Die maatskappy wat in die spervuur is nadat die Valke Donderdag op Noordwes se premierskantoor toegeslaan het, sê hy het 'n "geldige en wettige kontrak" met die provinsiale regering.
Edgar Mabothe, bestuurshoof van Nepo Data Dynamics, sê die uitlek van dokumente op sosiale media oor uitbetalings aan die maatskappy was "misdadig".
Brian Setswambung, premier Supra Mahumapelo se woordvoerder, het Donderdag gesê die altesame
R205 miljoen wat reeds aan Nepo Data uitbetaal is, is nié ongerymd nie, maar dat die premierskantoor sy volle samewerking aan die Valke gee.
"Ons het niks om weg te steek nie."

Nepo Data, wat onder meer help met internet- en bemarkingstelsels in sowel die premiers- as ander regeringskantore in Noordwes, het 'n driejaarkontrak met hulle. Dit strek tot in 2019.
Kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder in Noordwes, sê die besoek aan en beslaglegging op dokumente in die kantoor van onder andere die premier hou verband met 'n ondersoek na wanbestuur, bedrog en korrupsie.
"Sowat R160 miljoen is hierby betrokke. Niemand is in hegtenis geneem nie. Die dokumente waarop in verskillende kantore beslag gelê is, sal help in die ondersoek waaroor ons nie nou meer besonderhede bekend kan maak nie."
Mabothe van Nepo Data sê sy maatskappy ontvang geen betalings van die Noordwes-regering voordat die gehalte van hul werk afgehandel, gekontroleer en skriftelik bevestig is nie.
" 'n Faktuur moet ook verskaf word voordat ons betaal kan word. Ons kontrak met die premierskantoor is in ooreenstemming met tersaaklike beherende strukture en prosesse. Ons sal voortgaan om saam met die premierskantoor te werk om te verseker dat die regering se wetlike en regulatoriese vereistes nagekom word. Ons sal steeds ons kontraktuele verpligtinge nakom."
Sowel die VF Plus as die DA het die beslaglegging verwelkom as " 'n stap in die regte rigting."
Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, sê dis "onaanvaarbaar dat staatskoffers gestroop en belastingbetalers se geld langer gesteel word deur blatante tenderbedrog en korrupsie".
Volgens Groenewald buit "sekere diensverskaffers" die staat al die afgelope 24 jaar onder die ANC-regering se bewind uit.
"Noodsaaklike geld vir infrastruktuurontwikkeling en die verbetering van die mense van Noordwes se lewe word deur middel van frontmaatskappye aan kaders uitbetaal. Die regerende party behoort hom te skaam dat die hoogste leierskap in die provinsie hierby geïmpliseer word."
Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, sê die "wiele van geregtigheid" draai eindelik ná jare waartydens mense in Noordwes (deur die ANC-regering) "besteel" is.
"Die premier moet nou die beweringe teen hom in die gesig staar. Die Valke behoort hul ondersoek uit te brei na almal wat die premier ondersteun en beskerm."



















