Dis ’n eenvoudige vraag met ’n ingewikkelde antwoord. Hoe gaan dit met jou?
Aan die ander kant van die foon gee Gerco van Deventer eers die standaard-antwoord, dieselfde as wat hy laas jaar gegee het: “Goed.”
Dan bly hy ’n bietjie stil voor hy byvoeg: “Maar alles in die lewe vat mos tyd.”
Van tyd kan jy hom niks vertel nie. Ses jaar lank het hy die dae wat verbygaan getel, die een ná die ander. Gerco is in 2017 in Libië ontvoer toe hy daar as paramedikus gewerk het. Later is hy aan terroriste in Mali verkoop – waar hy in die woestyn aangehou is.

Telkemale het hy begin aftel na wanneer hy gedink het hy dalk vrygelaat gaan word.
Dit hét eindelik gebeur, maar eers in Desember 2023, waarna hy met sy vrou, Shereen, herenig is en terug is Swellendam toe, waar die paartjie woon.
Nou mik hy weer terug na die veld waarin hy destyds gewerk het, vertel Gerco opgewonde aan Huisgenoot. Hy is besig om weer al sy kwalifikasies op datum te kry – daar lê nog ’n paar eksamens vir hom voor. Hy hoop om ook noodhulpklasse aan te bied.
“Maar jy weet mos alles vat tyd. Ek was lank weg. Maar ek is nou nogal baie besig. Ek doen kursusse, en ek werk nou met maatskappye wat hulle mense vir ontvoerings wil oplei. Ek doen ook motiveringspraatjies. Alles is maar ’n proses. Ek bid dit sal in plek val. Ek glo dit sal.”

Sy werk saam met die maatskappye is om die mense wat daar werk voor te berei op wat hulle moet doen as hulle ontvoer word. En wie dan beter as die man wat ses jaar lank van terorris na terroris geskuif is, en op wie daar in die woestyn geskiet is?
“Dit is ’n veld wat ek baie goed ken. Ek wil teruggee vir mense. Ek het daai ervaring en ek wil dit met ander mense deel,” sê hy.
Hy het veral gesien dat baie mense wat hulself in gevaarlike situasies bevind, agterna sukkel om weer by die samelewing aan te pas.
“Van die mense sukkel met PTSD. Ek moes maniere vind om te verwerk wat met my gebeur het terwyl ek nog in die woestyn was. Ek is daardeur. Nou wil ek ander mense help om te leer hoe hulle sulke situasies kan hanteer. Want wat doen jy in ’n vyandige omgewing?”
Dis goed vir hulle om te leer hoe ’n mens sulke omstandighede kan oorleef wanneer dinge gespanne raak, meen hy.

“Ons word deur besluite gekonfronteer. Jou besluit kan die verskil tussen lewe en dood beteken. Gaan jy lewe of gaan jy huil oor jou situasie? Niemand gaan jou in daardie situasie help nie.”
Die lewe op Swellendam pas hom goed. Hy geniet die plattelandse rustigheid en ry van daar af na waar hy moet wees vir werk.
Sy gesondheid is ook goed, nadat hy aanvanklik hulp moes kry nadat hy teruggekom het.
’n Tandarts in Pretoria het na sy tande omgesien, en hy het ’n bril gekry nadat sy oë in die woestyn beskadig is.
Maar aan sy arm laat hy nie werk nie. Gerco se arm is een aand beskadig toe die djihadi’s op hom geskiet het. Die koeël is regdeur sy arm, en die beweging daarvan is vandag ’n bietjie beperk, al is dit nie seer nie.
“Ek het skanderings van my arm laat neem, maar ek kan krag en funksionaliteit in my arm verloor as ons gaan opereer. My arm is nog oukei. Ek gaan maar so voortgaan,” sê hy.

Hy maak ook seker dat hy na sy geestesgesondheid omsien terwyl hy sy lewe herbou en sy loopbaan weer op dreef probeer kry.
“My geestesgesondheid moet oukei wees tydens hierdie proses. Dit is vir my baie belangrik.”
Hy besef hy moet ook praat oor die ses jaar in aanhouding. Dit is hoe mens aanhou om te verwerk waardeur jy gaan.
“Ek weet as ek nie daaroor praat nie, gaan dit my aan die binnekant opvreet. Dit is hoe mens vorentoe beweeg. Dit is ook hoekom ek my ervaringe wil deel – dis noodsaaklik. Ons kan nie so alleen deur die lewe gaan nie.”
1630

















