaar aangestel om die ondersoek te hanteer en het sedertdien 1,4miljard dokumente bymekaargemaak.
Minstens 37 kleiner ondersoeke het uit die oorspronklike ondersoek gespruit en van die ondersoekwerk is verder gesubkontrakteer. Volgens een ingeligte na aan die ondersoek "sal 'n leër van 1000 ondersoekers nie binne die volgende jaar al die werk gedoen kry nie".
Dit kan die Prasa-ondersoek binnekort die duurste ondersoek nóg maak - selfs duurder as jare lange kommissies van ondersoeke wat kantore moes huur en heeltydse ondersoekers moes aanstel.
Bernard Hotz, Werksmans se hoof van die ondersoek, wou die afgelope week nie kommentaar lewer oor waarvoor die belasting-ondersoekgeld aangewend word nie omdat hulle 'n vertroulikheidsooreenkoms met Prasa het.
Die afgelope week was daar 'n woordeoorlog tussen Popo Molefe, voorsitter van Prasa se direksie, en Dipuo Peters, minister van vervoer, oor of Peters wel opdrag gegee het dat die ondersoek gesluit word en of die ondersoekers net moet opskud.
Dit het 'n politieke storm ontketen met opposisiepartye, vakbonde en ander wat Peters beskuldig het van inmenging om toe te smeer.
Peters het beweer haar brief aan Molefe het bloot bedoel die ondersoek kan nie onbepaald voortduur met belastinggeld nie.
"Die minister het 'n punt beet," meen André Prakke, 'n geoktrooieerde rekenmeester en forensiese ouditeur wat onder meer die Sharemax-skandaal ondersoek het.
"Dit lyk asof die ondersoek se opdrag eerstens nie behoorlik bepaal is nie en tweedens reeds 'n enorme rekening van R80miljoen opgelewer het. Daar is duidelik ook politieke ondertone en ego's ter sprake en boonop soveel betrokkenes in die ondersoek dat hulle oor mekaar val."
Hy wys daarop dat baie van die beweerde ongerymdhede reeds deur die ouditeur-generaal en openbare beskermer ondersoek is. Rapport het vroeër breedvoerig berig oor Prasa se aanskaffing van lokomotiewe en tientalle bedenklike transaksies. Die ouditeur-generaal en die openbare beskermer het al bevindings gemaak wat opgevolg kan word.
"Daar was dus reeds 'n stewige basis vir die ondersoek. Boonop het die forensiese ouditeurs SizweNtsalubaGobodo voor dit nóg 'n ondersoek gedoen.
"Die Valke en die teenkorrupsie-eenheid is nou betrokke. My vraag is wie maak seker dat onnodige of dubbele ondersoekwerk nie gedoen word nie? Met 'n forensiese ondersoek en vervolging wat daaruit kan spruit, moet 'n mens versigtig wees om nie bewyse te kontamineer nie.
"Wie gaan in die hof pa staan en getuig dat hy/sy kennis dra van al die inligting in die dokumente?"
Volgens Prakke kos 'n senior forensiese ondersoeker tot R5500 per uur en die mees junior een omtrent R750.
"Dít is hoekom jy presies moet weet wat jy gaan ondersoek voor jy begin en tot waar jy daarmee gaan aanhou. Wat reeds verkwis is weens korrupsie, word dus net 'n groter verlies vir belastingbetalers," sê Prakke.
Die ondersoek dui tot op hede op minstens R14miljard se verkwisting en daar is al 'n paar hofsake aanhangig gemaak in 'n poging om geld terug te kry.
Manny de Freitas, die DA se woordvoerder oor vervoer, sê Peters het in die eerste plek die ondersoek onderskryf.
"Die hele Prasa-sage is 'n gemors. Aan die een kant durf die ondersoek nie nou voortydig gestaak word nie. Aan die ander kant kan die minister minstens 'n hersiening van die opdrag gelas.
"Dit is ironies dat dit sedertdien ook 'n gegewe is dat Prasa onder Lucky Montana meer doeltreffend in die algemeen bestuur is terwyl dit tans in sy geheel wanfunksioneel is," sê De Freitas.
Dís wat ander ondersoeke kos
* Marikana-kommissie: Regter Ian Farlam (voorsitter) het 300 werkdae sedert 2012 geneem om die dood van 44 mense aan die hand van die polisie te ondersoek.
Die verslag is in Maart 2015 voltooi en het R153miljoen gekos.
Die departement van justisie het gesê dit is gefinansier deur geld weg te vat van ondersoeke met 'n laer prioriteit.
* Seriti-kommissie: Regter Willie Seriti moes sedert 2011 die multimiljardrand-wapentransaksie ondersoek om te bepaal of al die oorspronklike ooreenkomste wel nagekom is en of enigiemand onregmatig daarby baat gevind het.
R137miljoen later het hy in sy finale verslag vroeër vanjaar gesê dat hy niks verkeerd kon kry nie.
* KPMG-ondersoek: Die forensiese ondersoek na die werk van die nou omstrede eenheid by die belastinggaarder is in Desember 2014 gelas. Dit was volgens KPMG nie 'n volledige forensiese ondersoek nie.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het die bevindings bevraagteken as "ongegronde bewerings sonder enige stawing". Die ondersoek het R23miljoen gekos.

















