'n Motorongeluk Sondagaand in Kaapstad het die lewe van Xampher Pietersen (37), broer van die voormalige Blitsbok- en Cheetah-rugbyspeler Wilton Pietersen, geëis.
Die broers is oudleerlinge van die Hoërskool Outeniqua in George. Die gesin is oorspronklik van Mosselbaai.
Wilton het Donderdag aan Netwerk24 gesê daar is nog min besonderhede oor die ongeluk.
"Dit is nog nie vir ons duidelik wat gebeur het nie, want die polisie is nog besig met die ondersoek."

Hy sê sy broer, 'n kommersiële duiker en die pa van twee dogters, het in Simonstad gewoon.
Volgens Wilton is die familie baie geskok oor wat gebeur het. " 'n Mens verwag nie dat iemand in die familie in 'n motorongeluk sal heengaan nie."
Daar is nog geen begrafnisreëlings nie, maar Wilton sê 'n gedenkdiens word Vrydagaand in Simonstad gehou.
Talle huldeblyke vir Xampher is op Facebook geplaas, en hy is beskryf as "groter as die lewe self" en sal onthou word vir sy "energie, aansteeklike glimlag, opregte geaardheid en sy groot liefde vir sy familie".
Die gedenkdiens vind Vrydag om 18:00 in die kapel van die Suid-Afrikaanse Vlootmuseum in Simonstad plaas.
Xampher word ook oorleef deur sy ma en vrou.
















