Die bekroonde filosoof, digter, romansier en dramaturg Dolf van Niekerk is op Oujaarsdag in die ouderdom van 93 oorlede.
Stephanie, sy dogter, sê hulle bevind hulle in 'n toestand van hartseer én dankbaarheid.

"My pa het baie swaar gekry met baie pyn en asemnood die afgelope ruk. Ons voel nou hy kan vry vlieg."
Die familie was sedert Kersdag elke dag by hom en sy vrou, Rita, in die Protea-aftreeoord in Pretoria, waar hulle sedert die einde van 2020 woon.
Van Niekerk, 'n boorling van Edenburg in die Vrystaat, het in 2020 Covid-19 opgedoen en dit het sy hart beskadig. Hy moes 'n pasaangeër kry.
Dit is hierdie ervaringe - die nabyheid van die dood - wat hy in Splintertyd, sy laaste digbundel, vasvang. Dit is in 2021 uitgegee.
Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013) en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Van Niekerk se pen. Op sy 90ste verjaardag verskyn Berigte uit die skemerland.
Hy is ook bekend vir boeke soos Die son struikel en Kroniek van turf. In sy loopbaan is hy onder meer met die Eugéne Marais- en MER-prys bekroon.
Hy het aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer en sy loopbaan by die SAUK begin.
Prof. Johann Rossouw, dosent in filosofie aan die UV, beskryf homself as 'n lewenslange bewonderaar van "oom Dolf" vandat hy soos baie ander op skool Skrik kom huis toe gelees het.
Ironies genoeg, sê Rossouw, in die betreklik klein Afrikaanse literêre wêreld het hy hom eers in April 2021 persoonlik ontmoet, toe hy die voorreg gehad het om die eredoktorsgraad wat die UV aan Van Niekerk toegeken het, aan hom te oorhandig.
"Wat my van die dag geweldig ontroer het, is toe ons buite die meenthuis stilhou waar hy sy laaste jare gewoon het.
"Toe kom hy uit met sy pragtige wit hemp en Kovsie-das uit die vroeë jare 50. ‘My maggies, Johann,' sê hy, ‘wat 'n voorreg om jou te ontmoet.' Die oom het my platgeslaan."
Rossouw beskryf Van Niekerk as 'n "regte Renaissance-mens".
"Dit wat hy geskep het en bygedra het, is uit en uit danksy sy Vrystaat-wortels."
Dekades voordat dit byderwets was, was Van Niekerk 'n ekologiese digter en denker.
"Sy verbintenis met die Vrystaat en grond, afgesien van die tema van grond en gegrondheid, was ook bydraend tot die feit dat hy 'n mistikus was. Hy het 'n mistiese sin van die wonder van die werklikheid gehad. Hy was 'n gelowige man, maar die kern van sy geloof was die sin van die Groot Misterie."
Rossouw het ook in Julie 2022 met Van Niekerk by die Filosofiekafee gepraat oor God en oor sy werk.

"Oom Dolf se sig was die laaste jare so swak dat hy eintlik nie kon lees nie. Hy het die gedigte uitgesoek in reaksie op die vrae oor die God, die grond en die mistiek wat ek vooraf vir hom gestuur het. Hy het my versoek om telkens die gedigte voor te lees, hoewel hy een of twee self uit die kop voorgedra het.
"Hy het geskryf met 'n vergrootglas. Te midde van daai uitdagende verouderingsproses het hy die Filosofiekafee met grote helderheid gedoen. Hy was ongelooflik grasieus. Elegant. Stylvol. Nederig. As ek soos oom Dolf mag oud word en so mooi heengaan, sal ek myself bevoorreg ag.
"Hy was net 'n man wat in sy lewe en in sy werk 'n voorbeeld was van die Vrystaat op haar beste."
‘Geen huldeblyke'
Van Niekerk laat sy vrou, Rita, vyf kinders, agt kleinkinders en drie agterkleinkinders agter.
Sy kinders Stephanie, Rudolf en Karlien kom uit sy eerste huwelik met die aktrise Enone van den Bergh (oorlede in 1996).
Evert en Marguerite kom uit sy tweede huwelik met Susan Roets, 'n taalpraktisyn en vertaler.
Van Niekerk het 'n brief nagelaat om te sê hoe die begrafnis moet verloop, sê Stephanie. Daar moet geen huldeblyke wees nie.
"Hy was 'n baie nederige man."
Stephanie sê Rita (86) het haar pa ontsettend goed opgepas die laaste paar jaar en die familie wil graag hul dankbaarheid teenoor haar uitspreek.









