Die poppe is behoorlik aan die dans vir ’n familie van Mitchells Plain nadat ’n video van ’n vierjarige seun wat aangehits word om Black Label-bier te drink, vandeesweek wyd en syd op sosiale media versprei is.
’n Saak van kindermishandeling is by die Mitchells Plain-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Die saak is na die polisiekantoor se eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe oorgeplaas, sê kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, by navraag aan Netwerk24.
Vier kinders tussen sewe maande en 11 jaar oud is deur personeel verbonde aan die departement van maatskaplike ontwikkeling verwyder en in die sorg van veiligheidsouers geplaas.
Die kinders is ook na die Thutuzela-sentrum geneem vir mediese ondersoeke.
Van Wyk sê die ondersoek duur voort en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
In die video kan ’n man gehoor word waar hy vir die kind sê: “Drink eers daai klaar, dan gaan ek drink.” Later sê dieselfde stem ook: “Sluk, sluk.”
Die kind skink dan nog ’n glasie Black Label en gee dit vir die man aan, wat nie in die gesigsveld van die kamera is nie. Die man het ook gelag nadat die kind die glas opgedrink het.

Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling wou by navraag nie veel oor die saak uitwei nie.
Monique Mortlock-Malgas, woordvoerder, het by navraag gesê hulle het onmiddellik kinderbeskermingsprotokolle geaktiveer.
Die departement het verder in ’n verklaring die gedrag in die video, “waar volwassenes kinders toelaat om alkohol te gebruik en te hanteer”, ten sterkste veroordeel.
“Die uitwerking van alkohol op kinders kan ernstig en lewenslank wees. Alkoholgebruik kan breinontwikkeling beïnvloed en kan lei tot emosionele en gedragsprobleme.”
Die departement moedig alle mense aan wat van soortgelyke voorvalle weet om dit by hul naaste kantoor vir maatskaplike ontwikkeling, kinderbeskermingsorganisasie of die polisie aan te meld.
Wanneer ’n verslag van kindermishandeling en/of -verwaarlosing ontvang word, doen maatskaplike werkers ’n risiko- en veiligheidsassessering, wat die soort ingryping bepaal, verduidelik die departement.
Met die aanvang van die feestyd doen die departement ook ’n beroep op volwassenes om verantwoordelik op te tree.
Volgens die departement was daar ’n toename in die aantal kinders wat sorg en beskerming benodig. In 2023 was daar net meer as 39 000 kinders in pleegsorg in die provinsie. In 2025 het dit tot meer as 43 000 gestyg.
Mense het ook op Facebook oor die video uitgevaar.
“Skokkend. Dit maak my naar. Behoort opgesluit te word,” het een persoon geskryf.
“Ek sal daai bierbottel oor daai onnosel se kop slaan, sowaar,” skryf nog een.
Netwerk24 verneem dat die pa aanvoer dit was nie hy of die ma wat die kind die bier gegee het of die video gemaak het nie.
Pogings om Sondag met die ouers kontak te maak was onsuksesvol.















