Toe sy op 27 April verlede jaar, ná meer as 235 dae alleenop see, die eindstreep by Les Sables-d'Olonne in Frankryk oorsteek in die Golden Globe-wedvaart (GGR),was Kirsten Neuschäfer op voorblaaie van oor die hele wêreld. Sy het die eerstevrou geword wat 'n alleen-wedvaart onverpoos om die wêreld wen. Willem Jordaan het met Die Burger, Kaapstad Sakekamer en die Afrikaanse Handelsinstituut seambassadeur vir 2024 gesels.

In The Kontiki Expedition skryf die avonturier Thor Heyerdahl dat jy jouself nou en dan in vreemde situasies bevind. Dit gebeur stap vir stap, in doodgewone gebeurtenisse, maar skielik is jy in die middel van 'n reuse-ding wat jou laat wonder hoe jy daar gekom het.
"If, for example, you're put to sea on a wooden raft with a parrot and five companions, it is inevitable that sooner or later you will wake up one morning out at sea, perhaps a little better rested than ordinarily, and begin to think about it. On one such morning I sat writing in a dew-drenched logbook: ‘17th May. Norwegian Independence Day. Heavy sea. Fair wind. I am cook today and found 7 flying fish on deck, one squid on the cabin roof, and one unknown fish in Torstein's sleeping bag . . .'
"Here the pencil stopped, and the same thought came sneaking out: this is really a queer seventeenth of May; indeed, taken all round, a most peculiar existence. How did it all begin?
"If I turned left, I had an unimpeded view of a vast blue sea with hissing waves, rolling by close at hand in an endless pursuit of an ever retreating horizon. If I turned right, I saw the inside of a shadowy cabin in which a bearded individual was lying, on his back reading Goethe, with his bare toes carefully dug into the lattice-work in the low bamboo roof of the crazy little cabin that was our common home.
" ‘Bengt'," I said, pushing away the green parrot, which wanted to perch on the logbook. "Can you tell me how the hell we come to be doing this?"
Vir Kirsten Neuschäfer was hierdie oomblik nie gedurende die Golden Globe nie, maar in die aanloop daartoe.

"Ek dink die meeste van daardie oomblikke het tydens die voorbereiding gebeur X soos om langs die Newfoundland-kus te probeer seil in ysige weer met allerhande bootprobleme, of om weer Prince Edward-eiland te verlaat in die winter en in 'n storm. Dan sou ek wonder hoekom ek dié goed doen," sê sy.
"Hoe het ek hier gekom, en hoekom het ek nie net 'n normale lewe nie? Maar ek het al soveel deurgemaak teen die tyd dat ek die wedren begin het, dat ek reeds die antwoord in my kop gehad het: Ek doen dit nou omdat ek al so hard gewerk het en soveel deurgemaak het tot op hierdie punt."
Sy is vroeg reeds aangegryp deur die verhale van ontdekkingsreisigers soos Shackleton en avonturiers soos Heyerdahl. Avontuur het haar geroep.
Maar die eerste plek waar Neuschäfer geseil het, was die slymerige groen Hartebeespoortdam. Sy het in Pretoria grootgeword en haar eerste keer ter see was op die Sarie Marais-bootvaarte wat in Durban aangebied is.
"Ek onthou so goed die dolfyne wat om die boeg speel. As jong kind was dit vir my 'n aangrypende ervaring. Net daar en dan het ek gedink die see roep my."
Jare later was sy pas klaar met 'n fietstog deur Afrika (sien kassie hiernaas) toe sy by haarself dink: Wat is volgende?
Afrika: 15 000km alleen met 'n fiets en 40kg se bagasie
"Ek het op 'n kleinhoewe buite Pretoria grootgeword en baie buitelug-vriende gehad. Ons het gereeld gepraat oor wanneer ons eendag groot is, en dat ons 'n Land Rover gaan kry en deur Afrika gaan ry. Maar toe, jy weet, het elkeen sy eie pad in die lewe gegaan. En toe ek 22 jaar oud was, het ek soort van deur Europa gereis.
"Ek wou uiteindelik huis toe kom, maar wou 'n pelgrimstog daarvan maak en dit oor land doen. Ek het nie die geld of die meganiese kennis gehad om dit te doen nie. Ek het gedink: Wel, ek kan tog 'n fiets bekostig? So ek het 'n fiets in Duitsland gekoop. Toe begin ek in Marokko en 'n jaar later het ek in Kaap Agulhas aangekom.
"Deur die Marokkaanse weste, en die Sahara, toe Mali, Mauritanië, Mali, Niger, Tsjad, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Kongo. En dan Angola, Namibië, Botswana, en terug na Suid-Afrika.
"Ek het nooit aan die reis as 'n geheel gedink of wanneer ek in Suid-Afrika sou aankom nie. Ek het dit eerder opgebreek en gemik om die volgende dorp of rivier te bereik."
"So daar staan ek met my fiets by Kaap Agulhas en kyk uit oor die oseaan. En ek het gedink dis die volgende ding wat ek wil doen: Ek wil leer hoe om te seil."
'n Dagskipperlisensie wat sy in Kaapstad verwerf het, was X sonder dat sy dit toe geweet het X haar eerste stap om uiteindelik die GGR te wen.
"As ek nou terugkyk, was alles wat ek van daar af gedoen het op een of ander manier deel van die voorbereiding. Ek het as 'n seilinstrukteur, afleweringskipper en as 'n huurvaartskipper gewerk. Al daardie dinge het op hul eie manier bygedra tot my ervaring en tot my selfvertroue om aan die Golden Globe Race deel te neem."

Neuschäfer het onder meer gewerk vir die seil-avonturier Skip Novak se Pelagic Expeditions, wat passasiers na Antarktika, Patagonië en die Falkland-eilande neem.
Sy was besig met 'n huurvaart na Suid-Georgië toe een van die bemanningslede pal boodskappe op haar satellietfoon lees.
"Nou kyk, ek is die tipe mens wat see toe gaan omdat ek nie met kommunikasie gepla is nie. En ek vra toe half ergerlik wat hierdie ding is wat so belangrik is. Wat kán so belangrik wees?"
Dit was opdaterings oor die GGR wat aan die gang was, en Neuschäfer het nog nooit daarvan gehoor nie.
"Sy het aanhoudend met al hierdie geesdrif daaroor gepraat.
En toe sê sy: ‘Jy weet, jý moet dit doen. Dis jou soort ding.'
"Ek het daaroor gedink en gedink, later gepraat en gepraat. En uiteindelik opgehou dink en opgehou praat. Ek het aan die wedrenorganiseerders geskryf en hulle vertel wie ek is, watter ervaring ek het, omdat hulle deelnemers sif. En só het hulle gesê: ‘Oukei, jy klink of jy dalk 'n goeie kandidaat is.' En ek het gesê: ‘Maar ek het nie 'n boot of geld nie.'
" ‘Oor na jou dan,' was die antwoord."
Sy het die inskrywingsgeld betaal en 'n boot en finansiering begin soek.

"Ek wou 'n boot hê wat sterk en mededingend is, want ek wou wen. Ek wou nie net inskryf om die kring te voltooi nie."
Ná baie navorsing, het sy die Minnehaha ('n Cape George Cutter 36) in Newfoundland, Kanada, gekry. Dit beteken "laggende water" en is genoem na die vrou van die inheemse Amerikaanse avonturier Hiawatha in die Henry Wadsworth Longfellow-gedig "The Song of Hiawatha."
"Almal het gesê daardie boot is so swaar, jy kyk na 'n baie stadige ding.
"Maar dit het hierdie lang waterlyn gehad. So, wiskundig minstens, moet dit vinnig wees. En swaar is tog goed, want omdat die meeste van die wedvaart in die Suidelike Oseaan is, soek jy 'n stabiele boot. én die lang waterlyn sodat dit op spoed mededingend kan wees."
Die Minnehaha was " 'n blikkie wurms" omdat sy nie geweet het hoeveel werk dit sou kos om dit in 'n wedvaarttoestand te kry nie. Weens Covid-19 kon sy aanvanklik nie in Kanada inkom nie, en daarna kon sy nie 'n Amerikaanse visum kry nie. Met die gehawende seiljag het sy na Prince Edward-eiland gevaar, waar die restourasiewerk oor meer as 'n jaar gedoen is.
'n Groot deel van die fisieke en geestelike voorbereiding vir die GGR het in dié taak gelê.
"Baie daarvan het net gekom deur soveel as moontlik van die restourasie met my eie twee hande te doen. Ek het saam met een ander persoon gewerk en ons het dinge uitgepluis, hoe om dinge reg te maak, hoe om dinge te verbeter.
"Ek het naderhand elke moer en bout op daardie boot geken. Dit was vir my belangrik om te weet ek het dit met my eie hande gedoen en dat ek geweet het watter gereedskap om te gebruik. Dat ek só geleer het om 'n probleem op te los wat kon opduik, was reeds 'n groot geestelike skuif om my selfvertroue te gee. En dit was harde, fisieke werk."
Omdat die GGR as retro-wedvaart sonder moderne elektroniese navigasie geskied, moes sy ook haar sterre-navigasie afstof. Sy het dit reeds voorheen geleer vir die Ocean Master-kwalifikasie, maar dit was toe nog net teorie wat in haar verstand gelê en sluimer het.
"Ek moes regtig baie hersiening doen. Lang afstande, ook deur erge stormweer, het as inoefening gevolg. Ek het onder meer van Prince Edward-eiland na Kaapstad gevaar, en van Kaapstad na Frankryk. Hier het ek wel GPS gehad om my sterrenavigasiewerk na te gaan en my berekenings te bevestig.
"So teen die tyd dat ek by die beginpunt gekom het, het ek baie selfversekerd gevoel. Miskien nie noodwendig dat ek sou wen nie, maar dat ek wel sou oorleef en die einde sou haal."
As jy alleen op see was en gesien het hoe skrikwekkend dinge kan raak, is dit goed om te weet dat daar ander mense daar buite is wat jou sal kom red as jy dit ooit nodig het.
— Kirsten Neuschäfer
Die wegspring was op 4 September 2022 by Les Sables- d'Olonne. Onder haar stuur het die Minnehaha ná die eerste 400 seemyl die Golf van Biskaje in die 10de plek verlaat.
By die eerste kontrolepunt by die Kanariese Eilande (Lanzarote) was sy sesde. "Ek was verstom om te sien hoe terneergedruk sy hieroor was. Dit was baie duidelik dat sy die wedvaart graag wou wen," het Don McIntyre, stigter en voorsitter van die GGR, later aan wyle Eben Human vertel (sien kassie).
Op pad na die kontrolepunt in Tafelbaai is die Engelsman Simon Curwen op Clara deur die Fin Tapio Lehtinen se Asteria en Neuschäfer gejaag, met Abhilash Tomy van Indië op Bayanat 'n entjie terug in die vierde plek.
Maar net ses dae weg van die Kaap was daar 'n onverwagte noodsein van Lehtinen en Neuschäfer is gevra om terug te draai om 'n nasionale seilheld van Finland te red.
Sy Asteria het binne vyf minute gesink ná waterinname van agter. Lehtinen het net tyd gehad om sy radioposisie-noodsein te aktiveer, sy oorlewingspak aan te trek, die grypsak te vat en op die reddingsvlot te klim, waar hy sy persoonlike noodbaken geaktiveer het en Asteria 'n laaste keer gesalueer het terwyl sy onder die water verdwyn.
"As jy alleen op see was en gesien het hoe skrikwekkend dinge kan raak, is dit goed om te weet dat daar ander mense daar buite is wat jou sal kom red as jy dit ooit nodig het. So ek het nie gehuiwer toe die organiseerders my laat weet dat Tapio se boot gesink het en hy in die suidelike Indiese Oseaan op 'n reddingsvlot lê nie. Dit was vanselfsprekend dat ek alles sou doen wat ek kon om so vinnig as moontlik by hom uit te kom."
Die foto van Neuschäfer en Lehtinen wat vinnig 'n slukkie rum vat voordat hy deur die vragskip Darya Gayatri opgepik is, was wêreldwyd nuus. Albei is later vir hul seemanskap vereer en Lehtinen het op 'n plegtigheid in Neuschäfer se afwesigheid gesê: "My held is nie vandag hier nie."
Curwen het die kontrolepunt by Tasmanië weer eerste bereik en het 'n voorsprong van meer as 1 000 seemyl begin opbou op pad na Kaap Hoorn.
Neuschäfer tref hier haar beste seildag in die Stille Oseaan met 'n sterk wind van agter.
Met haar goeie kennis van die suidelike oseane het sy geweet hoe om versigtig te seil by Kaap Hoorn. Die wedvaart se dramatiese keerpunt was juis hier toe Curwen sy windvaan in 'n storm gebreek het en hy vir herstelwerk na Chili moes uitwyk.
Windlose dae is vir die einde in die Golf van Biskaje voorspel, maar 'n onverwagte wind het die Suid-Afrikaanse vrou na die eindpunt in Frankryk gejaag en gehelp om die moedige Tomy af te skud.
Deur dit alles het Neuschäfer reg tot aan die einde nie besef sy gaan wen nie omdat sy bykans twee weke lank in die stiltegordel by die ewenaar vasgesit het.
"Ek het toe gedink die ander móés al verby my wees en selfs toe ek die Franse kus genader het, was ek oortuig dat ek nie die wenner sou wees nie," onthou sy.
Skielik, net sewe seemyl voor die einde en met die Franse kus in sig, het die wind gaan lê.
Mense op bote het uitgevaar om Neuschäfer te groet. Dis hulle wat eerste vir haar gesê het: "Jy het gewen."
Eers toe het sy gewéét.
Kirsten Neuschäfer en die Minnehaha het net stadig tot by die eindpunt gedryf.
'n Volle sirkel van sowat 30 000 seemyl is voltooi.
- Willem Jordaan is hoofredakteur van Die Burger.

Die Golden Globe-wedvaart
- Die GGR is 'n alleen-, onverpoosde om-die-wêreld-wedvaart wat oorspronklik in 1968 gehou is en in 2018 herleef het om die 50ste herdenking van die oorspronklike wedvaart te vier.
- Deelnemers moet alleen en sonder enige vorm van moderne tegnologie of hulpbronne onverpoos om die wêreld seil, wat dit een van die mees uitdagende en veeleisende seilwedvaarte maak.
- Bote van voorgeskrewe ontwerpe moet gebruik word en mag nie langer as 36 voet wees nie.
- Tradisionele navigasie-instrumente soos 'n sekstant en papierkaarte moet gebruik word, en satellietnavigasie of moderne kommunikasietoerusting is verbode.
- Die wedren begin en eindig in Les Sables-d'Olonne, Frankryk, en die roete neem deelnemers deur die Suidelike Oseaan, om die Kaap die Goeie Hoop, Kaap Leeuwin en Kaap Hoorn.
- Die GGR toets uithouvermoë, vaardigheid en geestelike krag. Deelnemers moet maande lank alleen op see deurbring, wat hulle blootstel aan uiterste weerstoestande, fisieke uitputting en isolasie.
- Die wedvaart is 'n huldeblyk aan die oorspronklike pioniers van alleen-om-die-wêreld-seil en bly 'n ikoniese uitdaging vir seiljagvaarders oor die wêreld heen.

Erkenning aan Eben Human
Dit is danksy wyle Eben Human se ondernemende dekking van die GGR dat kontak met Kirsten Neuschäfer vir die ambassadeurstoekenning oorspronklik bewerkstellig is. Die Burger eer hom daarvoor.
Hy is vroeër vanjaar skielik oorlede. Eben het van 1975 tot 2015 by Die Burger gewerk as onder meer sportjoernalis en later as redakteur van BuiteBurger. Ná sy aftrede in 2015 het hy hom veral toegespits op reis- en natuurfotografie en steeds stories en foto's vir dié koerant gelewer.
Eben was 'n afgeronde mens; 'n vaardige en passievolle joernalis wat selfs ná aftrede in eie reg 'n ambassadeur vir die koerant gebly het en steeds ons publikasie met sy puik foto's en wonderlike stories oor die omgewing verryk het. Vanjaar se ambassadeurstoekenning is deel van sý nalatenskap. - Redakteur
10 vrae aan Kirsten Neuschäfer
1: Is jy die soort avonturier wat probeer uitvind waar jou perke is, of pak jy avonture aan sonder om enigsins te dink aan jou eie grense?
Mmm, interessant. Ek dink toe ek jonger was, het ek nie regtig geweet waar my perke lê nie. Ná die Afrika-reis, byvoorbeeld, was ek nogal hoog op my eie sukses - dat ek iets kon doen wat baie mense vir my gesê het gevaarlik en onmoontlik is.
Daarna het ek probeer om met 'n hobie cat tot in Angola te vaar, maar die ding twee keer aan die Weskus verwoes. Dit was wel 'n goeie ervaring om my grense te begin kalibreer wat vaardigheid en ervaring betref.
So 20 jaar later, hier in my 40's, het ek 'n gefokusde vertroue begin voel in die seil-ervaring wat ek oor die jare opgedoen het. En die seemanskap en bootervaring beteken ek kan iets moeiliks doen sonder om simpel daaroor te wees of myself af te skryf. In my geval het dit dalk begin by dinge net aanpak sonder om oor grense te dink, net om toe wel my perke te vind.
2: Hoe lyk die daaglikse roetine ter see?
'n Tipiese dag wentel rondom jou sterrenavigasie. Ek sou voor sonop opstaan en dan 'n koffietjie wegslaan. Net ná sonsopkoms sal jy die beste tydsein kry, wat ek nodig gehad het om my polshorlosie te stel - sterre-navigasie berus op doodakkurate tyd. En dan, net daarna, sou ek my eerste aansig kry.
Hierdie navigasie-observasies het eintlik die pas aangegee. Ek sou die boot mooi deurkyk en seker maak niks gaan breek nie. Dan hang baie van die weerstoestande af. As die wind waai, sorg jy dat die boot so vinnig moontlik seil. Sonder wind, spring ek af met 'n snorkel en masker en maak seker daar's nie te veel groeisels op die romp nie. As ek oukei voel en die wind stoot en die barometer is bestendig, sou ek dalk ontspan met 'n boek. Jy slaap min en snags is jy eintlik deurentyd half-wakker.
3: Wat het jy geëet?
Ek het maar die gewone droë kosse soos rys, pasta, Smash, beskuit, graankos, tee en koffie gehad. Ook gevriesdroogde kos waar jy warm water in die sakkie gooi en dan kan jy dit ná twee minute eet. Maar jy kan dit nie vir agt maande eet nie.
Drie weke voor my vertrek het 'n Franse sjef wat die resies gevolg het, my vertel hy kry allerhande organiese bestanddele van markte en maak dan gepreserveerde kos in flesse. Hy het my 100 flesse gegee en dit was wonderlik, want elke fles het omtrent twee maaltye in gehad. Ek het dus nogal lekker geëet.
4: Het jy musiek geluister om die stilte te verbreek?
Kassette, ja. Dis mos 'n retro-wedvaart, so jy mag nie iPods of so iets hê nie. My musiek was uit die 1980's en 1990's - die era van kassette. Daar was byvoorbeeld baie Fleetwood Mac.
Op Prins Edward-eiland het ek 'n sanger-liedjieskrywer ontmoet wat bietjie van 'n plaaslike superster is, Lennie Gallant. Hy het vir my van sy kassette gegee. Hy skryf toe ook hierdie liedjie, "On the Minnehaha".
Toe ek in Les Sables-d'Olonne aankom, het daar musiek by die eindpunt gespeel, en ek dink toe maar ek ken mos hierdie stem.
Dis toe Lennie wat "On the Minnehaha" sing.
5: Wat het jy gelees?
Kindles is ook verbode - jy mag net papierboeke saamvat.
Ek het 'n vreemde versameling gehad, want mense het vir my leesstof bymekaar gemaak.
Maar ek het van my gunstelingboeke saamgeneem waarna ek weet ek altyd kan terugkeer en in ontsnap. Ek geniet historiese romans, want jy leer iets oor die historiese tydperk waaruit hulle kom. Ek is byvoorbeeld mal oor Dalene Matthee se boeke. Met die lang tyd op die blou see het ek werklik die klanke en reuke van die bos gemis, en met haar boeke was dit lekker om te kon verdwyn in die groen van die Knysnabos.
6: Wat het jy gemis?
Die gevoel en die reuk van plantegroei, want op die see is daar nét die reuk van die see, en naderhand ruik jy dit nie meer nie. Natuurlik het ek mense gemis, maar om eerlik te wees het ek die meeste na my honde verlang. Hulle is twee bosbrakke van Transkei X die een heet Dwesa omdat ek haar naby die Dwesa-reservaat in Transkei gekry het, en die ander een is Hluleka omdat ek haar naby die Hluleka-reservaat gevind het.
En roomys. Ek is gek daaroor en dis die eerste ding wat ek geëet het ná die wedvaart.
7: Die beste dag en die slegste dag?
Daar was 'n paar beste dae. Om uiteindelik net te kon begin en weg te kom van die mediasirkus en die openbare oog. Om uiteindelik tot by die beginpunt te kom en daaroor te seil, was baie lekker.
Die verbysteek van Kaap Hoorn staan uit as 'n vreugdevolle oomblik, want ek was onseker of ek dit met die sekstant sou kon vind. Ek kon met die vuurtoringwagter oor die VHF-radio praat en hy het vir my gesê ek was in daardie stadium voor. En dit het minstens gevoel of die ergste agter die rug is, al was dit nie noodwendig so nie.
Daar was erge storms, maar dan dóén jy net. Jy is in operasionele modus en daar is net geen tyd vir jou emosies om die oorhand te kry nie.
Maar wanneer daar net geen wind was nie, soos in die stiltegordel, was dit vir my geestelik die ergste. Ek het vir amper twee weke vasgeval. Ek het van my frustrasies ontslae geraak deur oefening. Ek sou die seile laat sak, oorboord spring en 'n lekker entjie van die boot af swem. Die Minnehaha sou bietjie kleiner word en ek sou dit vir 'n tydjie van 'n afstand af bekyk, dan terugswem en bly wees dat ek terug op die boot is. Want jy besef die boot is jou lewe.
Wanneer 'n negatiewe gedagtepatroon vir my gesê het ek verloor nou, want ek gaan die ander nie kan inhaal nie, dan stop ek myself net en breek dinge weer in klein stukkies op. Kom ons kom net deur vandag, want môre, oormôre is die wind terug, dan voel jy anders en die boot gaan weer onder jou roer en jy gaan weer haar verrigting sien.
Die beste en slegste dae tesame was die aankoms by die Kaapstadse hek, want ek was natuurlik bly ek het dit so ver gemaak en dis pragtig om Tafelbaai binne te kom. Jy sien die berg, dit was 'n maanlignag en daar was bultrugwalvisse oral. En albei my ouers (Annette en Siegfried) was daar. Maar dit was ook moeilik, want ek kon hulle nie eens 'n drukkie gee nie. Ek moes net wuif en voortseil.
8: Wat maak die see vir jou besonders?
Sjoe, so baie dinge. Wanneer ek alleen daarbuite is, voel ek regtig diep verbind aan die wêreld. Elke liewe dingetjie maak my dan gelukkig; die boot wat lekker spoed kry of 'n mooi sonsondergang. Of jy is in 'n storm en jy spook werklik met die boot en jy sien 'n albatros wat net rustig met uitgespreide vlerke in hierdie einste stormwind sweef.
Die snaakse ding is dat tyd op see jou die land meer laat waardeer. Een van die lekkerste dinge ná 'n lang vaart is wanneer jy weer land sien. Dit begin as hierdie klein spikkeltjie wat ál groter word totdat jy dit kan rúik.
9: Wat is jou raad aan enigiemand wat iets buitengewoons wil bereik?
Wanneer dit lyk asof jou ideaal buite bereik is en jy moed verloor, moet jy jouself stop en ophou om te ver vooruit te projekteer. Neem net die volgende stap.
Dit het my telkens deurgetrek wanneer ek regtig af gevoel het. Dan sê ek, oukei, sny nou alles uit, en oorleef net die nag, want môre kom die son weer op, die storm is verby en dinge lyk anders.
En dan neem jy die volgende stap en die volgende.
Dit verrig wondere.
10: Wat is volgende op jou agenda?
Ek sal dalk graag die Noordwestelike Deurvaart wil seil. (Die Noorse ontdekkingsreisiger Roald Amundsen was die eerste man wat die Noordwestelike Deurvaart suksesvol per boot genavigeer het, op 'n reis wat van 1903 tot 1906 geduur het.
Die roete lê in die waters tussen die Davisstraat en die Beringstraat, wat die Atlantiese Oseaan met die Stille Oseaan verbind. Dis binne die Arktiese Sirkel en see-ys maak die roete ontoeganklik.
Weens aardverhitting smelt die somer-ys egter meer en vinniger en kleiner vaartuie soos seiljagte kon vir die eerste keer in een somerseisoen deur die Noordwestelike Deurvaart navigeer.)














