Die speurhoof van die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein is verlede week ná 'n lang siekte dood.
Kol. Mokhethi Khapola (54) sal vandeesweek in Welkom begrawe word nadat hy op 10 Augustus gesterf het.

Drie betroubare bronne het Khapola se afsterwe aan Netwerk24 bevestig.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder verbonde aan die Parkweg-polisiekantoor, het egter by navraag gesê hy is nie bewus van Khapola se afsterwe nie.

Khapola was voorheen ook betrokke by die polisie se eenheid gemoeid met veediefstal en bedreigde spesies.
Die mees onlangse saak waarby Khapola betrokke was, is die moord op die Morrison-egpaar naby Glen buite Bloemfontein.

Die Morrison-saak is die eerste keer in April vanjaar in die hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor. Die saak sou toe in Julie vir twee weke voortgaan, maar is weer uitgestel nadat Khapola weens sy toestand nie kon getuig nie. Die saak sal in Desember sonder Khapola se getuienis hervat.
Christo (73) en Christa Morrison (73) is die naweek van 3 Mei 2024 op hul plaas Rietfontein naby Glen vermoor. Mohau Lebeko (40) en Motlalentoa Wolf (26) word van die moord op die egpaar aangekla. Lebeko en Wolf het vir Christo op die plaas gewerk.
Luidens die klagstaat het Lebeko en Wolf die middag van 3 Mei verlede jaar op die plaas naby die plaashuis gewerk toe hulle Christo oorval en herhaaldelik met 'n skaapskêr gesteek het. Hy het ineengesak terwyl hy probeer vlug het en is op die toneel dood.
Daarna het Lebeko en Wolf vir Christa in die plaashuis oorval, beweer die staat. Sy is na bewering aan 'n stoel vasgebind en gedwing om R118 000 uit haar man se bankrekening aan die vermeende moordenaars oor te betaal. Luidens die klagstaat het Lebeko en Wolf haar daarna met 'n stuk yster oor die kop geslaan en keelaf gesny.
Die verhoor sal op 1 Desember in die hooggeregshof in Bloemfontein hervat.
• Wolf en Lebeko staan tereg op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en agt aanklagte wat met die Wet op Kubermisdade verband hou, asook die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.




















