Virgin Orbit, die vuurpylmaatskappy van die Britse miljardêr Richard Branson, gaan sy deure sluit.
Dit kom 'n paar maande nadat 'n ruimtesending teleurstellend geëindig het toe 'n vuurpyl met die eerste satelliete wat vanaf Brittanje gelanseer is, nie 'n wentelbaan kon bereik nie en verlore gegaan het, berig Sky News.

Virgin Orbit gaan sluit nadat sy bates vir $36,4 miljoen verkoop is.
'n Koopooreenkoms is reeds aangegaan vir die grootste gedeelte van sy hoofkwartier in Long Beach, Kalifornië. Die koopooreenkoms sluit masjinerie en toerusting in wat gebruik is om die maatskappy se vuurpyle te vervaardig. Virgin Orbit het juis die vuurpyle ontwikkel om dit in die middel van 'n vlug onder die vlerk van 'n aangepaste Boeing 747-400-vliegtuig uit te lanseer.
Volgens die BBC het Branson gehoop dat die lansering, genaamd "Start Me Up", genoem na die Rolling Stones-musiektreffer van 1981, Brittanje in 'n globale speler sou verander wanneer dit kom by die vervaardiging van satelliete, die bou van vuurpyle en die skep van nuwe ruimtehawens.
Toe dit duidelik word dat Virgin Orbit nie sy langtermynfinansiering kon verseker nie, het hy vroeg verlede maand om bankrotskap aansoek gedoen.
Virgin Orbit, wat in 2017 gestig is, het nooit wins gemaak as 'n openbare maatskappy nie.
Ondanks terugslae is die 72-jarige Branson steeds een van die 100 rykste mense in Brittanje, berig National World.
















