Vermiste Gupta-straler in Dubai opgespoor

Die Gupta-straler is in Dubai, bevestig 'n vliegtuigopsporingsmaatskappy.

Die Gupta-maatskappye Oakbay Investments, Westdawn Investments, asook Atul en Chetali Gupta, het ingevolge 'n hofbevel 14 dae oor om die Bombardier 6000-straler aan sy finansier terug te besorg.

Die Gupta-straler, ZS-OAK.Foto: Adrian Munro
Die Gupta-straler, ZS-OAK.Foto: Adrian Munro

So nie word die vliegtuig se registrasie, ZS-OAK, geskrap en kan hy nêrens heen vlieg nie. Dié bevel is Maandag deur die hooggeregshof in Johannesburg uitgereik ten gunste van EDC, die Kanadese finansier, en Stoneriver, die Kanadese verskaffer van die vliegtuig.

Die Guptas het die vliegtuig se opsporingstelsel op 4 Februarie afgeskakel. Daarna is dit in Rusland, Indië en Dubai opgemerk.

Ian Petchenik, woordvoerder van Flightradar24 AB in Chicago, het Maandag bevestig dat die vliegtuig, wat op 5 Maart op die Dubai World Central Airport geland het, nog nie weer opgestyg het nie.

Dit is egter skrale troos vir die vliegtuig se finansier en verskaffer, wat die vliegtuig wil terugkry.

Kenners van internasionale reg en politiek reken as die Guptas die hofbevel ignoreer en Suid-Afrika en Dubai nié 'n diplomatieke ooreenkoms oor die vliegtuig kan bereik nie, dit in Dubai gaan bly.

Luidens die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling se webblad het Suid-Afrika nie 'n wederkerige afdwingingsooreenkoms met Dubai nie.

Dr. Theo Broodryk, hoof van die Universiteit Stellenbosch se regskliniek en kundige op die gebied van siviele reg, sê sonder 'n bestaande ooreenkoms moet die ander land se regstelsel bestudeer en bepaal word in watter mate 'n hof in daardie land 'n Suid-Afrikaanse hofbevel kan afdwing al dan nie.

By navraag oor die moontlikheid van 'n toekomstige ooreenkoms het prof. Hussain Solomon, kenner van internasionale politiek aan die Universiteit van die Vrystaat, gesê hy is bewus van die Valke se onderhandelings oor twee kwessies met Dubai en Indië.

"Die een is glo 'n uitleweringsooreenkoms en die ander repatriasie van geld wat onwettig van Suid-Afrika oorgeplaas is," sê Solomon.

Prof. Hennie Strydom, professor in internasionale wetgewing aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), benadruk dat twee state wat nie 'n uitleweringsooreenkoms het nie, wel deur middel van onderhandelings 'n ad hoc-ooreenkoms kan bereik.

Dr. Theo Broodryk, hoof van die Universiteit Stellenbosch se regskliniek en kundige op die gebied van siviele reg, sê sonder 'n bestaande ooreenkoms moet die ander land se regstelsel bestudeer en bepaal word in watter mate 'n hof in daardie land 'n Suid-Afrikaanse hofbevel kan afdwing al dan nie.

Hoewel die benadering in buitelandse jurisdiksies verskil, kan 'n land volgens Broodryk in uitsonderlike omstandighede wel bereid wees om 'n Suid-Afrikaanse hofbevel in die buiteland af te dwing. Regsvereistes verskil van land tot land.

Vlad Movshovich, EDC en Stoneriver se prokureur, wou nie sê of die aansoekers verdere stappe teen die Guptas oorweeg as hulle die hofbevel verontagsaam nie.

Om die vliegtuig weer op Suid-Afrikaanse bodem te kry, moet "verskeie internasionale instrumente", soos byvoorbeeld die Verenigde Nasies se konvensie teen korrupsie, wat deur die Verenigde Arabiese Emirate en Suid-Afrika bekragtig is, en die konvensie oor die internasionale erkenning van lugvaartregte in ag geneem word, reken Broodryk.

By navraag oor hoe die onderhandelings met Indië en Dubai vorder, het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê hulle het ooreenkomste en onderhandelinge met verskeie lande, maar wou nie spesifiseer of die lande Indië en Dubai insluit nie.

"Wanneer ons egter 'n ooreenkoms met 'n land wil sluit, sal ons dit doen."

Vlad Movshovich, EDC en Stoneriver se prokureur, wou nie sê of die aansoekers verdere stappe teen die Guptas oorweeg as hulle die hofbevel verontagsaam nie. "My kliënte is egter baie dankbaar oor Maandag se bevel," sê hy.

Netwerk24 het vertroulik verneem dat Atul en Chetali Gupta dit oorweeg om teen die regter se uitspraak te appelleer.

Ahmed Gani, die Guptas se regsverteenwoordiger, het egter gesê hy mag nie kommentaar lewer of op gerugte reageer nie.

Jana Marx

SPELETJIES VANDAG

CTA