Verskeie klaskamers, 'n kamerastelsel en die snoepie het deurgeloop toe boewe oor die naweek op 'n hoërskool in die Rosestad toegesak het.
Teen Maandagmiddag was die omvang van die skade wat weens die inbraak by die Hoërskool Sand du Plessis aangerig is nog onbekend.
Volgens Riana Nel, skoolhoof van die Hoërskool Sand du Plessis, is daar onder meer skade aan die kamerastelsel, wat dié skool verlede jaar teen R240 000 geïnstalleer het, asook die snoepie, waarvan die deur oopgebreek is.

Nel sê die onbekende getal inbrekers het van die kameras gedeaktiveer, terwyl verskeie van die drade óf geknip óf uitgetrek is.
Die maatskappy wat die kameras geïnstalleer het, was Maandag op die perseel om die skade te bepaal. Dit lyk asof die meeste van die kameras herstel sal kan word.
Verskeie klaskamers is ook geplunder en kaste se deure is oopgebreek. Minstens 10 klaskamers het onder die inbrekers deurgeloop, sê Nel.

Boonop het die inbrekers hulself in die snoepie tuisgemaak en ook vir hulle kos en koeldrank berei.
Nel sê hulle het Sondag van die inbraak te hore gekom toe 'n onderwyser by die skool was om werk te kry. Dit is toe dat die inbraak ontdek is.
Volgens Nel is dit 'n slegte manier om die tweede kwartaal mee te begin, maar alles sal gereed wees om Dinsdag die leerlinge te ontvang.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in verband met die inbraak aangekeer nie.















