Amazon MGM Studio gaan die kreatiewe beheer oor James Bond oorneem, terwyl dié fiktiewe Britse spioen se jare lange vervaardigers terugstaan.
'n Ooreenkoms wat Donderdag aangekondig is, bepaal dat die regte op 007 gedeel word tussen die rolprentreus en die vervaardigers Michael Wilson en Barbara Broccoli, wat albei gaan aftree.
Die nuus kom vier jaar ná die laaste Bond-fliek waarin Daniel Craig sy rol as die geheime agent vaarwel toegeroep het, en aanhangers in onsekerheid gelaat is oor wie hom gaan vervang.
Nou, met Amazon aan die stuur, hoef die publiek moontlik nie te lank te wag vir die volgende fliek nie.
Die ooreenkoms bevestig dat Wilson en Broccoli nie meer betrokke sal wees by die Bond-franchise nie nadat hulle in 2021 met No Time to Die - die 25ste James Bond-fliek, wat $775 miljoen verdien het - afskeid geneem het.
Wilson, wie se loopbaan met 007 oor byna 60 jaar strek, het gesê hy gaan hom op "kuns en liefdadigheidsprojekte" toespits, terwyl Broccoli beplan om ander ondernemings aan te pak.
"Ons is geëerd om hierdie kosbare erfenis voort te sit," het Mike Hopkins, hoof van Prime Video en Amazon MGM Studios, gesê en die franchise se ses dekade lange impak op rolprentkultuur geloof.
Die ooreenkoms bou voort op Amazon se oorname van MGM in 2022, wat die verspreidingsregte oor Bond se uitgebreide argief ingesluit het.
Die nuwe reëling gee Amazon MGM Studios kreatiewe beheer oor toekomstige Bond-produksies, wat die Broccoli-familie noukeurig beskerm het sedert Albert (Cubby) Broccoli, Barbara se pa, en Harry Saltzman die karakter van die skrywer Ian Fleming na die silwerdoek gebring het.
Wilson en Broccoli was onwrikbaar in hul beskerming van die James Bond-karakter en -handelsmerk en het weerstand gebied teen produkte geskoei op die handelsmerk en lisensiëring wat hulle as nadelig vir die franchise beskou het.
Die finansiële besonderhede van die gesamentlike onderneming is nie bekend gemaak nie.
Die reaksie op sosiale media was grootliks negatief. Aanhangers betreur wat hulle voorspel die onvermydelike uitbuiting van die handelsmerk deur die Amazon-reus gaan wees.
Verskeie gebruikers het variasies van "RIV, James Bond" getwiet, insluitend meme van grafstene en franchise-karakters wat sterf.
"MOENIE James Bond in 'n filmiese heelal verander nie," het @joerussotweets geskryf, met verwysing na Marvel se uitgestrekte karakter-universum onder Disney.
"Dit is een van ons laaste groot teater-ervarings. Moet dit nie verwater met 'n oorvloed van stroomdiens-byprodukte nie."
Terwyl die soms lang gewag tussen Bond-flieks vir sommige frustrerend was, het ander dit betreur dat die proses nou moontlik versnel gaan word. - AFP



















