Misdaad

Sakeman doodgeskiet ná padwoede losbars

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Sakeman van Steynsvlei in Muldersdrift is Vrydagmiddag koelbloedig doodgeskiet in 'n oënskynlike padwoede-voorval.

Ian Woolley (40) het in sy Range Rover gery en die verdagte in 'n Toyota Yaris, toe hulle glo omstreeks 14:00 stry gekry het in Hendrik Potgieterweg, 'n besige pad aan die Wes-Rand.

Ian Woolley (regs) by sy vennoot, Andre Kowalski. Foto: Facebook
Ian Woolley (regs) by sy vennoot, Andre Kowalski. Foto: Facebook

Een motor het glo die ander agternagesit voordat albei by Handicapweg in Honeydew van die pad af getrek het, sê 'n ingeligte wat in die gebied werk en gevra het om naamloos te bly.

"Die man in die Yaris het uitgeklim en die man in die Range Rover trompop geskiet voordat hy teruggeklim het in sy kar en weggery het."

'n Vrou het glo agter die Yaris aangery tot in Zandspruit waar sy hom uit sig verloor het. Die verdagte het hom later aan die polisie oorgegee en sal na verwagting môre in die landdroshof in Roodepoort verskyn op aanklag van moord.

Die man in die Yaris het glo iets gedoen wat die man in die Range Rover geïrriteer het, sê die bron.

Die owerhede stel nog ondersoek in na presies wat gebeur het.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê die vuurwapen waarmee Woolley geskiet is, is gelisensieer.

Sy sê die uitslag van die ondersoek hang af van forensiese ontleding en ooggetuieverslae.

Die polisie versoek enigiemand met inligting om na vore te kom.

Vir iemand wat nie 'n gewelddadige mens was nie, om só te sterf . . .

"Die voorval, hoewel geïsoleerd, beklemtoon die onvoorspelbare aard van padwoede en die verwoestende gevolge daarvan," sê Nevhuhulwi.

Zillah Wehinger, wat tot onlangs die wyksraadslid was van Woolley se buurt en hom reeds verskeie jare ken, sê hy was 'n goedhartige, vrygewige mens.

"Hy was daagliks by sy sake-onderneming en was altyd bereid om te help."

Wehinger beskryf sy dood as onverwags en 'n tragiese verlies.

"Hy was 'n steunpilaar in die gemeenskap."

Sy sê die geweld wat deesdae voorkom, is skokkend.

"Vir iemand wat nie 'n gewelddadige mens was nie, om só te sterf . . ."

Woolley het saam met 'n vennoot, Andre Kowalski, twee ondernemings - EcoFoam Edms. Bpk. en AfricanBoxWorks Edms. Bpk. - besit.

Op Woolley se LinkedIn-profiel het hy geskryf hy het AfricanBoxWorks, wat spesialiseer in die vervaardiging van mediese koelbokse en verpakkingsmateriaal vir alle soorte mediese versendings, in 2012 begin.

In 2014 het hulle EcoFoam begin om te help met die isolasie vir bou- en behuisingsontwikkelings en om só te probeer help om energieverbruik te verminder.

Jana Smit

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM