Misdaad

9 vas ná ontvoering van Gqeberha-vrou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tracey Fourie
Tracey Fourie (Netwerk24)

’n Groot deurbraak teen georganiseerde misdaad is in die Nelson Mandelabaai-metro gemaak met die inhegtenisneming van nege mense in verband met die ontvoering van die 62-jarige Tracey Fourie.

Fourie was verlede Woensdag laat op pad huis toe, toe sy in Gqeberha se Noordeinde-gebied oorrompel en ontvoer is. Haar motor is die volgende oggend vroeg verlate in New Brighton aangetref, het Netwerk24 berig.

Sy is Maandag vrygelaat nadat ondersoekers “druk” op die ontvoerders uitgeoefen het, het lt.kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, gesê.

Volgens Fumba is hulle betrap met ’n groot bedrag geld, ongelisensieerde vuurwapens en twee voertuie wat glo in die misdaad gebruik is.

Toe Fourie Maandag gered is, is drie mense in hegtenis geneem.

Fourie se werkgewer, Chris Kaldelis, eienaar van S&D Appliance Warehouse in Gqeberha, is in Julie ook ontvoer. Hy is vyf dae later ongedeerd vrygelaat.

Soos in Kaldelis se geval is ’n losprys ook vir Fourie se vrylating geëis.

Net meer as ’n week tevore is twee mans weens die ontvoering van Theresa Minnie (73) van Kariega in hegtenis geneem. Die twee, Ayabulela Busakwe (31) en Andile Matumbu (19), het Woensdag in die landdroshof in Kariega verskyn waar hulle op drie aanklagte teregstaan.

Minnie is op 11 Augustus voor haar huis in Fairbridge Heights deur gewapende mans oorrompel en ontvoer.

Luidens die klagstaat is haar hande en voete vasgebind en is sy vyf dae lank op ’n onbekende plek in ’n vertrek aangehou voordat sy by ’n polisiekantoor in Kariega afgelaai is.

Luidens die klagstaat is R10 miljoen as losprys by Minnie se man geëis, maar dit blyk dat R1,1 miljoen vir haar vrylating betaal is.

Netwerk24 het vroeër van bronne verneem die beskuldigdes is in klopjagte vasgetrek nadat Minnie vrygelaat is.

Byna R200 000 is glo in een van die beskuldigdes se besit gevind en net minder as R100 000 by die ander. Twee voertuie wat glo met die ontvoering verbind word, is in beslag geneem.

Daar is verwag dat Busakwe en Matumbu se borgtogaansoek Woensdag sou begin het, maar hulle het toe aangedui hulle gaan nie in dié stadium daarmee voort nie.

Die saak teen Busakwe en Matumbu is tot 22 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM