Mense

Wêreldrekord vir grootste marimba-ensemble spat by GrandWest

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In 'n "dapper vertoning van eenheid, ritme en jeugdige vreugde" het 1 178 marimba-spelers van Suid-Afrika en Zimbabwe Saterdag by die GrandWest-casino in Kaapstad bymekaargekom en 'n Guinness-wêreldrekord vir die grootste marimba-ensemble ter wêreld opgestel.

Die vorige rekord is gehou deur Marimbas por Guate van Guatemala met 'n span van 505 spelers. Die rekord is op 11 Desember 2021 opgestel.

Vir die amptelike rekord het die spelers 'n tien minute lange uitvoering van Shakira en Freshlyground se "Waka Waka" en Master KG en Nomcebo Zikode se "Jerusalema" gegee, lui 'n verklaring.

Een van die marimbaspelers Saterdag in aksie. Foto: Facebook/Premier Alan Winde
Een van die marimbaspelers Saterdag in aksie. Foto: Facebook/Premier Alan Winde

Die wêreldrekordpoging was 'n vennootskap tussen Marimba Jam, 'n organisasie sonder winsbejag, en GrandWest. Marimba Jam het al die spelers bymekaargebring en GrandWest het al die kostes gedek.

Die geleentheid het selfs internasionale toesig gehad met 'n beoordelaar wat van Londen ingevlieg het.

Spelers van agt tot 62 jaar oud, van meer as 70 skole en instellings van elke provinsie in Suid-Afrika asook twee skole in Zimbabwe, het deel uitgemaak van die ensemble.

Die opwinding was groot toe die groep van meer as 1 100 Saterdag hoor hulle het 'n Guinness-wêreldrekord opgestel. Foto: Theo Jeptha
Die opwinding was groot toe die groep van meer as 1 100 Saterdag hoor hulle het 'n Guinness-wêreldrekord opgestel. Foto: Theo Jeptha

Kiara Ramklass, stigter van Marimba Jam, sê: "Suid-Afrikaanse marimbas is in C majeur gestel - dis amper onmoontlik om hartseer te voel wanneer jy hulle hoor."

"Dit skep hierdie magiese, vreugdevolle energie. Dis wat ons Saterdag met die wêreld gedeel het. Maar hierdie geleentheid is meer as net om 'n rekord op te stel; dit gaan daaroor om te wys wat moontlik is wanneer ons oor sosio-ekonomiese verskille heen saamkom - private skole, township-skole, plattelandse skole - alles op een verhoog. Dis 'n harde, vreugdevolle boodskap van ubuntu."

Mervyn Naidoo, GrandWest se hoofbestuurder, sê hulle is trots en geëerd oor wat Saterdag vermag is.

"Die spelers was uitsonderlik, veral aangesien die groepe Saterdag vir die eerste keer ontmoet het, maar hul roetine naatloos uitgevoer het. Die gehoor het elke oomblik daarvan geniet.

Hoe die opset Saterdag in die GrandWest Arena gelyk het. Foto: Theo Jeptha
Hoe die opset Saterdag in die GrandWest Arena gelyk het. Foto: Theo Jeptha

"Die oomblik toe die spelers die GrandWest Arena met middagete binnebeweeg het vir die amptelike telling, het die opwinding regtig begin opbou. Die gehoor was stil tydens die vertoning, maar almal, insluitend die spelers, het letterlik van vreugde gespring en geskreeu toe dit verby was en die amptelike aankondiging gemaak is."

Kiara Ramklass, stigter van Marimba Jam, met die Guinness-sertifikaat nadat hulle Saterdag 'n wêreldrekord opgestel het. Foto: Facebook/Premier Alan Winde
Kiara Ramklass, stigter van Marimba Jam, met die Guinness-sertifikaat nadat hulle Saterdag 'n wêreldrekord opgestel het. Foto: Facebook/Premier Alan Winde

Premier Alan Winde en Ricardo Mackenzie, LUR vir kultuursake en sport, het ook Saterdag se geleentheid bygewoon.

Winde skryf op Facebook: "Ek is ongelooflik trots op ons provinsie dat ons gasheer gespeel het vir hierdie stukkie geskiedenis. Aan elke leerling, opvoeder, organiseerder en ondersteuner: Dit is julle oorwinning! Dankie dat julle die wêreld wys wat moontlik is wanneer ons jeug die geleentheid aangryp."

- carl.thomas@media24.com

Meer as 1 100 mense het Saterdag aan die ensemble deelgeneem om 'n Guinness-wêreldrekord te kon opstel. Foto: Theo Jeptha
Meer as 1 100 mense het Saterdag aan die ensemble deelgeneem om 'n Guinness-wêreldrekord te kon opstel. Foto: Theo Jeptha

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM