Internasionaal

Eerste portret van koning Charles onthul

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Koning Charles III van Brittanje het Dinsdag die eerste voltooide amptelike portret van homself sedert sy kroning onthul: 'n treffende rooi uitbeelding van die Britse monarg in uniform.

Die olieverfportret is geskilder deur Jonathan Yeo, wat voorheen Charles se vrou, koningin Camilla, in 2014 en sy pa, prins Philip, in 2008 geskilder het. Die nuwe werk is 230 cm x 165,5 cm groot.

Dit beeld die 75-jarige staatshoof uit in die kenmerkende seremoniële rooi uniform van die Walliese Wagte teen 'n rooi agtergrond, met 'n skoenlapper wat bo sy skouer in die lug hang.

Yeo (53) is in 2020 opdrag gegee om die portret te skilder, toe Charles nog die prins van Wallis was, ter viering van sy 50 jaar lange lidmaatskap van die filantropiese instelling The Drapers' Company.

Brittanje se koningin Camilla (derde van links) kyk Dinsdag toe terwyl koning Charles III (tweede van regs) ’n amptelike portret van homself by die Buckingham-paleis in Londen onthul. Die portret is deur die kunstenaar Jonathan Yeo (vyfde van links), geskilder en beeld Charles uit in die uniform van die Walliese Wagte.  Foto: AFP
Brittanje se koningin Camilla (derde van links) kyk Dinsdag toe terwyl koning Charles III (tweede van regs) ’n amptelike portret van homself by die Buckingham-paleis in Londen onthul. Die portret is deur die kunstenaar Jonathan Yeo (vyfde van links), geskilder en beeld Charles uit in die uniform van die Walliese Wagte. Foto: AFP

Die portret sal tot Junie in die openbaar vertoon word, waarna dit in die Drapers' Hall in Londen sal hang.

Charles, wat in September 2022 koning geword het ná die dood van sy ma, koningin Elizabeth II, het Yeo vier keer besoek om te poseer vir die portret.

Charles word tans vir 'n ongespesifiseerde soort kanker behandel en het onlangs eers sy amptelike openbare verpligtinge hervat.

"Net soos die skoenlapper wat ek oor sy skouer geskilder het, het hierdie portret ontwikkel soos die onderwerp se rol in ons openbare lewe getransformeer het," het Yeo Dinsdag voor die onthulling van portret by die Buckingham-paleis in Londen gesê.

"Ek is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid om so 'n buitengewone en unieke persoon vas te vang, veral op so 'n historiese oomblik," het hy bygevoeg.

Yeo se vorige noemenswaardige onderwerpe sluit in die eerste geskilderde portret van die Nobelpryswenner Malala Yousafzai en Brittanje se voormalige premier Tony Blair. - AFP

CTA