Mense

Giniel groet Dakar in 2025 ná 22 jaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Giniel de Villiers, die Suid-Afrikaanse Dakar-renjaer. Foto: Red Bull Content Pool
Giniel de Villiers, die Suid-Afrikaanse Dakar-renjaer. Foto: Red Bull Content Pool

Ná 21 jaar se taai Dakar-veldtydrenne sal Giniel de Villiers eersdaags sy laaste ren in 'n Toyota Hilux aanpak wanneer die 2025-Dakar op 3 Januarie afskop.

Dít sal dié 52-jarige se 22ste opeenvolgende Dakar-veldtydren wees en hy hoop dat hy dié een, net soos al die voriges, suksesvol sal kan voltooi.

"Alles kom seker maar tot op 'n einde en dit is vir seker my laaste ren met Toyota in hierdie stadium. Ek is ook al ouer en ek is nog nie seker of daar enige ander geleenthede gaan wees vorentoe nie.

"Dis amper die einde van 'n soort era. Dit sal my 22ste ren wees. Ek kan self nie glo ek het al aan so baie deelgeneem nie. My benadering sal egter glad nie verander nie en ons sal op 'n hoogtepunt probeer afsluit. Hopelik kan ons 'n goeie uitslag kry," het hy aan Netwerk24 gesê.

Giniel de Villiers in 2012 op die O.R. Tambo-lughawe toe hy met ‘n derde plek teruggekeer het na Suid-Afrika. Foto: Getty Images
Giniel de Villiers in 2012 op die O.R. Tambo-lughawe toe hy met ‘n derde plek teruggekeer het na Suid-Afrika. Foto: Getty Images

De Villiers sê hy sal fokus op die taak eerder as op emosies.

"Ek is nie regtig so 'n soort ou nie. So ek gaan nie konsentreer op die feit dat dit my laaste een is nie. Ek probeer maar in die oomblik leef; so ek benader hierdie resies op dieselfde manier. Wat betref my voorbereiding, het ons ook alles dieselfde as in die verlede gedoen.

"Ons het 'n hele paar toetse in Namibië en in die Kalahari gedoen en ek is vol vertroue dat ons ons huiswerk weer ordentlik gedoen het. Ons gaan beslis druk om die beste moontlike uitslag te kry."

De Villiers sê die hoogtepunt van sy loopbaan is beslis sy Dakar-oorwinning in 2009, maar die ander kere dat hy op die podium gestaan het, is ook vir hom spesiaal.

"Ek was agt keer op die podium met vier tweede plekke en drie derde plekke en natuurlik die wen. Maar een ding waarop ek regtig trots is, is dat ek al 21 renne waaraan ek deelgeneem het kon voltooi. In 15 daarvan het ek onder die topvyf geëindig.

"Dit was eindelik maar 'n kanniedood-houding wat my gehelp het om dit te kan doen. Dit sou natuurlik nie moontlik gewees het sonder my span nie. Die Dakar is 'n baie groter spansport as wat 'n mens dink en hulle het my in staat gestel om daardie rekord op te stel. Ek is trots daarop."

Giniel de Villiers laat die stof staan tydens ‘n Dakar-veldtydren.  Foto: Getty Images
Giniel de Villiers laat die stof staan tydens ‘n Dakar-veldtydren. Foto: Getty Images

De Villiers sê elke span het sowat 80 mense wat vir die duur van die veldtydren in Saoedi-Arabië sal wees.

"Elke ou moet sy deel doen en dra daartoe by dat ek as renjaer aan die einde van die dag by my bestemming

kan uitkom. As een ou vergeet om 'n bout vas te draai, kan jou wedren daarmee heen wees. Die motors word elke dag gediens en die ondersteuningspan speel 'n enorme rol in jou sukses in so 'n soort ren."

Hoewel sy pad saam met Toyota tot 'n einde kom, het hy nog nie te ver in die toekoms gedink nie - en hy wil ook nie.

"Ek sal nog sien, maar ek staan na die einde van my loopbaan se kant toe. Dis vir seker. Ek is 52 en nie meer vandag se kind nie. Daar is vrek baie jong ouens wat nou deur die stelsel kom en dis fantasties.

"Een of ander tyd kom die dinge tot 'n einde en ek is taamlik naby daaraan, maar ek wil nie te veel daarop konsentreer nie. Die belangrike ding is nou om hierdie veldtydren af te handel en dan sal ons sien wat gebeur as ek terugkom (na Suid-Afrika)." - ruhan.friedrichs@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM