Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) volg die getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping met die oog op moontlike ondersoeke.

Waar nodig, sal vorige ondersoeke ook heropen word, sê Nazreen Pandor, woordvoerder van die SOE.
Adv. Mahlodi Muofhe, voormalige spesiale raadgewer van oudminister Ngoako Ramatlhodi, is aangewys as voorsitter van 'n komitee van die SOE wat na aanleiding van dié getuienis, veral oor Bosasa se bedrywighede, aanbevelings oor verdere ondersoeke sal maak.
Andries van Tonder, voormalige finansiële hoof van dié maatskappy, sit Woensdag sy getuienis voort nadat sy oudkollega Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, opspraakwekkende getuienis gelewer het oor hoe Bosasa en pres. Jacob Zuma, asook ander politici en amptenare jare lank by korrupsie betrokke was.
Die SOE het in 'n verklaring gesê hy neem veral kennis van die talle verwysings in Agrizzi se getuienis na 'n vorige SOE-ondersoek na die departement van korrektiewe dienste.
Agrizzi het getuig hoe amptenare van dié departement miljoene rande by Bosasa gekry het. Hy het ook getuig dat Bosasa staatslui omgekoop het om die SOE se ondersoek na Bosasa te beïnvloed.










