Twee verdagtes sal na verwagting Donderdag in die landdroshof in Alexandra, Johannesburg, verskyn in verband met die beweerde diefstal van meer as R6 miljoen by Capitec Bank.
Volgens AO Thatohatsi Mavimbela, polisiewoordvoerder, het Capitec Bank tussen November 2023 en Januarie 2024 'n stelselfout ervaar wat nie verklaar kon word nie.
"In dié tyd het een van die verdagtes die fout opgemerk en onwettig 'n bedrag van meer as R6 miljoen na sy Capitec-sakerekening sowel as kredietkaart oorgeplaas. Die verdagte het toe die geld oor verskeie bankrekeninge versprei en twee voertuie met die geld gekoop," sê Mavimbela.
Die bank kon daarin slaag om net meer as R2,4 miljoen te verhaal, maar het 'n verlies van meer as R4 miljoen gely.
'n Lasbrief is Woensdag vir die verdagtes se inhegtenisneming uitgereik.
Hulle word aangekla van diefstal en sal na verwagting Donderdag hul eerste hofverskyning maak.

















