Misdaad

Bedrog in boubedryf: 5 vas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
'n Lid van die Valke staan by een van dié eenheid se voertuie nadat een van die verdagtes in die voertuig geplaas is.
'n Lid van die Valke staan by een van dié eenheid se voertuie nadat een van die verdagtes in die voertuig geplaas is. (Foto: Verskaf)

Vyf mense is Dinsdag in die vroeë oggendure weens beweerde konstruksiebedrog, diefstal en geldwassery ten bedrae van R12 miljoen vasgetrek.

Vier maatskappye sal ook in verband met dié klagte vervolg word.

Lt.kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, sê in ’n verklaring die operasie is in die Wes- en die Oos-Kaap uitgevoer en nog verdagtes sal na verwagting in hegtenis geneem word.

Die inhegtenisnemings volg nadat die eienaars van die konstruksiemaatskappy Pro-Khaya, wat in Gqeberha gesetel is, klagte by die Valke ingedien het.

Die beweerde misdade het van 2015 tot 2018 plaasgevind toe Pro-Khaya sy bedrywighede na Kaapstad wou uitbrei, sê Fumba.

Pro-Khaya het een van die verdagtes, ’n gekwalifiseerde bourekenepraktisyn, as takbestuurder in Kaapstad aangestel.

KYK | Valke slaan toe op beweerde bedrog verdagtes Die Valke het Dinsdagoggend vyf verdagtes in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog ter waarde van R12 miljoen (thapelo.mofokeng@media24.com)

“Die persoon het na bewering misbruik gemaak van sy posisie deur sy eie private maatskappy te stig wat dieselfde dienste as die moedermaatskappy aangebied het.”

Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte subkontrakteurs geïdentifiseer het wat na bewering met hom saamgesweer het om fiktiewe fakture aan die moedermaatskappy uit te reik.

Na bewering het die subkontrakteurs op hul beurt betalings terug aan sy private maatskappy gemaak.

Die geskatte verlies beloop R12 miljoen.

Die Valke het laatmiddag bevestig dat Faris Monan (37), Sihaam Tifloen (37), Nicholas Cloete (46), Edward Marais (59) en Anthea Marais (48) in die landdroshof in Kaapstad verskyn het.

Borgtog van R50 000 elk is aan Monan, Tifloen en Cloete toegestaan, terwyl die Marais’s in aanhouding bly.

Die vyf sal Woensdag weer in die hof verskyn.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM