Mense

Bloemfontein se geliefde ‘Kersvader’ oorlede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die bekende boemelaar wat as Bloemfontein se "Kersvader" bekend gestaan het, is die naweek oorlede.

Willie Keogh, wat in Oktober 71 sou word, is Donderdag deur die nag dood nadat hy 'n ruk siek was. Hy was 'n dekade of meer op die hoek van Brillstraat en Tweede Laan in Westdene in die stad te sien.

Keogh het veral op Kersdae die aandag getrek as hy met sy lang wit baard en 'n Kersvader-pak en -mus in die straat te sien was. Hy het ook al die rol van Kersvader oor die Kerstyd in winkelsentrums vertolk.

Annatjie Celarius, sy suster, het aan Netwerk24 sy dood bekend gemaak.

Willie Keogh op die hoek van Brillstraat en Tweede Laan in Westdene, Bloemfontein, waar hy gereeld te sien was. Hy het met die neem van dié foto in 2019 65 geword. Hy sou vanjaar 71 geword het. Foto: Charles Smith
Willie Keogh op die hoek van Brillstraat en Tweede Laan in Westdene, Bloemfontein, waar hy gereeld te sien was. Hy het met die neem van dié foto in 2019 65 geword. Hy sou vanjaar 71 geword het. Foto: Charles Smith

"Willie was so swak en maer en uitgeteer. Maar ja, hy is nie meer met ons nie. Die afgelope drie maande wat hy siek was, was hy nie meer op straat nie."

Sy het al die mense wat oor die jare na hom omgesien het en wat sy as "Willie se engele" bestempel, bedank vir hul liefde en omgee. "Daar was baie dierbare mense, oud en jonk, wat met hom gepraat en kos aangedra het."

Hoewel hy oor die jare verskeie kere hulp met verblyf en werk aangebied is, was dit sy keuse om op straat te leef. Hy is 'n paar keer aangeval en beroof.

Celarius en haar man, Vic, het verlede jaar na Bloemfontein gereis om al die mense wat hulle oor Willie ontferm het self te bedank.

"Ek en Vic het verlede jaar daarheen gegaan om al die engele wat na hom omsien te ontmoet en hulle persoonlik vir hul omgee te bedank. Dit was vir my 'n belewenis om hulle persoonlik te kon ontmoet. My ouma het altyd gesê die Genade is groot," het Celarius vertel.

Keogh het baie mense op die voornaam geken en daarvan gehou om met motoriste en mense wat vir hom kos en klere gebring het te gesels. Mense onthou hom as 'n "dierbare oom" wat altyd baie vriendelik gegroet het. Hy het ook van die kos wat hy gekry het aan ander mense aangebied. Hy het eenkeer aan 'n moeë drawwer wat verby hom gehardloop het van sy piesangs aangebied.

Keogh het in 1972 aan die Hoërskool Rouxville gematrikuleer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM