Twee vrywilligers by ’n ongelukstoneel is dood toe hulle deur ’n vermeende dronkbestuurder getref is.
Nog ’n vrywilliger veg om haar lewe in die hospitaal ná die voorval wat Saterdagoggend vroeg op die N4 in Hectorspruit, naby die Jeppe’s Reef-kruising, gebeur het.
Zelma D’Hollander (53) en Donovan Prince (29) was as vrywilligers op die toneel om die owerhede by te staan.
Moeti Mmusi, ’n woordvoerder van Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê ’n vragmotor het Saterdagoggend vroeg daar omgeslaan.
Die span vrywilligers is na die toneel ontbied om te help.
“Terwyl hulle doenig was, het ’n ander voertuig glo met ’n reusespoed op die toneel afgepyl,” sê Mmusi.
D’Hollander en Prince is op die toneel dood.

Letta Taylor, nog ’n vrywilliger, is na ’n hospitaal gehaas.
Taylor en D’Hollander is deel van ’n groep vrywilligers van Hectorspruit, Emergency Volunteer Assist (Eva), wat die owerhede op ongelukstonele bystaan.
Hannelie de Beer, wat deel is van die vrywilliger-groep maar nie Saterdag op nie toneel was nie, sê Prince woon nie meer in Hectorspruit nie, maar is nog nou by die gemeenskap en veiligheid betrokke.
Volgens De Beer was Taylor teen Sondag in ’n kritieke toestand.
Sy het beserings aan haar skouer en pelvis opgedoen en het ook inwendige bloeding.
“Sy het Sondag ’n eerste operasie aan haar skouer ondergaan, maar haar longe het daarna platgeval.
“Sy is aan ’n ventilator gekoppel en in die hoësorgeenheid,” sê De Beer.

Prince, D’Hollander was helde
De Beer was onder verskeie mense wat na Prince en D’Hollander as “helde” in hul gemeenskap verwys het.
Benewens sy werk in die gemeenskap, was Prince ook die bewaringsbestuurder van die Mjejane-wildreservaat en die pa van Emily (twee en ’n half jaar oud), sê sy vrou, Jeniffer Prince.
“Hy leef vir die bos; dit en ons dogtertjie was sy trots.
“Hy het drie of vier weke gelede nog ’n renosterwesie gered. Die bos en bewaring was sy passie,” sê Jeniffer en voeg by Prince was Emily se held.
Die egpaar het in Malelane gewoon, waar Jeniffer ’n onderwyseres by die plaaslike laerskool is.
Sy begin huil toe sy van Prince en hul lewe saam vertel: “Hy los ’n helse leemte in hierdie dorp en plek. Daar is niemand soos hy nie.
“Die mooiste van hom is dat hy nooit teruggestaan het om te help nie en dit is wat sy dood veroorsaak het.”
D’Hollander se man, Patrik, het Sondag aan Netwerk24 gesê hy is “te gebroke” om nou te praat, maar het De Beer, ook ’n hegte vriendin van die egpaar, aangewys om met die media te praat.

Volgens haar was D’Hollander vreeslik nou by die gemeenskap betrokke – Eva wat die nooddienste bystaan, ’n plaaslike brandweer en ’n inisiatief om Hectorspruit in sy volle glorie te herstel.
“Zelma was vir ons almal ’n inspirasie.
“Sy sou net eenvoudig nie aanvaar dat enige probleem onoorkombaar was nie.
“Jy kan aan enige huis in hierdie dorp se deur klop en hulle gaan haar ken,” sê De Beer.
Die Kruger Laeveld se toerisme-en-sakekamer het die D’Hollander-egpaar in 2023 vir hul filantropie en impak op die gemeenskap vereer.
D’Hollander word oorleef deur haar dogter en skoonseun, Bianca en Wilan Nieuwenhuizen, seun en skoondogter Jean en Tania D’Hollander, en drie kleinseuns, De Wet, Bouwer en Willem Nieuwenhuizen.

Verdagte vas
Brig. Donald Mdhluli, ’n polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het bevestig ’n 40-jarige verdagte is in hegtenis en sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Malelane verskyn.
Volgens Mdhluli sal die man teregstaan op aanklagte van dronkbestuur, roekelose en nalatige bestuur, asook twee aanklagte van strafbare manslag.
* Hierdie berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.


















