Internasionaal

Lebombo-grenspos oop vir mense, maar nie vir vrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Lebombo-grenspos by Komatipoort in Mpumalanga is Vrydagmiddag gedeeltelik heropen nadat dit sedert Dinsdag gesluit was weens hewige verkiesingsverwante protes in veral Mosambiek se hoofstad, Maputo.

Slegs mense sal voorlopig kan deurbeweeg, totdat die owerhede aan die Mosambiekse kant gereed is om vragte te verwerk.

Twee mans Vrydag by 'n uitgebrande kar in Maputo. Foto: Alfred Zuniga/AFP
Twee mans Vrydag by 'n uitgebrande kar in Maputo. Foto: Alfred Zuniga/AFP

Veiligheidsmaatreëls is ingestel met die samewerking van verskeie wetstoepassers soos die polisie om seker te maak beweging en handel kan veilig plaasvind om verdere inkomste-verliese te voorkom, sê Mmemme Mogotsi, die Grensbestuurowerheid in Suid-Afrika se adjunk-assistentkommissaris van kommunikasie en bemarking.

Die gedeeltelike heropening van Lebombo kom ná samesprekings met Mosambiek.

Drie mense is dood en 66 beseer toe skares van duisende Donderdag in die strate van Maputo betoog het teen die uitslag van die verkiesing op 9 Oktober. Die meeste van die slagoffers is tussen 25 en 35 jaar oud, en sommige so jonk as 15. Volgens die Mosambiekse Sentrum vir Demokrasie en Menseregte is 34 mense dood sedert die verkiesing op 9 Oktober, berig Reuters.

Teen Vrydagmiddag is nog nie veel berigte ontvang oor hewige hernude protes nie, maar inligting is skraps omdat die Mosambiekse regering internetdienste beperk.

Volgens AFP is soldate nou ontplooi om orde te handhaaf. Die situasie bly gespanne. Vrese dat die situasie verder kan eskaleer, lei daartoe dat mense hul vakansieplanne op die langebaan skuif, berig News24.

Die sluiting van die grenspos by Komatipoort het geweldige ekonomiese gevolge omdat tussen 2 000 en 3 000 vragmotors met kos en ander voorrade daagliks die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek oorsteek. So sê Mel Preddy, voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum in Malelane, wat ook betrokke is by die koördinering van siviele veiligheidsprosesse by die grenspos.

'n Vrugteverkoper Vrydag aan die buitewyke van Maputo. Foto: Alfred Zuniga/AFP
'n Vrugteverkoper Vrydag aan die buitewyke van Maputo. Foto: Alfred Zuniga/AFP
Lede van die Mosambiekse polisie Vrydag by 'n beskadigde winkel in Maputo.  Foto: Alfred Zuniga/AFP
Lede van die Mosambiekse polisie Vrydag by 'n beskadigde winkel in Maputo. Foto: Alfred Zuniga/AFP
'n Protestoneel Vrydag in Mosambiek. Die foto is vermoedelik in Maputo geneem. Foto: X/Dick Son
'n Protestoneel Vrydag in Mosambiek. Die foto is vermoedelik in Maputo geneem. Foto: X/Dick Son

Mosambiekers is afhanklik van voedsel-invoer omdat die land se eie voedselvoorrade nie voldoende is nie. Preddy meen wanneer die voedselvoorrade begin opraak, gaan veral kwesbare mense die grens na Suid-Afrika begin oorsteek.

" 'n Paar jaar gelede was daar 'n soortgelyke situasie in Swaziland toe kosvoorrade tydens betogings opgeraak het, en mense oor die Suid-Afrikaanse grens begin stroom het."

Restaurante naby aan die grens kry die afgelope twee weke nie vars vis en garnale van Mosambiek nie.

"Nou moet hulle hul rooivleisvaardighede opskerp," het Preddy tong-in-die-kies bygevoeg.

Hy sê dit lyk of sowel die Suid-Afrikaanse as Mosambiekse weermag wat grenslangs teenwoordig is, op 'n gereedheidsgrondslag is.

Teen Vrydagmiddag vroeg was daar steeds 'n opeenhoping van sowat 10 km van vragmotors by die Lebombo-grenspos.

"Die bestuurders verdien 'n inkomste op grond van die vrag wat hulle lewer, hulle verloor dus nou inkomste," sê Preddy. "Hulle moet in die vragmotors slaap en daar is geen ablusie-geriewe nie. Die informele markte vaar goed, want hierdie mense moet steeds eet. Van die vragmotors word op 'n ou lughawe-perseel naby die grenspos geparkeer."

Suid-Afrikaners keer terug

Preddy vertel van die Suid-Afrikaners wat in Mosambiek woon, het reeds tydelik teruggekeer na Suid-Afrika toe dit verlede week geblyk het daar gaan moontlik groot ontwrigting kom.

Kennisse van Preddy met logistieke en boerdery-ondernemings in Mosambiek stuur nie tans voertuie uit nie weens die risiko wat dit inhou.

Volgens Preddy vertel mense wat hy in die noorde van Mosambiek ken hulle ervaar nie argwaan teenoor buitelanders nie omdat die stryd tussen politieke partye is. "Die mense gaar egter maar kos op. Plaaslike gemeenskappe in die noorde is moeg vir oorlog. Hoewel daar protes-optogte is, is dit oor die algemeen stil en hou die regeringsmagte die optogte onder beheer."

‘Protes nie net in hoofsentra'

Piers Pigou, hoof van die Suider-Afrikaanse Program by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê die instituut het die afgelope week bewyse van protes in baie dele van die land gesien.

"Dit was veral in die belangrikste stedelike sentrums waar die opposisie sterk verteenwoordig is. Die beperkings op internettoegang het die vloei van sosiale-media-plasings belemmer en ander media het 'n beperkte voetspoor.

'n Vrou praat Donderdag klaarblyklik driftig met 'n polisielid in vermoedelik Maputo. Foto: X/James
'n Vrou praat Donderdag klaarblyklik driftig met 'n polisielid in vermoedelik Maputo. Foto: X/James
Twee jong seuns Donderdag in vermoedelik Maputo waar die protesoptrede hewig was. Foto: X/Dick Son
Twee jong seuns Donderdag in vermoedelik Maputo waar die protesoptrede hewig was. Foto: X/Dick Son

"Wat wel duidelik is, is dat hierdie protes ongekend is en oor 'n verskeidenheid ondersteuningsgroepe strek. Dit is nie beperk tot net woedende, vervreemde stedelike jeugdiges nie."

Pigou meen die Frelimo-party se bestrede oorwinning het 'n groeiende "gatvol-faktor" gegenereer.

"Ek verwag dat die protes beheer sal word, maar die kwessies sal onopgelos bly. Die Mosambiekse staat mag dalk in staat wees om voorlopig 'n soort deksel hierop te sit, maar die vooruitsigte op verdere protes en ontwrigting is baie waarskynlik.

"Daar is interne verdeeldheid binne die regerende party en selfs die veiligheidsektor, en daar is 'n mate van simpatie vir die protes."

Pigou glo egter in hierdie stadium is Frelimo nie op die rand van 'n ineenstorting nie.

Hy voorsien nie 'n massa-uittog van Mosambiekers na Suid-Afrika nie, maar voeg by dit sal afhang of daar voortslepende protes is en hoe die staat daarop reageer.

Die Suid-Afrikaanse regering is heel waarskynlik nie voorbereid op 'n toestroming nie omdat die land moontlik beperkte intelligensie het oor wat tans in Mosambiek gebeur, meen hy.

Hy voorspel egter indien daar onderdrukkende optrede is, sal aktiviste moontlik in Suid-Afrika toevlug soek.

Die aanloop

Die betogings volg op Venâncio Mondlane van die Podemos-party se aanspraak dat hy die verkiesing gewen het, al het die land se verkiesingskommissie verklaar Daniel Chapo van Frelimo het minstens 70% van die stemme op hom verenig.

Burgerregtegroepe en internasionale waarnemers meen die verkiesing het nie aan demokratiese standaarde voldoen nie. Bewerings van verkiesingsbedrog word gemaak. Donderdag se betoging was die grootste wat Mosambiek tot nog toe teen Frelimo gesien het sedert die party in 1975 aan bewind gekom het.

In Maputo het mense mekaar ondersteun om kos te voorsien te midde van beskuldigings van polisievergrype. Daar is Donderdag blykbaar geskiet en traangas afgevuur in die stad vol polisie- en weermaglede.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM