
Die nuwe LeBron James-weergawe van Barbie se Ken-pop gaan dalk nie so vinnig punte aanteken met verkope as waarvoor dié legendariese sportster op die basketbalbaan bewonder word nie.
Die probleem is Mattel, vervaardigers van die LeBron-pop - kompleet met 'n varsity-baadjie, oorfone en sportskoene wat menige jaloers sal maak - vervaardig sowat 40% van sy speelgoed in China.
Pres. Donald Trump se invoertarief van 125% op Chinese produkte wat Amerika binnegaan, kan dié pop se prys geweldig opstoot vir Amerikaners.
James, ster van die Los Angeles Lakers-basketbalspan, is die eerste mansfiguur buite die vermaaklikheidswêreld van wie 'n Ken-weergawe gemaak is.
Mattel het die LeBron-pop bekend gestel te midde van finansiële onsekerheid oor wat Trump se streng tariewe vir die invoer daarvan na die VSA sal beteken. Hoewel Trump die verhoging van tariewe op verskeie lande vir 90 dae opgeskort het, is daar geen verligting vir China nie.
Trump sê sy doelwit met die verhoogde invoertariewe is om meer vervaardiging na Amerika te lok. Ontleders is egter skepties oor hoe haalbaar dit is om onder meer T-hemde, tekkies en selfs die iPhone in Amerika te vervaardig.
Volgens CNN beskryf Dan Ives, internasionale hoof van tegnologiese navorsing by die finansiëledienstemaatskappy Wedbush Securities, die idee om fabrieke in Amerika te hervestig as 'n "fiktiewe verhaal".
Apple het in 2024 byna 232 miljoen iPhones verskeep.
Sowat 90% van die wêreld se iPhones word in China vervaardig. As Amerika self dié slimfone vervaardig, kan dit sowat $1 000 (meer as R19 000) by die prys voeg en die verkoopprys opstoot na $3 500 (sowat R67 000).
Amerika sal fabrieke moet inrig, waaronder hoëtegnologie-aanlegte waar rekenaar- en mikroskyfies vir die elektroniese toestelle vervaardig kan word. Ives sê dit sal Apple sowat $30 miljard (byna R575 miljard) en drie jaar kos om net 10% van sy verskaffingsketting na Amerika te skuif.
Izak Odendaal, hoof van beleggingstrategie by Old Mutual Wealth, sê egter die hoër tariewe kan beleggers terughou eerder as aanmoedig. Beleggers bou nie oornag nuwe fabrieke in ander lande nie. Met die onsekerheid oor of die tariewe ná die 90-dae-tydperk heringestel gaan word, sal beleggers nie nou enige besluite neem nie.
"Dit kan ook te duur wees om sekere goedere in Amerika te vervaardig weens die koste van arbeid daar."
Amerikaners se salarisse is te hoog en die meeste werkers wil nie dié soort werk doen nie.
Luidens data van die Amerikaanse departement van arbeid werk net 'n klein persentasie van Amerikaners op plase en in fabrieke vergeleke met 10 jaar gelede. Die meeste werk in die finansiële of gesondheidsektor, of in sagteware. Volgens kenners kan 'n terugkeer na vervaardiging Amerika se voordeel in die kennis/inligtingsekonomie ondermyn.
Odendaal sê dit maak dalk sin om hoogs sensitiewe vervaardiging soos mikroskyfies en verdedigingstegnologie in Amerika te stimuleer deur tariewe, maar dit kan moontlik ook staatsubsidies benodig om op die been te kry.
Omdat die meeste ondernemings steeds van hul insette invoer, sal Amerikaanse fabrieke daardie druk moet absorbeer.
Prof. Willy C. Shih van Harvard en Veronica Chua, MBA-student aan dié instelling, skryf in die Harvard Business Review om byvoorbeeld die vervaardiging van voertuigonderdele na Amerika te skuif kan 'n jaar duur, maar net as daar genoeg spaarkapasiteit in die Amerikaanse verskaffingsketting is om die werk te doen. Om genoeg kapasiteit te bou om die volume mikroskyfies te vervang wat ingevoer word, kan honderdmiljarde dollar kos en langer as 'n dekade neem, skryf hulle.





















