In-diepte

Willem Kruger-raaisel: Lodge-eienaars verbreek stilte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die eienaars van die Henbase Lodge in Morgenzon, Mpumalanga, waar die jong boer Willem Kruger ná 'n rampartytjie met sy bakkie in die Vaalrivier beland het, vertel hoe hulle nou die prys betaal vir wat hulle glo 'n tragiese fratsongeluk was.

Johann Claassen (56), beter bekend as Brahman, en sy vrou, Ansie (54), was genoodsaak om weens "vals, misleidende en negatiewe" beriggewing vandeesweek 'n gesinspiekniek, wat hulle vir 18 Maart beplan het, uit te stel, nadat verskeie rolspelers weens die deurlopende polisieondersoek hul kommer oor die aanbied van die piekniek uitgespreek het.

Johann Claassen en sy vrou, Ansie, eienaars van die Henbase Lodge in Mpumalanga, maak hart oop oor die tragedie van Willem Kruger se dood. Foto: Deaan Vivier
Johann Claassen en sy vrou, Ansie, eienaars van die Henbase Lodge in Mpumalanga, maak hart oop oor die tragedie van Willem Kruger se dood. Foto: Deaan Vivier

Elf Afrikaanse kunstenaars, onder wie Steve Hofmeyr, Leah, Robbie Wessels, Brendan Peyper en Bernice West, sou opgetree het.

"Die piekniek was volbespreek. Die mense het baie daarna uitgesien. Dit was 'n line-up soos wat ek nie glo al gebeur het hier in ons distrik nie. Dis 'n groot slag," sê Claassen.

Aanvanklik is aanvaar Kruger het waarskynlik verdrink, maar daar word die laaste ruk wyd bespiegel oor die omstandighede rakende sy dood.

‘n Advertensie van die gesinspiekniek, wat intussen gekanselleer is. Foto: Facebook
‘n Advertensie van die gesinspiekniek, wat intussen gekanselleer is. Foto: Facebook

"Ek was al in 'n stadium die moordenaar, toe die moordverdagte, toe die persoon wat dit toesmeer. Ek het nie nodig om enigiets toe te smeer nie. Ek het my eie besigheid opgebou en ek werk al my hele lewe lank flippen hard. Ek het met niks begin nie en voor 30 weer met niks geëindig nie. Ek het weer opgestaan en ek is vandag trots op waar ek is. 'n Mens probeer sterk wees, maar dis moeilik," sê Claassen in 'n openhartige onderhoud met Netwerk24 langs sy vrou, Ansie, oor die gebeure wat daardie Saterdag, 12 November, ook hul lewe sou verander.

Claassen sê daar was beslis geen "komplot" tussen hom of enigiemand anders om enige gebeure van die partytjie te "verdoesel" nie.

"As hier 'n ding sou moes uitkom dat daar iets anders gebeur het, dan sal ek self geskok wees."

Die spanning van die laaste maande het ooglopend sy tol geëis. Hy sê hy het die laaste tyd baie gewig verloor.

"Dié ding maak 'n mens oud. Dit maak 'n mens klaar," sê Claassen, 'n stoere boer, waar ons met die egpaar in 'n besige koffiewinkel in Pretoria praat.

"My gesin kry swaar. Almal om my kry swaar. Almal wat verbind is met my, kry swaar. Ek wens meer as enigiemand dat dié ding tot 'n punt moet kom. Dis 'n familieonderneming, wat ons probeer uitbou het, en dis oornag van ons weggeneem."

Claassen vertel hulle wil so graag antwoorde hê. Foto: Deaan Vivier
Claassen vertel hulle wil so graag antwoorde hê. Foto: Deaan Vivier

Claassen sê Morgenzon, waar hul lodge teen die Vaalrivier geleë is, is 'n hegte plattelandse dorpie tussen Standerton en Ermelo.

"Almal in die omgewing ken mekaar. Hulle ken ons. Ek glo in my hart dit wat met Willem gebeur het, was 'n menslike fout. Jy's op 'n vreemde plek, dit het hard gereën, dis donker . . . Dié wat wil beweer, moet kom met die bewyse. Dán sal ek dit glo," sê hy.

"Ons het daardie naweek vier funksies by die lodge gehad - twee verjaardae, 'n familiereünie en die rampartytjie. Die lodge was propvol, daardie hele tydperk. Baie van die gaste het langs die rivier kom kampeer of in die chalets gewoon."

Claassen en Ansie, die ouers van twee getroude dogters en twee skoonseuns, vertel hulle het die lodge vyf jaar gelede begin. Hy wil weens die teistering wat hulle tans op sosiale media deurmaak nie sy familie se name noem nie.

Maar hy glimlag wanneer hy vertel: "Die doel was nooit om dit 'n lodge te maak nie. Ek was in die stoetbedryf en dan sou mense van ver daar kom slaap. Ek het die chalets begin bou. Eendag toe ons sien, is dit 'n lodge!"

Met hul oudste dogter se troue het hulle 'n kapel gebou. Toe het die lodge ook 'n gewilde troubestemming geword.

"My ma en my suster is daar begrawe. My kleinkinders is nou al daar gedoop. Maar die lodge is eintlik Ansie se onderneming. Ons hoofding is eintlik die boerdery. Ons saai mielies en soja en boer met beeste, skape . . ."

Die egpaar vertel ná 'n huwelik van 34 jaar doen hulle alles saam.

"Ons het al baie dinge saam in die lewe gedoen. Ons het eers op Standerton 'n kafee gehad, toe 'n drankwinkel, toe pasteiwinkels en toe Kempton Park - wat almal mos nou al weet - vir 20 jaar. Ons is nie skaam daaroor nie."

Die onderneming in Kempton Park was Rock Paradise, 'n gewilde "mansklub" met 'n kroeg en eksotiese dansers, in Pomona, Kempton Park.

Hy vertel hulle het reeds in 2002 terug plaas toe getrek en bestuurders gehad wat Rock Paradise vir hulle bestuur het.

Rock Paradise het met die Covid-19-pandemie sy deure gesluit.

"Die gebou is platgesloop," sê hy.

Intussen het die Henbase Lodge 'n gesinsplek geword, wat hulle van die grond af opgebou het.

Willem Kruger
Willem Kruger

Claassen benadruk dat daar geen "kaal vroue" op die betrokke rampartytjie by die lodge was nie.

"Daardie stories wat daar buite loop, dat daar ontkleedansers was, is nonsens. Dit sou nie van pas wees nie. Net omdat ons 'n klub besit het, beteken dit nie ons het nie waardes nie. Die besigheid is vir ons kinders, ons kleinkinders. Ons sal nie sulke dinge in 'n familie-opset toelaat nie."

Die aand van die ramparty was gesellig.

"Ons het die aand nog by die huis gekom en ons was trots in ons hart dat die aand so goed afgeloop het. Dit was mooi en lekker," sê Ansie.

Dit was Ghini Greyling, seun van die megaboer BP Greyling van Wakkerstroom, se ramparty.

Claassen vertel hy het BP slegs by vorige geleenthede by die lodge, met troues of verjaardae, ontmoet.

"Ons is 'n plattelandse gemeenskap, maar ons was voor die tragedie nie huisvriende of saam in besigheid nie. Inteendeel, hy het die aand voor die ramparty eers my nommer gekry om met my oor die reëlings te gesels. Ons het eers in die omstandighede ná Willem meer gereeld gepraat," sê hy.

" 'n Vriend van Ghini van Volksrust het die ramparty gereël. Hy het net die venue bespreek. Elke persoon moes hul eie kamer bespreek."

Daar was sowat 52 mans by die geleentheid.

"Daar was 'n paar ouer mans, my size, maar die meeste was Ghini se ouderdomsgroep," sê Claassen.

Die ramparty het om 11:00 daardie oggend begin en die kuier het tot laataand aangehou met die Springbokke wat nog toetsrugby teen Frankryk gespeel het. Van die partytjiegangers het die wedstryd gaan kyk op die grootskerm in 'n lapa daar naby, waar ander gaste of lede van die publiek ook saamgekyk het.

Terug by die rampartytjie het Claassen en sy skoonseun gebraai.

"Ansie en nog sewe personeellede het die gaste bedien," sê Claassen.

Hulle het ons met soveel respek behandel. Ek het gedink dis 'n klomp oulike kinders.

"Dit was vleis. Steaks opgesny, sosaties. Die sosaties het hulle omtrent opgevreet!"

Ansie praat net met lof van die gaste.

"Hulle het ons met soveel respek behandel. Ek het gedink dis 'n klomp oulike kinders," sê sy.

Claassen sê hulle "moes omtrent beste voet voor sit" - die Greylings is gesiene mense in die gemeenskap.

"Hulle was goeie klante en ons wou ons beste diens lewer," sê hy.

"Ons het uit ons pad gegaan."

Die egpaar het Kruger nie geken nie, maar het hom ook onder die gaste ontmoet. Hy sou 'n strooijonker op Ghini se troue gewees het.

Hulle onthou Kruger was in 'n rustige luim.

Op 'n foto wat van hom op die geleentheid geneem is en wat Netwerk24 van 'n betroubare bron bekom het, glimlag hy met sy blonde kuif en arm om Ghini, vir die kamera. Vriende op die party, Marius Uijs en Janneman Uys, is ook op die foto.

Een van die laaste foto's van Willem Kruger (links) op die rampartytjie. Langs hom met sy arm om sy skouer is die bruidegom, Ghini Greyling. In die middel is Marius Uijs en Janneman Uys (regs).
Een van die laaste foto's van Willem Kruger (links) op die rampartytjie. Langs hom met sy arm om sy skouer is die bruidegom, Ghini Greyling. In die middel is Marius Uijs en Janneman Uys (regs).

Uys is in die kollig geplaas nadat die polisie glo later as deel van hul ondersoek na Kruger se dood op sy bakkie beslag gelê het.

Claassen bevestig die foto is in hul kroegarea geneem.

"Die outjie wie se bakkie glo gestamp is, ken ek nie. Ek het nie eens daai aand 'n woord met daai outjie gesels nie," sê hy oor Uys.

Almal het net heeldag gekuier en geëet.

"Die ouer mans is vroeër huis toe. BP is seker so rondom 21:00 huis toe," vertel Claassen.

"Dit was hier middernag, toe ek klaar gebraai het, dat ek musiek van my foon af oor die luidspreker gespeel het. In 'n stadium het hy (Willem) ook musiek van sy foon gespeel."

Ansie onthou sy het vir die kroegmeisie die water aangegee wat Kruger gedrink het voordat hy vroeg in die oggendure daar weg is.

Die egpaar sê hulle was geensins bewus daarvan dat daar 'n bakleiery was of kon uitbreek nie.

"Ons het mos nou al in ons lewe kroeë gehad. Jy tel dadelik op as daar spanning is. En as daar 52 mans bymekaar kom, dan dink 'n ou jy moet maar kyk, daar kan maar altyd 'n rammetjie wees, maar daar was wragtig niks. Ek het agterna ons personeel ook gevra. En Willem is al daar weg voor ons," vertel Claassen.

Die terrein is groot, sê Ansie.

"So ek kan nie sê daar was nie buite iets nie. Volgens my kennis was daar nie en hy is alleen daar uit. Agterna het niemand enigiets genoem nie. Ek was daardie tyd agter die kroeg. Ek het die yskaste reggepak. Willem was daar naby my en hy het musiek gespeel. Ons sou dit opgetel het," sê sy.

Die bruidegom het self vroeg gaan slaap. Sy pa is maar streng. Hulle het nie tyd vir nonsens nie.

Hulle is uiteindelik saam daar weg, sê Claassen.

"Halfdrie het ons in die bed geklim."

Toe hulle gaan slaap, was daar net om en by agt of tien jong mense oor wat tot later gekuier het.

" 'n Mens het nie getel nie, maar dit was min. Die bruidegom het self vroeg gaan slaap. Sy pa is maar streng. Hulle het nie tyd vir nonsens nie."

Volgens hul besprekingsrekords is twee afsonderlike kamers, onderskeidelik vir Kruger en sy vriend, Callie Reyneke, bespreek.

"Hulle sou volgens ons rekords nooit saam in een kamer slaap nie. Ons het agterna uitgevind 'n ou oom het uiteindelik in Willem se kamer geslaap. Ons weet nie wie hy is nie. Sy naam was nie op die besprekingslys nie. Hoekom daar kamers geruil is en of daar kamers geruil is, weet ons nie," sê Claassen.

"Daar was baie mense, daar is twee chalets net so voor die kroeg. En die tente en woonwaens langs die rivier was volbespreek. Hoekom sal niemand iets sien of hoor (as daar 'n bakleiery was) nie? Dan moet daardie persoon mos na vore kom. Ek sit my kop op 'n blok daar is niemand nie."

Ansie vertel sy het later verneem Kruger was daardie oggend voordat die partytjie begin het, al met sy aankoms in sy kamer.

"Dit was Willem se eerste keer daar, maar ons het verneem dat hy geweet het waar sy kamer was."

Hulle vertel dit het daardie aand laat hard begin reën.

"Deur die loop van die aand, terwyl ons gebraai het, het dit liggies gereën, ek het nog op die teëls gegly! Maar hier van 23:00, middernag tot in die oggendure, het dit baie hard gereën. Daardie nag het 100 mm reën geval."

Claassen verduidelik dat wanneer 'n mens by die kroeg uitry, volg jy die paadjie na regs na die chalets.

Maar Claassen glo Kruger het nooit sy kamer gehaal nie.

Die soektog

Claassen onthou hoedat hy die Sondagmiddag verneem het Kruger is weg toe Greyling hom bel.

"Ons het loadshedding gehad. Die krag het 15:00 aangekom. Ek het gesien ek het 'n missed call van BP. En toe bel ek hom terug. Hy het gesê: ‘Daar's moeilikheid. Die man is weg.' Ek het nog gevra: ‘Waar? Wie? Watter man? Ek het nie geweet waarvan hy praat nie. Hy het gesê: ‘Dis Willem.' Ek het vir hom gevra om vir my 'n foto te stuur dat ek kon sien wie dit is."

Die egpaar vertel toe die foto deurkom het hulle hom albei herken.

"Dadelik," sê Ansie. "Hy was 'n mooi, lang seun."

Claassen het dadelik 'n vriend met 'n helikopter gebel.

"Ek meen wat doen jy? Jy skrik so groot, jy begin net soek. Ek en sy (Ansie) het albei al langs die een kant van die rivier gestap. Aan die ander kant het ons werkers gestap. Van Willem se vriende ook," vertel hy.

"Almal was daardie Sondagmiddag nog onseker. Toe het iemand nog op die veiligheidsgroep gesê sy bakkie se opsporingstelsel wys sy bakkie is op die pad Middelburg toe. Dan stuur iemand anders 'n pin en beweer hy is hier."

Claassen sê die meeste mense van die soekgeselskap, Kruger se familie en die polisie inkluis, het die Maandagoggend daar aangekom.

Hulle is die Dinsdag saam deur al die kringtelevisiemateriaal.

Die eerste span polisieduikers het die Maandag gekom, toe het hulle nie 'n boot nie. Ons het 'n buurman gebel om sy boot te bring.

"Daar is kameras wat nie werk nie, van hulle werk al lank nie en daar is verskeie redes daarvoor. Party is deur weerlig geslaan. Die sein is ook sleg en die kameras werk met WiFi."

Hulle kon daarna bepaal Kruger se wit Toyota Hilux-bakkie het nooit die lodge verlaat nie.

Die soektog het na die rivier verskuif.

"Die eerste span polisieduikers het die Maandag gekom, toe het hulle nie 'n boot nie. Ons het 'n buurman gebel om sy boot te bring. Toe ry hy hulle rond. Daai magnete wat hulle gegooi het om te help soek, was te lig. Die magnete het nie afgesak nie. As die tou die water tref, vat die stroom hom weg. Hulle het later vir ons gevra vir kettings en gewigte om dit swaarder te maak. En daai mense het nooit, maar nooit in die rivier self geduik nie. Dit is só, hulle kon nie."

Hy sê hulle het in niemand se pad gestaan om die hele lodge te deursoek nie.

"Die lodge is van hoek tot kant deursoek - deur die perdestalle, deur die store, deur die werkswinkels, selfs die vrieskaste. En nie net die polisie nie, die publiek. En ons het hulle nie gekeer nie - ons het hulle gehelp!"

Dae lank was die rivier in hewige vloed. Teen die Donderdag (17 November) het die water begin sak en kon hulle die spoormerke sien.

Die kampstaanplek waar Willem Kruger na bewering by die rivier in is.
Die kampstaanplek waar Willem Kruger na bewering by die rivier in is.

Claassen sê die spore is waar hy glo Kruger se bakkie in is: reguit van die kroeg tot in die rivier.

"Ek ken my terrein. Ek is erg oor netheid. Ek stap voor so 'n besige naweek alles regdeur. Daardie spore was nie daardie Vrydag (voor die ramparty) daar nie. Ons besigheid is oor naweke."

Hy benadruk die soektog is nooit gestaak oor 'n troue daardie volgende naweek nie.

"Ons het net daardie Maandag (14 November) vir hulle gesê daar is 'n troue aan die komende naweek, dus sou almal wat soek, nie tot die naweek kon oorbly nie, maar die soektog het aangegaan."

Die deskundige het daardie Saterdag (19 November) gekom om na die spore te kyk. Die spore is gemeet en die wydte daarvan het met 'n bakkie soortgelyk aan dié van Kruger s'n ooreengestem.

Dan het ek hulle daar uitgesleep. Ons is boeremense, ons help.

Die ontdekking is uiteindelik eers nege dae ná Kruger se verdwyning op Dinsdag 22 November gedoen, toe 'n tweede span duikers ontbied is.

"Ek was nie daar toe hulle die bakkie gekry het nie. Ek was besig om te plant toe hulle bel en sê: Bring die trekker," vertel Claassen.

"Ons was so bly. Ons sal hulle ewig dankbaar wees. Ek weet ek word nou onder 'n bus ingegooi omdat ek hulp aangebied het om my trekker beskikbaar te stel om die bakkie daar uit te trek, maar ek het die hele week net gehelp. My gator (nutsvoertuig), my bakkie en 'n trekker het die hele week gehelp. Baie ouens wat daardie tyd met hul bakkie en jetski's kom help soek het, het vasgesit. Dan het ek hulle daar uitgesleep. Ons is boeremense, ons help."

Claassen glo volkome die spore wys die plek waar Kruger per abuis in die water ingery het. Hy glo pleks daarvan om regs te gedraai het na die chalets, het Kruger in die reën en donker daar oor die grasperk gery in die rigting van die plaveisel by die rivier in.

Hy wys foto's op sy foon. Langs die rivier oorkant die kroeg is daar 'n woonwastaanplek.

"Daar is teen die staanplek trappies af na die rivier, wat geplavei is vir die hengelaars."

Die plaveisel is met voorafvervaardigde beton omring om te keer dat dit wegspoel, en daar is ook betonpaaltjies geplant.

My logika vertel my dat hy dalk in daardie paar minute probeer bel het vir hulp.

Claassen glo Kruger is daar by die steilte by die trappe af en hy het tot teen 'n betonpaaltjie, teen die hoek van die plaveisel, tot stilstand gekom.

Hy wys die swart merke wat lyk soos dié van 'n voertuig se band wat daarteen geskuur het.

"My logika vertel my dat hy dalk in daardie paar minute probeer bel het vir hulp."

Die paaltjie waar Johann Claassen glo Willem Kruger se bakkie moontlik vasgesteek het voordat dit by die rivier in is.
Die paaltjie waar Johann Claassen glo Willem Kruger se bakkie moontlik vasgesteek het voordat dit by die rivier in is.
'n Moontlike bandmerk is te sien om die plaveiselarea waar hengelaars kan visvang en Willem Kruger se bakkie vermoedelik die rivier in is.
'n Moontlike bandmerk is te sien om die plaveiselarea waar hengelaars kan visvang en Willem Kruger se bakkie vermoedelik die rivier in is.

Kruger se selfoonsein is glo die laaste keer opgetel toe hy om 01:12 en toe weer om 01:14 vergeefs 'n vriend probeer bel het.

Claassen glo die paaltjie (waar sy bakkie vasgesteek het) het meegegee en Kruger se bakkie is deur die water meegesleur.

Die val direk in die rivier in is op normale vlak 5,5 m diep.

"As die rivier in vloed is, is dit tot 12 m diep."

Sy oë skiet vol trane as hy moet dink wat Kruger se laaste angswekkende oomblikke kon gewees het.

Hy glo nes nóg 'n getuie wat op die toneel was dat Kruger om sy lewe probeer veg het om uit die bakkie te ontsnap.

"Dit is vir ons net so swaar om daaraan te dink."

Ansie vat aan sy hand en sê: "Weet jy wat is so ironies? Daar oorkant die kroeg het woonwaens gestaan. Een van hulle (van die reüniegroep) moes op daardie plaveisel gestaan het, maar toe staan almal net langs die paving (wat lei na die chalets) op die gras... Ek het baie agterna gedink, as die persoon maar net daar voor gekamp het, dan sou Willem dit gesien het."

Willem Kruger se bakkie pas nadat die lodge-eienaar se trekker gebruik is om dit by die rivier te help uitsleep.
Willem Kruger se bakkie pas nadat die lodge-eienaar se trekker gebruik is om dit by die rivier te help uitsleep.

Claassen glo die bakkie was versteek agter 'n wilgerboom en dit is hoekom die eerste polisiespan dit nie gekry het nie.

"Ek dink hulle het dit inderdaad net misgekyk. 'n Mens kon nie met 'n boot daaronder deurry nie. Ja, hul toerusting met die magnete was gesofistikeerd, maar hulle het dit sommerso met die hand vasgehou. Dit was eers toe 'n private groep outjies die Sondag kom wat hulle gesê het hulle dink daar is iets daar, hulle is nie seker nie."

'n Getuie wat op die toneel was toe die tweede span duikers die bakkie in die rivier gekry het, vertel die boomtakke het beslis die eerste span duikers se taak bemoeilik om van die oewer die bakkie te moes probeer soek. Die tweede span duikers moes agterna meer as 'n uur spook om die takke af te saag sodat hulle die bakkie daar kon uitsleep.

Die tweede span duikers op die toneel wat Willem Kruger se bakkie in die rivier ontdek het.
Die tweede span duikers op die toneel wat Willem Kruger se bakkie in die rivier ontdek het.

Sy hart gaan uit na die Kruger-familie.

"Jy het self kinders, jy het self kleinkinders. 'n Mens kan jou net indink deur watter trauma die familie gaan. Dit voel letterlik asof dit 'n kind van ons is, dit vang ons dag en nag," sê Claassen.

"Dit wat hulle sê, dat mense soos Gerrie Nel nou kom help met die ondersoek, dít verwelkom ek. Die antwoorde moet net gouer kom. Ons is besig om 'n onderneming te verloor. Ek vra jou: Wat moet ek doen? Ons het in die 60 werknemers in totaal op Henbase."

Ansie troos haar man.

"Die lekkerste altyd hier was om te sien hoe die kinders hier ry met hul fietse. So vry, so vreesloos die plek geniet het. Niemand word opgepas of hoef hul goed op te pas nie. Die ouers hardloop nie agter hul kinders aan nie, hulle weet hul kinders is veilig."

CTA