'N YouTube-video oor 'n geheime ekostelsel in 'n ondergrondse rivier 500 m onder die Larsen-ysrak van Antarktika wat Nieu-Seelandse navorsers onlangs ontdek het, het my laat wonder wat van ons eie "ysbreker", Henry Valentine, voormalige direkteur van Suid-Afrika se Nasionale Antarktiese Program (Sanap), geword het. Ek het hom in sy pragtuin in Durbanville opgespoor, rustig afgetree saam met sy vrou, Claudine. Ek wou by hom hoor wat hom besiel het om dié beroep te volg en sommer ook meer van die uiterstes en sy avonture doer onder.
Valentine (68) se "ys-avonture" in die Suidpool strek oor 35 jaar, eers as navorser in oseanografie by die WNNR, daarna as akademikus by die Universiteit van Kaapstad (UK) waar hy ook sy honneursgraad in atmosferiese wetenskappe en 'n meestersgraad in oseanografie verwerf het. Daarna was hy vir 17 jaar die direkteur van Sanap by die departement van omgewingsake tot sy aftrede in 2016.

Waar het jou besonderse verhouding met die Suidpool begin?
Ek het een jaar as oseanografiedosent by die UK my ses nagraadse studente op 'n ekspedisie met die SA Agulhas op die see gevat. Dit was so 'n groot sukses dat dit 'n jaarlikse instelling geword het. Skielik was oseanografie as studierigting baie gewild, met ekspedisie-opsies na Suid-Afrika se basisse op Marioneiland, Gougheiland en Antarktika onder my leiding.
Vertel van jou tyd by Sanap
Na vyf jaar by die UK het ek by die departement van omgewingsake aangesluit as bestuurder van Sanap. Ek moes Suid-Afrika se betrokkenheid en teenwoordigheid in die Suidelike Oseaan bestuur, aspekte soos befondsing vir en koördinering en fasilitering van navorsing, logistieke ondersteuning aan drie verafgeleë navorsingstasies, oorsig oor die SA Agulhas en daarna die SA Agulhas II, werwing en keuring van ekspedisielede asook skakeling met nasionale en internasionale belanghebbendes.
As direkteur het ek Suid-Afrika verteenwoordig op die Antarktiese Verdragsvergadering as leier van ons land se delegasie vir meer as 10 jaar en was ek ook uitvoerende bestuurslid van die Council of Managers of National Antartic Programmes (Comnap) vir baie jare. Hoewel Antarktika aan geen land behoort nie, dien die Antarktiese Verdragsvergadering vir twee weke van die jaar as die besluitnemende liggaam (volgens konsensus) oor belangrike omgewingsaspekte in die Suidelike Oseaan en maak wette vir Antarktika.
Vir my as 'n plaasjapie van Bredasdorp was die verantwoordelikheid baie groot, maar dit was ook goed om skouers te skuur met groot wêreldleiers. Die belangrikste was om die kwessies en veral die omstrede goed te verstaan en nou saam te werk met die minister van omgewingsake om jou land se posisie korrek te verwoord en te verdedig.

Hoe werk die ekspedisieperiodes en wat word alles benodig?
Die ekspedisieperiode vir Marioneiland in die Indiese Oseaan strek van April tot Mei. Vir Gougheiland in die Atlantiese Oseaan is dit September tot Oktober en vir Antarktika in die Suidpool, Desember tot Maart.
Beplanning vir elke ekspedisie begin drie maande voor die tyd, so jy kan jou indink watter logistieke nagmerrie jy mee sit. Dis 'n reuse-beplanning vir voorraad wat 'n jaar moet hou: kos, brandstof, tegnologiese en navorsingsvoorraad, mediese voorraad vir die hospitaal, korrekte kleredrag geskik vir temperatuuruiterstes, masjinerie en parte, toiletware, letterlik "from a toothpick to a million litres fuel".
Produkte se raklewe moet jy in ag neem! Ek moes seker maak my kantoorspan van so 50 kundiges mis niks nie. Bewaar jou siel as jy van die Kerspoeding vergeet het! Dié moes jy byvoorbeeld al in Februarie bestel het vir Marion-eiland se span. Nou watter supermark het daai tyd van die jaar Kerspoeding?
Die temperatuur op Antarktika wissel van 20 °C binne met sentrale verhitting tot -30 tot -40 °C buite. Binne dra jy plakkies en kortbroeke maar sodra jy buitentoe gaan, verander jy in 'n sneeuman in die aantrekkamer, van sneeustewels, lae sneeubestande kledingstukke en sneeubrille tot handskoene en sneeumusse, anders is dit tiekets met jou as jy in die ys of 'n sneeustorm vasval!
Hoe lank neem so 'n vaart van Kaapstad-hawe tot by die stasies en hoeveel mense is betrokke?
Marion- en Gougheiland toe neem omtrent vyf dae. Vanaf Gough-eiland seil die SA Agulhas Tristan da Cunha toe - 'n dag se vaart - om passasiers en voorraad af te lewer volgens 'n ooreenkoms met Brittanje aan wie die eiland behoort. Antarktika toe vat sowat 14 dae, afhangend van die ysdikte. Een jaar het dit ons 24 dae gevat met die SA Agulhas om Antarktika te bereik, so dik was die ys. Met die SA Agulhas II kon ons gelukkig beter deur die ys breek omdat dit spesifiek as 'n ysbreker gebou is wat deur see-ys met 'n dikte van een meter teen vyf knope kan breek, dus vat dit vir haar normaalweg 10 tot 14 dae.

Die SA Agulhas moes ons egter, ná meer as 30 jaar diens, noodgedwonge in 2012 laat "uittree" weens verouderde tegnologie en omdat dié skip nie werklik 'n ysbreker was nie, maar wel 'n versterkte boeg gehad het. Ek het 'n groot rol gespeel in die ontwerp van die SA Agulhas II, veral sy wetenskaplike behoeftes omdat ek as navorser verstaan het wat werklik nodig was om 'n veilige werksomgewing vir die navorsers te skep.
Daar's 100 passassiers op die SA Agulhas II: navorsers, personeel van die departement van openbare werke wat die basis se infrastruktuur in stand moet hou en logistieke personeel van omgewingsake. Daar's ook twee groot helikopters met hul ondersteuningspan.
Wat doen hulle daar op Antarktika?
Van die meer as 30 lande wat navorsingstasies op Antarktika beman, is Suid-Afrika se oorwinteringspan die kleinste, met 10 ekspedisielede wat vir 'n jaar op die massiewe basis oorwinter. Die tien sluit in twee dieselwerktuigkundiges, ingenieurs, weerkundiges, 'n mediese dokter en navorsers. Hierdie span moet oor die regte vaardighede beskik en dus noukeurig gekies word, want hulle bly daar vir 'n jaar voor die skip weer 'n nuwe span bring en die huidige span terugneem, met 'n twee maande skaduperiode van hul voorgangers.
Met Antarktika as die "continent for science" sluit die navorsing onder meer in weerpatrone, klimaatsverandering, die atmosfeer (osoonlaag), ruimtelike weernavorsing en ons GPS-stelsel, wat slegs by die pole gedoen kan word weens die afwesigheid van magnetiese veld by die Suidpool.

Watter uitdagings en "benoude" oomblikke moes jy hanteer?
Jy kan nie Antarktika deur 'n lens van 'n kamera beleef nie, die ys wat onder jou voete breek as jy daaroor loop. Hier besef jy daar is 'n Hoër Hand. Dit raak daar so stil dat dit seer is. Die uiterste natuurtoestande is baie skadelik vir jou liggaam. Jy brand van onder af, veral rondom die oë. Jy brand só dat jou vel afskilfer. Sonder sneeubrille kan jy blind raak. As ons die goggles afhaal, lyk ons almal soos raccoons!
Met die ys wat gemiddeld een meter per jaar toeneem, het die ou basisse wat op ys gebou was, onveilig geraak, so ons moes nuwes op stelte bou sodat die ys tydens sterk winde en sneeustorms onderdeur kon waai. Antarktika is baie hoog bo seespieël, so jy kan daar ook bergsiekte opdoen. Die voertuie (met sleë) verloor baie krag om by hoër basisse uit te kom.
Op Marioneiland, aan die ander kant, reën dit weer feitlik elke dag. Daar's nie fietse of voertuie nie, jy moet stap om by elk van die nege hutte op die eiland uit te kom en jy raak sopnat regdeur. Die hutte is toegerus met 'n stoof en verwarmers om jou klere droog te maak. Môre moet jy weer daai klere aantrek en met die swaar rugsak stap tot by die volgende hut.
Die SA Agulhas het al meer as een keer in die ys vasgesit. Maar ons het geweet hulp sal kom. Die Duitse Polarstern het ons byvoorbeeld al 'n paar keer kom losbreek omdat hul basis die naaste aan die SA basis is. Gelukkig is radiokommunikasie gevorderd, so jy voel nie verlore nie.
Dan gaan die skip ook deur baie storms soos die Roaring Forties, die Screaming Fifties, die Vicious Sixties. Dis maar erg, maar jy moet die skip en die ervare kaptein vertrou. Jy moet aanvaar dat die skip sal oorleef, so jy wag maar net tot die storm oor is. By die basis op Antarktika kan die wind soms tot 200 km per uur waai. Gelukkig is die mure sowat 50 cm dik en met glas geïsoleer.
Met die aanbou van die nuwe basis is toue gespan waaraan jy moes vashou wanneer jy buitentoe gaan tydens 'n storm. Op Antarktika praat ons van 'n "white-out": Alles is spierwit sodat jy nie jou hand voor jou oë kan raaksien nie. Ek onthou een baie hartseer geval toe 'n konstruksiewerker tydens 'n storm vergeet het om aan die toue vas te hou. Die wind het hom weggewaai. Vir twee dae het ons tevergeefs na hom gesoek. Na die storm het ons sy liggaam gekry.
'n Ander geval was van 'n jong ekspedisielid, pas gegradueer, wat met 'n sneeumobiel verongeluk het. Ek moes die hartseernuus aan sy ouers gaan oordra, een van die moeilikste take waarvoor ek nog verantwoordelik was.

Samewerking met ander lande
In terme van Solas (International Convention for the Safety of Life at Sea) moes ons soms ons groot helikopters gebruik om siek pasiënte van ander lande met "swakker" toerusting te help ontruim en na ons buurbasisse neem met beter infrastruktuur.
So het ons helikopter op Antarktika een keer Indië uitgehelp om hul beroertepasiënt tot by die Duitse basis te neem - dis sover ons helikopter kon vlieg - wat op hul beurt die pasiënt per vliegtuig by die Amerikaanse basis besorg het. Die Amerikaners kon met een van hul groot vliegtuie die pasiënt na 'n hospitaal in Nieu-Seeland neem om die pasiënt se lewe te red.
Daar was baie sulke voorbeelde.
Vertel ons van jou hoogtepunte
'n Hoogtepunt was beslis my bydrae tot die ontwerp van die SA Agulhas II, en dan my Comnap- voorsittersmedalje wat ek in die Tsjeggiese Republiek ontvang het vir my werk in Antarktika as hoof van die SA delegasie, die aanbieding van die Antarktiese Verdragskonsultasievergadering by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum, asook vir my publikasies in wetenskapjoernale.
Verder, noem enige van die wêreld se groot diepsee-navorsingskepe en ek was daarop: die Oden van Swede, Polarstern van Duitsland, die RV Knorr van Amerika, die Discovery van Engeland.
Mis jy daai lewe?
Beslis! Die ys is in my bloed. Ek sal maar altyd hunker na daai avontuur.
Maar ek geniet my aftrede en is stadig besig om my wenslysie saam met Claudine af te merk. Kort voor Covid het ek saam met die bulle in Pamplona in Spanje gaan hardloop. Dis nou vir jou 'n ysbreker van 'n ander kleur!
Ons het ook die Grand Canyon gaan ervaar. Ek doen gelukkig steeds soms konsultasiewerk en verder maak ek maar tuin.
GEBORG
Noble Resorts

Noble Resorts is bekroonde, multi-generasie- residensële landgoedere vir 50-plussers in 'n later stadium in hul lewe. Hier vloei styl, kultuur en weelde naatloos uit die kontemporêre wooneenhede. Van sluit-en-ry-ateljeewoonstelle met privaat patio's tot ruim villas met hul eie tuine is beskikbaar. Al die ruimtes skep 'n gevoel van ontvlugting in dit wat jy jou tuiste kan noem. Die moontlikhede van waarmee om jou tyd te verwyl is eindeloos. In die hart van elke oord is daar vyfster-geriewe met 'n buiteklub waar jy jou passie vir die lewe kan uitleef met liggaam, siel en verstand. Al die geriewe, personeel, kundigheid en aanpasbaarheid tot jou beskikking sal spreek tot hoe ook al jou behoeftes mettertyd verander.




















