Internasionaal

Koning Charles skryf brief van bemoediging aan Joe Biden

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Koning Charles en oudpres. Joe Biden in Julie 2023 in Windsor-kasteel. Biden het destyds Brittanje besoek.  Foto: Getty Images
Koning Charles en oudpres. Joe Biden in Julie 2023 in Windsor-kasteel. Biden het destyds Brittanje besoek. Foto: Getty Images

Die inhoud van koning Charles se brief aan oudpres. Joe Biden van Amerika oor dié se kankerdiagnose sal nooit bekend gemaak word nie, maar te oordeel na Charles se woorde oor sy eie kankerstryd, sou die inhoud van die brief bemoedigend wees.

Die Buckingham-paleis het laat Maandagmiddag bekend gemaak die koning (76) het aan die 82-jarige voormalige Amerikaanse president 'n brief geskryf ná die bekendmaking laat Sondagaand dat Biden aan 'n aggressiewe vorm van prostaatkanker ly.

Die diagnose is volgens Biden se kantoor gedoen nadat dokters 'n knoppie in sy prostaat ontdek het toe hy toenemend urinêre simptome ervaar het. Die kanker het reeds na sy bene versprei en is ongeneeslik, maar reageer goed op hormoonbehandeling, het Reuters berig.

Charles en Biden het mekaar laas in Julie 2023 in eie persoon gesien toe Biden Brittanje besoek het.

Die paleis het op 5 Februarie verlede jaar bekend gemaak Charles het kanker, maar dit duidelik gestel dat die diagnose nie verband hou met sy hospitalisering weens 'n niekwaadaardige vergrote prostaat nie.

Charles se kankerdiagnose, gevolg deur ook dié van Catherine (43), prinses van Wallis, het die senior koninklikes verlede jaar swaar getref. Binne 'n maand was twee van die mees senior lede van die koninklike gesin buite aksie en koningin Camilla (77) en prinses Anne (74) moes die koninklike skip stuur.

Charles het ook sy oudste seun, prins William (42), toestemming gegee om vir 'n hele paar weke sy koninklike dagboek opsy te skuif nadat Catherine in Januarie verlede jaar 'n groot buikoperasie ondergaan het.

Sy en Charles is in dieselfde Londense hospitaal behandel en die koning het in sy japon en pantoffels by sy skoondogter gaan kuier om haar moed in te praat. Aanvanklik het die paleis gesê Catherine se operasie is nie kankerverwant nie, maar dié gerusstelling is in Maart verydel toe ook Catherine haar kankerdiagnose bekend gemaak het. Ook toe het Charles kort ná haar videoboodskap in 'n verklaring sy trots en bewondering vir haar uitgespreek.

Nou sou Charles dieselfde met Biden gedoen het. Woorde van bemoediging van een kankerlyer aan 'n ander - en boonop 'n kankerstryd in die openbare oog.

Charles was einde Maart steeds gehospitaliseer weens newe-effekte wat hy weens sy behandeling ervaar het.

Tog bly die koning blymoedig en hoopvol. Hy het verlede week ten tyde van 'n openbare verskyning aan 'n medekankerlyer wat hom gevra het hoe dit met sy behandeling gaan, sy duime na bo gedraai. "Ek hou daarvan om te dink dat ek nou aan die beter kant van my kanker-reis is," het die koning gesê.

Sy uitlating kom te midde van verwarring nadat sy jongste seun, prins Harry (40), onlangs in 'n BBC-onderhoud gesê het hy weet nie hoe lank Charles nog gaan leef nie omdat hulle al geruime tyd nie meer met mekaar praat nie.

Harry het dadelik nadat sy pa se kankerdiagnose bekend gemaak is, van Los Angeles (waar hy woon) na Londen gevlieg om sy pa te sien. Charles het sy jongste seun skaars 'n halfuur lank gesien voordat hy en Camilla na Skotland vertrek het vir 'n welkome blaaskans ná sy eerste behandeling.

Die fotobord wat Meghan op Instagram gedeel het ter herdenking van haar en prins Harry se sewende huweliksherdenking. Foto: Instagram/@meghan
Die fotobord wat Meghan op Instagram gedeel het ter herdenking van haar en prins Harry se sewende huweliksherdenking. Foto: Instagram/@meghan

• Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, het Maandag hul sewende huweliksherdenking gevier.

Meghan (43) het 'n fotobord met pragtige foto's van haar en Harry en hul twee kinders, Archie en Lilibet, op Instagram gedeel en aanhangers bedank vir hul liefde en steun.

"Sewe jaar van getroude lewe. 'n Leeftyd se stories. Dankie aan almal (of julle nou aan ons sy is of ver) wat vir ons lief is en ons ondersteun in ons liefdesverhaal - ons waardeer julle," lui haar inskrywing.

Op een van die foto's poseer Meghan met 'n swanger magie en op 'n ander is die gesigte van Archie (6) en Lilibet (3) sigbaar. - Bykomende bronne: BBC.com, People.com en The Telegraph

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM