Hul pa was 'n liefdevolle gesinsman en alom bekend vir sy "warmhartige, vriendelike, sorgsame persoonlikheid". Dit is hoekom dit vir Sammy Cloete (82) se drie kinders so seer is dat hul pa se lyk Saterdag met 'n steekwond aan sy nek in sy huis ontdek is.
Cloete, 'n oud-houtwerkonderwyser van die Albert Myburgh Secondary School, is omstreeks 15:45 dood in sy huis in Jakarandalaan in Bredasdorp aangetref.
Volgens die polisie het ooggetuies jeugdiges in die slagoffer se motor sien rondry. Die polisie het wenke opgevolg en twee verdagtes is in hegtenis geneem. Die motor, 'n Toyota-sedan, is teruggevind.
LEES OOK | Bredasdorp: Só lyk 18-jarige wat glo afgetrede onderwyser (82) vermoor
Cloete se kinders, wat hulself slegs as Carlynn, Bernadette en Oscar geïdentifiseer het, het hul pa se skerp humorsin en sterk beginsels in 'n verklaring uitgelig.
"As pa en oupa van vyf was hy baie betrokke by ons kinders. Hy het geglo dat ons goed afgerond moet wees wat onderwys, musiek, sport en godsdiens betref," lui die verklaring. "Hy het hoë morele standaarde gehad waaraan hy ons almal verantwoordbaar gehou het."
Cloete was 'n "eerbare persoon en 'n onderwyser vir almal". Hy het "altyd 'n vriendelike woord vir mense gehad wat verbyloop het" en was ook goedhartig teenoor behoeftiges.
Cloete was 'n "geesdriftige en toegewyde onderwyser" wat in die Noord- en Wes-Kaap in plekke soos De Aar, Elim en Genadendal skoolgegee het.
Hy was eens op 'n tyd hoof van die Welgegund-plaasskool naby Bredasdorp en het afgetree aan die Albert Myburgh Secondary School in Bredasdorp.
Volgens sy kinders was Cloete lid van verskillende onderwysverenigings en gemeenskapsrade.

Hy het 'n sentrale rol gespeel in die stigting van Babbel en Krabbel, 'n kleuterskool, en twee gemeenskapsentrums waar hy die gemeenskap in die algemeen en bejaardes in besonder gedien het.
Cloete was ook onder die "pioniers", vertel sy kinders, "en 'n dryfkrag in die bou van die Morawiese kerk in Bredasdorp". Hy en sy oorlede vrou, Felicia, het jare lank met entoesiasme in die kerkraad gedien.
Luidens die verklaring het Bredasdorp voordeel getrek uit Cloete se "veelvuldige vaardighede en talente wat hy met graagte aangewend het".
Hy het die Morawiese kerk se meubels gemaak, asook meubels vir gemeenskapsentrums. Hy het selfs ou meubels herstel.
Cloete het ook remediërende onderrig gegee en leierskap en leiding oor maatskaplike probleme in die gemeenskap verskaf. Hul pa was 'n "sterk voorstander" van maatskaplike geregtigheid.
Benewens dit, was hy ook lief vir hengel en sport, veral atletiek. Cloete het ook 'n liefde vir musiek gehad. Hy was 'n natuurliefhebber en 'n ywerige tuinier wat gehelp het om die kerk se terrein in stand te hou.
By sy huis het hy ook hoenders in 'n klein hoenderhok aangehou - " 'n stokperdjie waaroor hy passievol was".
"Hy word baie gemis deur sy familie en die breër gemeenskap. Vir ons het 'n groot eikeboom geval," sê sy kinders.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het voorheen aan Netwerk24 gesê die twee verdagtes van onderskeidelik 16 en 18 jaar oud het in die landdroshof in Bredasdorp verskyn. Hulle word deur aanklagte van moord, huisbraak en die diefstal van 'n motorvoertuig in die gesig gestaar.
Shaun Swart, die 18-jarige, doen op 21 Julie aansoek om borgtog. Die staat is van plan om dit teen te staan.
Die 16-jarige beskuldigde gaan nie voort met 'n borgtogaansoek nie, maar sal in 'n plek van veiligheid aangehou word.
Die reëlings vir dienste vir Cloete, asook sy begrafnis, is nog nie afgehandel nie.





















