Internasionaal

VSA: Grootste uittog van staatslui in dekades

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie.
Foto ter illustrasie. (Foto: Bloomberg)

Meer as 150 000 federale amptenare sal vandeesweek die Amerikaanse regering verlaat.

Dit is die grootste uitstroming van staatsamptenare in bykans 80 jaar, wat volgens vakbonde en kenners oor staatsbestuur tot ’n skadelike verlies aan institusionele kundigheid kan lei.

Die amptelike bedankings begin Dinsdag vir werknemers wat ’n uitgestelde uittreeprogram gekies het ingevolge waarvan hulle tot in September op die betaalstaat gebly het. Die uitdiensstellings is ’n hoeksteen van pres. Donald Trump se strewe om die federale arbeidsmag te verklein.

Talle staatsamptenare het volgens die regering se kantoor vir mensehulpbronne reeds maande gelede hul werk verlaat, en was tot dusver in effek met betaalde verlof.

Don Moynihan, ’n professor aan die Ford-skool vir openbare beleid aan die Universiteit van Michigan, sê die grootste impak van die uittog is die “uitvloei van kundigheid” van soveel ervare staatsamptenare. Moynihan sê dit is ’n verlies aan talent wat moeilik sal wees om te vervang.

“Dit neem jare om ’n diepgaande kennis en kundigheid te ontwikkel om die staatsprogramme te kan lewer wat hierdie mense bestuur. Nou loop baie van daardie kennis by die deur uit,” sê hy.

Die pakkette, wat deur 154 000 werknemers aanvaar is, vorm deel van ’n poging deur Trump en Elon Musk, sy voormalige raadgewer, om die staatsdiens te verklein om koste te besnoei.

Die Amerikaanse regering het $359 miljard in die 2023-begrotingsjaar aan salarisse en voordele vir staatsamptenare bestee, volgens die jongste beskikbare syfers.

Volgens die regering se kantoor vir mensehulpbronne sal die Trump-administrasie deur ’n kombinasie van uittrede, afdankings en ander aansporings om te bedank, na verwagting $28 miljard jaarliks bespaar.

5492

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM