’n Veiligheidswag wat bekend was vir sy positiewe ingesteldheid en gereeld gesorg het vir ’n glimlag wanneer motoriste in die spitsverkeer by MultiChoice se hoofkantoor in Randburg verbyry, is Saterdag dood.
Die oorsaak van sy dood kon nie teen publikasietyd bevestig word nie.
David Sejobe het in 2015 by MultiChoice begin werk en het oor die afgelope dekade ’n bekende en gewaardeerde teenwoordigheid vir kollegas, besoekers en verbygaande motoriste geword, lui ’n verklaring van MultiChoice.
Hy was nie net bekend vir sy professionaliteit nie, maar ook vir die warmte, vreugde en positiwiteit wat hy so vryelik gedeel het.
“Elke oggend en middag langs Bram Fischer-rylaan het sy vrolike groet en vriendelike persoonlikheid deel geword van die ritme van ons dae. Hy het mense laat voel hulle word raakgesien, verwelkom en opgebeur wanneer hulle aankom en vertrek. Sy rol het ver verder as veiligheid gestrek; David was ’n bron van aanmoediging en lig,” lui die verklaring.
Sejobe het in 2022 ook die nuus gehaal toe hy binne 14 uur en 15 minute op sy fiets die 515 km na Venda gery het vir die onthulling van sy pa se grafsteen.
Hy het elke dag 40 km met sy fiets werk toe gery.
“Terwyl ons treur oor die verlies, vier ons ook die vreugde en vriendelikheid wat David so vryelik gedeel het. Ons betuig ons innige meegevoel met David se familie, vriende en kollegas,” lui MultiChoice se verklaring.
Besonderhede oor Sejone se gedenkdiens is nog nie bekend gemaak nie.
















