Honderde mense, die meeste van hulle wildvreemdelinge, het gehelp om vir Michelle Sekwena se nuwe 34D-borste te betaal.
Die 25-jarige Sekwena het 'n jaar van erge lyding beleef nadat sy 'n seldsame mediese toestand opgedoen het wat haar borsmaat skielik van 32A tot 32G laat uitswel het. Toe wend sy haar tot TikTok en binne maande het sy die R150 000 gehad wat nodig was om vir 'n lewensveranderende operasie te betaal.
Sekwena sê sy het op Kersdag in 2023 by haar pa en stiefma in Centurion gekuier toe sy agterkom haar borste is erg geswel en kliphard. Sy het gedink dit het iets met haar menstruele siklus te doen.
"Selfs wanneer ek my borste en tepels geknyp het, kon ek niks voel nie. Daar was geen sensasie nie en my borste was rooi en perskleurig en dit het net al hoe swaarder en pynliker geraak," sê Sekwena.
Toe haar borste regdeur 2024 net aanhou groei, het sy besef iets groots is fout.
"Ek was voorheen normaal," sê sy.
Sy behoort nie tot 'n mediese fonds nie en het by staatsklinieke en -hospitale aangeklop om hulp. Aanvanklik kon die dokters nie vasstel wat fout is nie.
"Ek was eendag by 'n kliniek waar twee dokters voorgestel het ek moet 'n kleiner bra koop om my borste weer kleiner te druk. Hulle het nog nooit so iets behandel nie," sê Sekwena.
Mense het haar begin aanstaar en by die sportwinkel in Pretoria, waar sy werk, kon sy nie meer klante help soos voorheen nie.
"Mans sou vir my sê ek moenie my borste kleiner maak nie, want ‘dit lyk lekker'. Vroue het gesê ek moet 'n borsverkleining kry en kinders het gevra ‘wat is daai?'. Ek was baie depressief."

Sy is uiteindelik eers vroeg vanjaar met giganotmastie gediagnoseer, 'n seldsame toestand wat tot oormatige groei in vroue se borste lei. Die oorsaak is onbekend.
Volgens navorsing wat verlede jaar in die South African Journal of Surgery gepubliseer is, is minder as 60 gevalle van giganotmastie wêreldwyd gedokumenteer, en tot dusver was daar net een geval in Suid-Afrika.
Voordat Sekwena in Maart geopereer is, was 'n sportbra wat kon rek, al waarmee sy haar borste op 'n manier kon ondersteun.
"Ek kon nie meer behoorlik asemhaal nie. Ek kon nie slaap nie, want as ek in die nag wou omdraai, moes ek my borste met my hande oplig.
"Ek het hoofpyne gehad en kon nie regtig loop nie. My knieë kon my nie dra nie. Dit was verskriklik seer," vertel sy.
In November 2024 het sy besluit om haar storie op TikTok te deel omdat sy bewustheid wou wek sodat mense meer begrip oor haar voorkoms sou hê. Sy het 462 000 volgelinge op TikTok.
'n Vrou wat haar op TikTok gevolg het, het voorgestel dat sy 'n BackaBuddy-veldtog begin om geld in te samel vir 'n borsverkleiningsoperasie.
Die insameling het in 2024 begin en teen Februarie het sy R150 000 gehad, genoeg vir die operasie. Mense van so ver as Amerika en Italië het geld geskenk. Van die skenkers het so min as R20 gehad om by te dra.
"Ek het begin vanjaar uiteindelik 'n dokter ontmoet wat bereid was om te help. Al die ander dokters wou nie 'n kans waag nie omdat my toestand so erg en my liggaam so klein was," sê Sekwena.
Die oomblik toe sy genoeg geld gehad het, het sy die operasie by 'n Netcare-hospitaal laat doen.
Vandag onthou sy skaars dié tyd, sê sy, want sy was fisiek en emosioneel baie afgetakel.
Haar eerste operasie was agt uur lank, maar haar linkerbors was daarna steeds baie geswel. Sy het 'n dag later 'n tweede operasie van twee uur lank ondergaan.
Sy het tydens die operasies geweldig baie bloed verloor.
"Die herstelproses was baie pynlik en uitgerek. Ek kon myself nie eens bad nie. My borsgrootte is nou 'n 34D - dis die kleinste wat die dokter dit kon maak. Maar ek voel God se guns op my lewe. Ek is geseënd."
Sekwena sê sy wil nie weet of daar 'n kans is dat haar borste weer onbeheers gaan begin groei nie. "Ek is steeds baie getraumatiseer deur alles."




















