Dr. Bettie Luttig, merkwaardige kliniese sielkundige, het op 97 steeds 'n private praktyk by haar huis in Inneslaan, Bloemfontein, gehad. Oor drie weke word sy 98. Sy verhuis nou na haar seun in Mbombela. Haar Rosestad-kollegas het haar waardig gegroet. Marietjie Gericke het dié afskeid bygewoon en met Luttig gesels.
Kollegas van dr. Bettie Luttig het 'n sybokhaarkombersie aan haar geskenk toe sy in die Bloemcare-hospitaal gegroet is.
Ná meer as 'n halfeeu as kliniese sielkundige groet sy die Rosestad. Ses dekades lank was sy as kliniese sielkundige vir die stad se mense salf en pleisters.
Selfs nou nog werk sy aan twee hofverslae om oor kinders se lotgevalle te adviseer.
Luttig - of "Dr. Bettie" - gaan nou by haar seun, adv. Helmuth Luttig, in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga, bly.
Sy word oor drie weke 98. Vyftien psigoterapeute van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Psigoterapie (SAIP) se Bloemfontein-tak, waarvan sy sedert 1977 lid was, het haar Saterdag in die Bloemcare- psigiatriese hospitaal gaan groet. Sy is met die kombersie as geskenk vereer.
Dr. Ronél van der Watt, 'n afgetrede kliniese sielkundige en 'n jare lange kollega, het hul geskenk verduidelik.
"Dr. Bettie het altyd mense se seer harte saggies met 'n kombersie toegemaak. Sy het self gesê: ‘Elke kind het 'n sagte kombersie nodig, en ook dat ons vir mekaar sagte kombersies moet wees.' "
"Dit is waarom ons ook nou vir jou 'n sybokhaar-kombersie gee om jou saggies te omvou."
Luttig het op die plaas, Sipres Grove, in die Heilbron-distrik grootgeword. Haar pa was die hoof van die plaasskool, waar sy tot st. 6 skoolgegaan het.

Sy is na die hoërskool in Frankfort. Die Universiteit Stellenbosch het haar toestemming gegee om sielkunde as derde hoofvak te neem. Sy was die enigste student wat dit cum laude verwerf het.
'n Meestersgraad in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat het gevolg. Sy is na die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) vir haar doktorale studie in kliniese sielkunde, waar dr. Marita Brink, 'n suster van die skrywer André P. Brink, haar promotor was.
In Bloemfontein was sy naas Famsa ook 'n lid van Die Bevrienders wat telefonies emosionele steun gebied het.
Careways het haar gekontrakteer om sielkundige berading en ondersteuning aan firmas se personeel te bied. Sy het van 1970 tot 1976 aan die UV klas gegee. Omdat sy nie op 60 wou aftree nie, het sy as 'n private praktisyn begin werk.
Leonie Moolman het op die afskeid gesê Luttig was altyd 'n inspirasie. "Sy loop vinnig, praat vinnig en wou altyd verder leer en ter wille van haar pasiënte met die jongste ontwikkelings in die professie tred hou."
Corné Stapelberg het vertel hoe dr. Bettie altyd vir hulle ‘blare-tee' met 'n siffie in elegante koppies geskink het. "Teedrink by haar was 'n ritueel. Ons sal nooit vergeet hoe lekker dit was om by haar te kuier en ‘blare-tee' te drink nie."

Ander kollegas het ook hulde gebring. Hulle onthou haar as 'n "veilige hawe" vir pasiënte.
"Sy was amper soos die moeder van sielkundiges in Bloemfontein én 'n voorbeeld van warmte en omgee. Sy was soos 'n baarmoeder wat mense met probleme met haar warmte en omgee omvou het."
"Haar opregtheid en vriendelikheid sal ons altyd bybly," het van hulle gesê.
Diana Nel het haar vir haar verfyndheid van gees, sensitiwiteit, die spesiale konneksies wat sy met andere kon maak, asook van haar spitsvondigheid geloof.
Sy's nog glashelder soos 'n tiener en steeds leergierig op 97.
"Diegene wat jonk in die privaat praktyk was, kon by haar leer. Haar kennis is enorm.
"By haar kon jy rustig raak en raad kry as jy met 'n etiese probleem geworstel het wat jou voor die Beroepsraad kon laat beland," het Van der Watt gesê.
Sy is ook geloof omdat 'n mens net "jou simpel self" by haar kon wees. "Haar warmte het oor mense gespoel sodat hulle gou beter geword het," het dr. LM van der Merwe, 'n kollega van meer as 38 jaar, gesê.
LM is tog spyt "dat 'n mens eers in die aand kan sien hoe mooi die dag was".
Haar kollegas onthou ook haar heerlike skons en suurlemoenskuimtert op gesellighede, haar liefde vir blokkiesraaisels en haar lees van veral sielkundige boeke by die twee boekklubs waaraan sy behoort het.

Sy het oral mense se lewens verryk. By Famsa (Familie- en-huweliksvereniging) waar sy 30 jaar die voorsitter was, het sy verbrokkelde gesinne help heel. Sy het forensiese werk en hofwerk (onder meer kinderverslae en aanbevelings) verrig, emosionele bystand aan pasiënte gebied en sy was ook by die Griffith-skaal vir die verstandelike ontwikkeling van kinders betrokke.
Daan Nortier, 'n oudprokureur en buurman van Luttig, som haar as "merkwaardig" op.
"Sy's nog glashelder soos 'n tiener en steeds leergierig op 97."
Oor haar vertrek uit Bloemfontein, het Luttig in 'n onderhoud aan Netwerk24 gesê dit help nie om te treur nie.
"'n Mens moet realisties wees. Ek kan nie verder alleen in die groot huis in Inneslaan bly nie. Maar ek sal weer met die City Bug-bussie in Bloemfontein kom kuier."
"Dis vriendskappe wat ek die meeste hier gaan mis."
Haar man, Dawid, het haar in 1985 ontval. Hy was streekhoof van die Total-oliemaatskappy in die Vrystaat en Noord-Kaap.
"Dit was 'n Franse maatskappy en ek is destyds saam Frankryk toe waar ons heerlik getoer het."
Sy het tot 'n jaar of twee gelede Franse klasse geneem.
Naas Helmuth, 'n advokaat, het hulle nog 'n seun, Dawie. Hy het personeelbestuur studeer en bly in Nieu-Seeland.
Daar is ook sewe kleinkinders en drie agterkleindogters.
Luttig en Carl Jung
Dr. Bettie Luttig, kliniese sielkundige van Bloemfontein, is 'n groot aanhanger van die Jungiaanse teorieë van Carl Jung, Switserse psigiater en 'n grondlegger van die analitiese sielkunde. Sy het haar by die C.G. Jung-instituut in Zürich hierin gaan verdiep en aan Jung-groepe in Kaapstad en in Johannesburg behoort.
Luttig koester die "groot rooi boek" waarin Jung oor sy persoonlike lewe in die mooiste sierskrif geskryf het, en waarin van sy mandalas (sirkelvormige tekeninge) verskyn. Sy het die boek jare gelede van 'n vriend, dr. Johannes van der Horst, geskenk gekry. Dit het toe reeds meer as R6 000 gekos.
Sy sê van Jung se pasiënte het dikwels 'n sirkelvormige figuur geteken.
"Volgens hom het dié sirkel baie met figure in Oosterse godsdienste, sogenaamde mandalas, ooreengestem."
Nes Jung glo Luttig dat daar meer waarheid in drome steek as wat ons wil weet.
Sy glo dat elke mens 'n unieke onderbewuste as gevolg van eiesoortige lewenservarings het. Die donker kolle van slegte ervarings wat bedags onderdruk word, kom tydens slaap in drome simbolies na vore en gee 'n aanduiding van wat 'n mens pla.
Sy meen die pasiënt moet tot insig in hul eie probleme en oplossings gelei word.












