Internasionaal

Midde-Ooste: Sonder reëls loop jy die risiko van WO3, sê Mbalula

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC. Foto: X/ANC
Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC. Foto: X/ANC

Eensydigheid en om soos 'n wêreld-polisieman op te tree gaan nooit wêreldvrede bevorder nie, meen Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC.

"Wat in die Midde-Ooste gebeur, bevestig die korrektheid van die standpunte wat ons as 'n progressiewe beweging in die wêreld ingeneem het. Niks voordelig spruit uit eensydigheid nie.

"Ons het nog altyd gepleit vir 'n stelsel wat op reëls gegrond is en multipolariteit as alternatief vir eensydigheid," het Mbalula Dinsdag aan joernaliste aan die kantlyn van die National Union of Mineworkers (NUM) se kieskongres in Boksburg gesê waar hy namens die ANC 'n boodskap van ondersteuning gelewer het.

Mbalula is om kommentaar gevra oor die konflik in die Midde-Ooste tussen Israel en Iran.

Mbalula het benadruk om soos 'n wêreld-polisieman op te tree hou geen voordeel in nie.

"Dit sal ons tot chaos lei. Sonder reëls loop jy die risiko van 'n Derde Wêreldoorlog. Dit is wat eintlik sal gebeur. Alle nasies is tot die tande gewapen, met baie kragtige wapens tot hul beskikking."

Hy sê die feit dat 'n skietstilstand tussen Israel en Iran bewerkstellig is, is 'n belangrike stap.

"Benewens dit glo ons dat die toekoms in multipolariteit lê. Nie hierdie chaos wat ons in die wêreld sien waar een land vir almal besluite neem nie. En die besluit neem om ander te bombardeer nie. En besluite neem oor wie, wanneer en hoe laat gebombardeer moet word nie."

Mbalula sê die soewereiniteit van state is baie belangrik in terme van die standpunt wat die ANC voorstaan.

"Daarom bly ons standvastig in daardie opsig. En ons het elke dag aangedui dat die chaos wat ons sien, wat wêreldvrede in gevaar stel, uit eensydigheid spruit."

Pres. Donald Trump van Amerika het Israel en Iran Dinsdag voor stok gekry en gesê hulle moet die skietstilstand eerbiedig.

Julius Malema, EFF-leier, het met Sjakib Mehr, Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, vergader. Foto: X/EFF
Julius Malema, EFF-leier, het met Sjakib Mehr, Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, vergader. Foto: X/EFF

Julius Malema, EFF-leier, wat met Sjakib Mehr, Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, vergader het, sê sy party staan bankvas agter Iran.

"Die EFF staan in vaste solidariteit met Iran se reg op selfverdediging te midde van aggressie deur apartheid-Israel wat deur Amerika gesteun word."

- raymond.willemse@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM