Malcolm-Jamal Warner (54), die akteur wat wêreldwyd bekend geword het vir sy rol as Theo Huxtable in die 1980's-sitkom The Cosby Show, is dood.
Volgens Reuters het hy Sondag verdrink terwyl hy saam met sy gesin in Costa Rica met vakansie was.
Warner het in die see by Playa Grande, naby die dorpie Cocles in die provinsie Limón, geswem toe 'n sterk stroom hom dieper die see ingetrek het. Volgens Costa Rica se regsondersoekpolisie het strandgangers probeer help, hetPeople berig.
Warner is deur die Rooi Kruis op die toneel dood verklaar.
Warner was 'n jong tiener toe hy die rol van Theo, die enigste seun van dr. Heathcliff en Claire Huxtable (vertolk deur Bill Cosby en Phylicia Rashad), losgeslaan het in The Cosby Show, wat van 1984 tot 1992 uitgesaai is, het HuffPost berig. Die program het baanbrekerswerk verrig in sy uitbeelding van 'n suksesvolle swart middelklasgesin op Amerikaanse televisie.
Hy is in 1986 vir 'n Primetime Emmy benoem vir sy ondersteunende rol in die reeks.
Later het Warner homself suksesvol herposisioneer as 'n veelsydige kunstenaar. Hy het in reekse soos Malcolm & Eddie, Sons of Anarchy, Suits, American Horror Story, The Resident en 9-1-1 verskyn en ook as musikant en digter naam gemaak.
In 2015 het hy 'n Grammy gewen vir beste tradisionele R&B-vertolking vir die lied "Jesus Children". In 2023 is hy weer benoem - dié keer vir 'n gesproke-woord-poësie-album.
Hy was ook die aanbieder van die podsendingreeks Not All Hood, waarin hy maatskaplike en kulturele temas in die swart gemeenskap ondersoek het.
Warner was oorspronklik van New Jersey en het reeds op nege begin toneelspeel. Hy het later ook pa geword en gesê dat dit sy kreatiewe werk geïnspireer.
"Ek het nou baie nuwe materiaal vir my musiek," het hy in 2017 gesê. "My dogtertjie is nou vier maande oud, en ek hoef nog nie vir haar ‘nee' te sê nie."
Warner se dood het wêreldwyd reaksie ontlok, met aanhangers en kollegas wat hulde bring aan 'n man wie se werk nie net vermaak het nie, maar ook 'n kultuurskuif verteenwoordig het.
Hy laat sy familie agter en het ook 'n ryke nalatenskap op die gebied van televisie, musiek en gemeenskapsbetrokkenheid.

















