
Die Valke se ondersoekspan het uitgebreide onderhandelings met Ajay Gupta se regspan voordat dié moontlik na vore sal kom.
Gupta se regspan stel volgens die Valke glo "heelwat eise" in die onderhandelinge.
Die ondersoek hou verband met die Vrede-suiwelprojek van R250 miljoen wat deur Estina, 'n maatskappy met Gupta-bande, bedryf is.
Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, sê "indien die ondersoekers meen dat die onderhandeling nie meer in goeie trou gedoen word nie, sal die lasbrief uitgevoer word".
Hy wou nie verklap waar Gupta hom bevind nie.
"Niks keer ons om die lasbrief uit te voer en hom in hegtenis te neem nie."
Mulaudzi het vroeër in reaksie op berigte dat Gupta se regspan nie 'n lasbrief onder oë gehad het nie, gesê daar is 'n lasbrief uitgereik.
"Ons het genoeg bewyse teen hom om 'n lasbrief uit te reik. Dit is nie nodig om die lasbrief vooraf aan hom te toon voor inhegtenisneming nie."
Volgens hom sal die ondersoekers besluit wanneer Gupta as 'n voortvlugtige op hul lys van gesoekte mense op die polisie se webwerf verskyn en elders versprei word.
"Sover ek weet, plaas Interpol outomaties ook ons gesoekte misdadigers op sy lys, andersins moet ons hulle versoek om dit te doen, indien nodig."
Mulaudzi wou nie verdere inligting oor die ander verdagtes wat gesoek word, verskaf word nie.
"Daar is ook 'n tweede deel in die ondersoek. Ek kan nie sê wanneer dit in werking gestel sal word nie."
Die Valke het kort ná oudpres. Jacob Zuma se bedanking op verskeie persele in Johannesburg, soos die Gupta-huis in Saxonwold, en in Bloemfontein toegeslaan.
Agt mense is in hegtenis geneem weens onder meer aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog.
Een van hulle was Varun Gupta (32), 'n direkteur van Oakbay en 'n susterskind van die Gupta-broers.
* Die NVG se beslagleggingseenheid het intussen 'n bevel gekry om bates van R220 miljoen uit die omstrede Estina-suiwelprojek te bevries.
Vyf van die maatskappye waarvan Atul Gupta (Ajay se broer) 'n direkteur en aandeelhouer is, doen nou in die hooggeregshof in Bloemfontein aansoek dat dié bevel tersyde gestel word.
Atul Gupta in sy persoonlike hoedanigheid, wat glo R10 miljoen uit die projek gekry het, en Bank of Baroda waardeur die meeste van die geld glo versprei is, is ook aansoekers.
Die beslagleggingseenheid staan die aansoek teen.
Die aansoek word op 1 Maart deur regter Fouché Jordaan aangehoor.



















