Daar is nog geen einde in sig vir China se streng geen-Covid-beleid nie met pres. Xi Jinping wat Sondag bevestig het die land gaan nie van die beleid afwyk nie.
Streng inperkings, massatoetsing, kwarantyn en reisbeperkings geld dus steeds in die land, berig die BBC.
Reuters berig inwoners en beleggers het gehoop Beijing gaan sy Covid-19-maatreëls opskort wat reeds tot groot frustrasie en ekonomiese skade gelei het.
"Die beleid het vrugte afgewerp wat die voorkoming en beheer van die pandemie betref," het Jinping in die Groot Volksaal op die Tiananmen-plein in die openingstoespraak van die 20ste konferensie van die Kommunistiese Party van China gesê.
Ongeveer 2 300 afgevaardigdes van oor die land heen is vir die konferensie van sewe dae byeen.
Jinping het ook in sy toespraak gewaarsku die "wiele van die geskiedenis" draai in Beijing se rigting om beheer oor Taiwan oor te neem, berig The Guardian.
Hy het 'n dwarsklap na Amerika gemik vanweë sy openlike steun aan Taipei en gesê buitelandse inmenging vererger die spanning en dat die Taiwan-kwessie 'n probleem is wat China moet oplos.
Jinping beskou die beheer van Taiwan as 'n belangrike deel van sy nalatenskap en 'n vereiste vir China se "nasionale vernuwing".
Baie Taiwannese burgers sien die onderdrukking van Hongkong as 'n waarskuwing oor dit wat op hulle wag sou hulle deur Beijing regeer word.
China het voorgestel om Taiwan op grond van die "een-land-twee-stelsels"-konsep te regeer wat destyds daarop gemik was om Hongkong se onafhanklikheid te verseker. Dit het egter vinnig verander toe Jinping besluit die opstand teen Beijing ruk handuit en Hongkong word nou prakties gesproke deur China beheer.
Taiwan verwerp dié konsep en Tsjang Toen-han, woordvoerder van die presidensiële kantoor in Taiwan, sê Taiwan sal nie toegewings oor sy territoriale soewereiniteit, demokrasie en vryheid maak nie.
In sy toespraak het Jinping ook gesê China moet sy vermoëns verskerp om nasionale veiligheid te handhaaf. Die land moet voedsel- en energievoorrade verseker, sowel as die vermoë om rampe te hanteer.












