Pres. Cyril Ramaphosa het hom in sy staatsrede op 10 Februarie verbind tot sperdatums vir projekte waarmee die regering die ekonomie wil hervorm. Rapport het gaan kyk hoe sake vorder. Dawie Boonzaaier berig.
1. Spertyd - 28 Februarie: Tenders vir die eerste fase van Umzimvubu-waterprojek goedgekeur.
Nee, daar kort geld
Die tenders vir hierdie multimiljardrandprojek in die noordooste van die Oos-Kaap is in Februarie uitgereik, maar die suksesvolle bod is nog nie aangekondig nie en daar is geen aanduiding van wanneer dit sal gebeur nie.
"TBC," oftewel to be confirmed (moet nog bevestig word), het Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, gesê toe hy in April in die parlement gevra is wanneer die projek voltooi sal word. Die projek sloer al sedert 2014 toe oudpres. Jacob Zuma dit aangekondig het. Hy het beloof dit sal werk skep vir 7 000 om damme te bou. Die beplande Ntabelanga-dam sal 490 miljoen m³ water kan hou, terwyl die Lalini-dam 232 miljoen m³ water sal kan hou.
"Ons regering sal nie rus totdat ons mense toegang tot blyplek, water en kos het nie," het Zuma met die aankondiging 'n maand voor die verkiesing gesê. "En asseblief, gaan stem in die verkiesing," het hy bygevoeg.
Vier ministers van water en sanitasie en agt jaar later, is daar steeds geen vordering nie.
Mchunu het gesê daar is baie uitdagings, waarvan finansiering die grootste is. "Die proses van tenders vir die verkryging van konstruksiemateriaal is aan die gang. Alternatiewe opsies word ook oorweeg vir die voltooiing van die konstruksie van toegangspaaie (na die damme)."
***
2. Spertyd - 31 Maart: Okosa veil hoëfrekwensiespektrum op.
Ja, maar . . .
'n Hofaansoek van Telkom oor die proses wat gevolg is met die veiling van die radiofrekwensiespektrum het veroorsaak dat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) sy sperdatum misgeloop het om dié frekwensie op te veil.
Telkom was ontevrede oor Okosa se beperking op die hoeveelheid spektrum - die ruwe netwerkvermoë wat operateurs gebruik om tussen sellulêre torings en mobiele toestelle te kommunikeer - wat elke operateur kon kry. 'n Skikking is op 11 April buite die hof bereik en die telekommunikasiebedryf het eindelik vir die eerste keer in langer as 'n dekade nuwe spektrum gekry.
***
3. Spertyd - 31 Maart: Wetgewing vir die totstandkoming van 'n nasionale agentskap vir waterinfrastruktuur word vir kommentaar gepubliseer.
Nee, daar is niks
Volgens Ramaphosa sou die wetgewing vir hierdie nuwe agentskap, wat die regering in staat stel om in te gryp wanneer munisipale waterstandaarde misluk, "binne 'n maand" gepubliseer word vir openbare kommentaar.
LP's op die portefeuljekomitee vir water en sanitasie het egter nog nie eens konsepwetgewing onder oë gehad nie.
Die departement van water en sanitasie het wel op 2 Maart konsultasies met belanghebbendes gehou oor die wetgewing, en toe beloof dat 'n "finale weergawe" teen Julie voor die parlement sou dien.
Oor die huidige status van die wetgewing het die departement nie kommentaar gelewer nie.
***
4. Spertyd - 31 Maart: Landwye oorskakeling van analoog- na digitale TV-uitsendings klaar.
Nee, maar . . .
Khumbudzo Ntshavheni, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, se plan om die analoog-televisiesein af te skakel, is op 29 Maart deur die hooggeregshof in Pretoria gekelder.
Die hof het besluit die afskakeling van die sein moet van einde Maart tot einde Junie uitgestel word nadat e.tv 'n aansoek ingedien het om die aanvanklike sperdatum uit te stel omdat te min huishoudings al dekodeerders het.
Volgens e.tv se hofstukke kon 'n geraamde 3,75 miljoen huishoudings met analoog-televisiestelle aansoek doen vir gesubsidieerde dekodeerders om hul televisiesein te "migreer". Teen middel Maart is minder as 1,12 miljoen aansoeke ingedien, en net sowat 660 000 huishoudings se dekodeerders was geïnstalleer. Dit sou meer as 8 miljoen mense sonder TV gelaat het.
Die hooggeregshof het beslis dat dekodeerders vir meer as 507 000 huishoudings, wat teen 31 Oktober 2021 daarvoor geregistreer het, nie later nie as 30 Junie geïnstalleer moet word. Sowat 261 000 huishoudings wat die laaste paar maande geregistreer het, moet teen einde September hul toestelle ontvang.
***
5. Spertyd - 30 April: Die departement van hoër onderwys begin 10 000 werklose studente van TVET-kolleges in werke plaas.
Sal ons ooit weet?
Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het reeds op 4 Maart op 'n perskonferensie sy departement se steun vir die president se belofte bevestig.
Toe Rapport die afgelope week aanklop om te hoor hoeveel werklose studente al geplaas is, het Ishmael Mnisi, Nzimande se woordvoerder, vir Rapport aangeraai om na Nzimande se begrotingstoespraak Donderdag in die parlement te luister.
In sy toespraak het Nzimande bloot sy departement se steun bevestig, met geen aanduiding van hoeveel studente al geplaas is, of teen wanneer die projek afgehandel sal wees nie.
***
6. Spertyd - 30 April: Transnet begin die proses om derde partye toegang te gee tot sy spoornetwerk.
Ja
Die president het 16 tydgleuwe op die houerkorridorspoornetwerk tussen Durban en City Deep in Gauteng aangewys waartydens derde partye toegang sal kry tot die spoornetwerk.
Tenders, wat op 2 April geopen het, sluit op 31 Mei vir derde partye. Die gekose derde partye sal op 30 Junie aangekondig word.
Dit sal die eerste keer in die 160 jaar lange geskiedenis van Suid-Afrika se spoornetwerk wees dat private operateurs daarvan gebruik kan maak.
***
7. Spertyd - 21 Mei: 'n Maatskaplike ooreenkoms om die ekonomie te laat groei, werk te skep en hongersnood te bekamp.
Moenie jou asem ophou nie
Rapport het vir Tyrone Seale, Ramaphosa se woordvoerder, gevra of die ooreenkoms teen komende Saterdag gereed sal wees, maar Seale het nie daarop geantwoord nie.
In sy toespraak het Ramaphosa aangedui dat die ooreenkoms sal voortbou op die regering se ekonomiese herstel- en heropbouplan (ERRP).
Mondli Gungubele, minister in die presidensie, het enkele dae ná die staatsrede aangedui dat 'n voorloper tot die ooreenkoms, 'n kommunikasie- en betrokkenheidsplan, deur die regering uitgereik sou word om "die samelewing te betrek by die regering se nuwe sosiale ooreenkoms".
Rapport kon geen bewyse van hierdie plan se bestaan vind nie.















